Foto’s: Skattige gr. 1’s se eerste skooldag

Maroela Media het by die Laerskool Rooihuiskraal gaan kuier om te hoor wat die gr. 1’s van hul eerste skooldag sê. (Foto: Maroela Media)

Die Laerskool Rooihuiskraal het Woensdagoggend behoorlik soos ʼn rooimiernes gewemel van honderde haasbekkies in hul rooi skoolkleertjies wat vir hul eerste skooldag in gr. 1 aangemeld het.

Sowat 300 kaalvoet seuntjies en dogtertjies met skattige boksterte het die 10 gr. 1-klassies by dié gesogte laerskool in Centurion behoorlik volgesit. Ilse-Lee Cory, graadhoof van die gr. 1’s, kon skaars haar eie opgewondenheid beteuel.

“Julle is almal so pragtig en braaf!” het Cory die kinders aangespoor terwyl sy vir hulle gewys het waar om hul skooltasse en ander skryfbehoeftes te bêre.

“Omdat baie kinders reeds gr. R by ons voltooi het, is hulle nie meer so bang en skugter soos voorheen nie. Hulle huil nie so vreeslik as hulle vir mamma en pappa totsiens moet sê nie,” het Cory, wat al sowat 30 jaar in die onderwys is, verduidelik.

Maroela Media het by die Laerskool Rooihuiskraal gaan kuier om te hoor wat die gr. 1’s van hul eerste skooldag sê. (Foto: Maroela Media)

“Die kinders kom in en doen hul ding, want hulle is baie meer selfstandig en onafhanklik.”

Elke onderwyseres van die 10 onderskeie klasse, soos onder meer die Hondjieklas, die Jakkalsieklas en die Blinkoog-Uiltjieklas, het moeite gedoen om seker te maak die mure en leeshoekies is kleurryk versier met plakkate en boekies vir die kinders se leesgenot.

“Vandag kleur hulle net eers prentjies in totdat hulle rustig is en gewoond raak aan die omgewing. Daarna pak hulle al hul skryfbehoeftes en goedjies uit in die rakkies wat spesiaal met elkeen se naam gemerk is. Ons neem hulle ook later om weer die skoolterrein te verken en 12:00 eindig die eerste dag,” het Cory gesê.

Volgens Carien Fölscher, adjunkhoof van Laerskool Rooihuiskraal, verg dit vergadering op vergadering om voor te berei vir die nuwe gr. 1’s. “Almal moet op dieselfde golflengte wees, want ons is 125 personeellede. Nuwe gr. R- en gr. 1-oggend is nie net vir hulle nie, die hele skool is daarby betrokke.”

Maroela Media het by die Laerskool Rooihuiskraal gaan kuier om te hoor wat die gr. 1’s van hul eerste skooldag sê. (Foto: Maroela Media)

Sy het verduidelik die jongspan het Dinsdagoggend reeds vir die eerste keer skool toe gekom om hul nuwe juffrouens te ontmoet en vertroud te raak met die omgewing.

“Ons het ook einde verlede jaar reeds hul klasindelings vir hulle aangestuur, sodat hulle weet na watter klas om te gaan. So, gister het hulle met hul nuwe skoolkleertjies skool toe gekom, die juffrou ontmoet en ʼn geskenkie by haar gekry en weer huis toe gegaan. Vanoggend is dit dus vir hulle baie makliker.”

Sy het gesê die gr. 1’s begin eers volgende week met ʼn formele akademiese program. “Hierdie week kom hulle elke dag 12:00 uit, want die kinders is maar moeg ná die vakansie,” lag sy.

“Al word hulle in gr. R reeds baie goed voorberei, moet die aanpassing net eers so bietjie oorbrug word en gr. 1 is baie anders as gr. R in terme van inspanning. Hulle organiseer hulself dié week net eers in die klas en die juffrou laat hulle tuis voel.”

Maroela Media het by die Laerskool Rooihuiskraal gaan kuier om te hoor wat die gr. 1’s van hul eerste skooldag sê. (Foto: Maroela Media)

Die kleintjies begin ook vandeesweek met atletiekuitdunrondes. “Sommer ook in skooltyd – hulle gaan uit en hardloop bietjie buite rond, net om hulle uit die klas te kry ook,” het Fölscher gesê.

“Daar is geen ander graad wat so bevredigend is vir die onderwysers soos gr. 1 nie. Hulle kan die vordering veel meer as in enige ander graad sien. Die kinders kom aan die begin van die jaar in en kan nie lees of skryf nie, want ons leer hulle nie om dit in gr. R te doen nie en daar is goeie redes daarvoor. So, om aan die einde van die jaar die vordering te sien, is só lekker,” het sy bygevoeg.

Hendrik de Beer, een van die nuwe gr. 1’s, het gesê hy is baie opgewonde om sy nuwe juffrou te ontmoet én oor die vooruitsig van sy kosblik tydens pouse. “Ek het ʼn kasie, ʼn piesang, jogurt en koekies.”

“Ek hou baie van skool en van juffrou Ilse-Lee,” het Mieke Vorster gesê. “My gunstelingkleur is pienk,” het sy bygevoeg terwyl sy haar uilprentjie inkleur.

Merique Jacobs was vol selfvertroue omdat sy reeds maats in gr. R gemaak het en het gesê sy sien baie uit na pouse. “Ons mag nie pouse op die rugbyveld speel nie, ons gaan net hier voor die klas speel.

“Ek het vir my ma gevra of ek in juffrou Ilse-Lee se klas kan wees; so, ek is bly,” het sy tevrede bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kornel ·

Well done Rooihuiskraal. Dit was ons beste jaar tot ons meisiekind daar was. Wonderlike skool met die beste maniere en die Hoof en onderwysers is almal fantasties.

Ekke ·

Wat n wonderlike skool. Kan nie vir beter vra nie. Mnr Ferdi en personeel….HOU SO AAN.

Wondermaarnet ·

Tot die ANC of EFF die fotos sien dan is die gort gaar. Voorspoed aan al hierdie pragtige kinders met hul skoolloopbaan.

Ina Jacobs ·

Dis interessant… ek het nou presies soos jy gedink. Daardie skool gaan dalk besoek word.
Mense moet verder dink voor hulle dieselfde tipe foto’s plaas. Daar is tog seker meer verskeidenheid kiddies daar?

Jax ·

So trots om te kan sê ek was ook n Rooimier-mamma. My eerste Laerskool Rooihuiskraal kind word binnekort 30. Ek het n baie spesiale plekkie vir hierdie wonderlike laerskool! Mooi so Ferdi en personeel!

Wenner ·

Die kindertjies lyk soooo fraai met hul rooi skoolkleertjies!

Landi ·

Wondermaarnet…hahahha ek het nogal aan dieselfde gedink toe ek die spierwit fotos sien. Jy sal sien binnekort maak die ANC en EFF amok by die skool omdat die kinders oorheersend blank is.

PRAGTIG ·

Nou nou besoek die LUR die skool omdat daar net fotos van blanke kindertjies is. Julle gaan beskuldig word van rassisme.

watvandieres ·

Wat van die ander Laerskole in Centurion buiten Rooihuiskraal. Bakenkop na my mening baie baie beter as enige ander een!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.