Foto’s: Sielerus in Ramsgate se stokou seehuis

Die Whaleback Cottage in Ramsgate. (Foto verskaf)

Terwyl die herfsblare Gauteng se strate aan die einde van April versier, verruil ʼn groep vriende die koue wind vir son, see en geskiedenis. Ons bestemming: Ramsgate se oudste vakansiehuis.

Dis ʼn jarelange droom wat eindelik realiseer. Vanuit verskillende noordelike woonbuurte sak vier gesinne af suidkus toe. Party vlieg, party slaap oor op pad, ander trek swaar aan sleepwaens vol kinderfietsies en droë vuurmaakhout. Maar wanneer ons mekaar daar groet, met die Natalse son op ons velle en die branders wat op ons voorstoep breek, vervaag die Gautengse harwar vir vyf volle dae.

Die stokou klipgebou verwelkom ons met sy ses sonnige slaapkamers en lieflike leefvertrekke. Ek verkyk my aan die klipmure, houtvloere, houtafwerkings en die swaar ou meubels en outentieke versierings in en om die huis. Nadat elkeen ʼn lêplek gedeps het kies ons koers strand toe, skaars ʼn klipgooi ver.

Whaleback Cottage vanaf Little Billy Bay. (Foto verskaf)

Op pad soontoe staan ek eers stil by die ʼn bordjie wat verklaar dat dié huis, genaamd Whaleback Cottage, die oudste vakansiehuis in Ramsgate is. Die huis kry sy naam van die reuserots wat reg voor die eiendom staan en soos die rug van ʼn walvis lyk wat in die water dobber. Dit is ʼn gewilde visvangplek met laagwater, lees ek.

Die huis is blykbaar in 1916 deur Italiaanse krygsgevangenes gebou. Die bordjie verkondig ook dat Alan Paton sy bekende boek, Cry the Beloved Country, gedurende die 1940’s hier voltooi het. Dié nuus het my destyds, toe ons die vakansie bespreek het, opgewonde na ons naaste tweedehandse boekwinkel gedryf sodat ek die boek kon lees voordat ons kom vakansie hou. Ek wou my in die skrywer se skoene plaas wanneer ek tuisgaan waar hy so ʼn grootse werk geskryf het. Helaas weerspreek die boek se voorwoord dié bewering – hy dit in Amerika voltooi het en nie aan Suid-Afrika se suidkus nie. My teleurstelling was groot, maar ek is tog bly dat ek die (soms omstrede) boek gelees het.

Vanaf Whaleback se stoep kyk mens uit oor Little Billy Bay. (Foto verskaf)

Die huis is skaars ʼn minuut se stap van die strand af. Wanneer ons by die lae tuinhekkie uitbondel en die paadjie na regs volg, kom ons op Little Billy Bay uit. Draai jy links neem die paadjie jou na Ramsgate se hoofstrand, met sy gewilde Waffle House- en Blue Lagoon-restaurante.

Hoewel my soeke na Ramsgate se geskiedenis ongelukkig min opgelewer het, het ek wel uitgevind dat een van die vroegste opgetekende besoekers aan dié kusdorp ene kaptein Crompton was. Hy het die kus in 1895 bereik en die nedersetting Fascadale genoem, na ʼn skip met dieselfde naam wat daar gesink het. Die skip het suiker van Lisabon na Mauritius vervoer. Hier het hy ʼn winkel en ʼn poskantoor in Fascadalestraat, wat vandag nog bestaan, oopgemaak.

Moontlik die bekendste vroeë inwoner was ʼn man genaamd Paul Buck, wat aan die suidelike oewer van die iBilanhlolorivier gaan woon het, net oorkant vandag se Waffle House. Buck word as ʼn romantiese karakter beskryf. Hy het geskryf, geverf, tropiese visse gevang en viole gemaak. Hy was blykbaar die eerste mens wat die rivier die “Blue Lagoon” genoem het.

Daar is niks lekkerder as skemer met ‘n glasie rooiwyn nie. (Foto verskaf)

Ramsgate se oorspronklike Zoeloe-inwoners het later plek gemaak vir al hoe meer Engelse, Duitse, Nederlandse en Indiese mense. Wat as ʼn klein landbou- en handelsgemeenskap begin het, het teen die 1930’s tot ʼn gewilde vakansieoord vir binnelanders wat na sonskyn en see gesmag het, ontwikkel.

Soos ons, wat ons skoene meer as ʼn eeu nadat dit gebou is op Whaleback Cottage se stoep kom uitskop het. Wat bedags balspeletjies saam met die kinders op die omheinde grasperk rondom die huis kon speel en saans ons bordspeletjies op die groot houttafel in die eetkamer kon uitpak. Hoewel daar heelwat aan die huis aangebou en verbeter is oor die jare heen, het dit steeds ʼn ouwêreldse gevoel. En al het Paton nie sy boek hier geskryf nie, moedig die outydse karakter van alles wat ons omring sommer diep denke, diep gesprekke en salige sielerus aan.

Terwyl ek wonder watter probleme al deur honderde vakansiegangers oor meer as honderd jaar hier uitgepluis en opgelos is, ruil ons klomp ook kort voor lank vars nuus, idees, planne en drome uit op die gerusstellende maat van die golwe in die agtergrond. Want by ʼn plek soos hierdie, met sy stoep wat uitkyk oor see en strand, kan ʼn mens kwalik anders as om introspeksie te doen. Met die sekerheid van koesterende klipmure en die ou-ou see, kan ʼn mens die verlede in oënskou neem en vir die toekoms beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.