[Foto’s] Skattige graad 1’s vertel oor eerste skooldag

Jannes het 'n lekker verrassing in sy kosblik gekry. Foto: Adéle Changuion

Jannes het ‘n lekker verrassing in sy kosblik gekry. Foto: Adéle Changuion

“Ek moes gisteraand al agtuur gaan slaap het. Ek mag nie eers televisie gekyk het nie.”

Dít was die woorde van ʼn gekwelde Connor Rossouw, wat Woensdagoggend graad 1 by Laerskool Rooihuiskraal in Pretoria begin het. “Maar dis oukei, want my pa sê ek moet skool toe gaan as ek eendag ʼn krieketspeler wil wees.”

Die laerskole Rooihuiskraal, Hennopspark en Wierdapark in Pretoria het Woensdagoggend omtrent gewemel toe skole vanoggend weer begin het.

“Dis ʼn ongelooflike groot oomblik. Baie van die kindertjies is ongelooflik emosioneel en ander kan nie vir twee minute stilsit nie. Hier heers groot opgewondenheid in die skool,” het Marilese Goldberg, ʼn onderwyser by Laerskool Rooihuiskraal, gesê.

Inskrywings vir graad een-leerders was vanjaar oorweldigend. Laerskool Rooihuiskraal het tien graad een klasse met ongeveer 340 leerders, Laerskool Wierda Park het agt klasse met ongeveer 250 leerders en Laerskool Hennopspark het 9 klasse met ongeveer 300 kinders.

Rayandi van der Westhuizen, ʼn leerling by laerskool Rooihuiskraal, het mooi verduidelik die skuif van graad-R na graad een is ʼn aanpassing vir die kinders. “Ek is baie opgewonde om in graad een te wees, maar ek raak net bietjie honger om te wag vir pouse voordat ek kan eet,” het sy gesê.

Die meeste van dié jongspan is egter nie bang om die nuwe skooljaar aan te pak nie. “Ek doen van graad-R af karate. Ek sal maklik iemand boks, maar gelukkig is my juffrou vriendelik en sal dit nie nodig wees nie,” het Thomas Müller van Laerskool Rooihuiskraal gesê.

Selfs vir baie ouers is die oomblik net te groot wanneer hulle kinders graad een toe gaan. “Dis vir baie ouers ʼn emosionele ervaring, veral as dit jou eerste kind is,” het ʼn ma gesê wat haar seuntjie probeer troos het.

Onderwysers probeer kinders op hul gemak stel deur oulike name vir die klasse te gee, soos rooimiere, kameelperde, skape en vlinders. “Ons sit selfs op paddastoele in die klas,” het Sasha Roux gesê.

Die meeste kinders het reeds planne vir hul skoolloopbane. “Vanjaar gaan ek netbal en tennis speel, maar eendag as ek groot is gaan ek ʼn professionele ysskaatser wees. Ek en my maatjie in die uiltjie-klas gaan dit saam doen,” het ʼn opgewonde Karla Thiart, ʼn leerling aan Laerskool Wierdapark, vertel.

Dié met boeties en sussies in die skool wil niks weet van nuwe maats nie. “My boetie is in graad drie, ek gaan net saam hom speel in pouse,” het Ziaan Slabbert, ook ʼn leerder by Laerskool Wierdapark, gesê.

Leiers kom ook reeds uit die jongspan te voorskyn. “Almal moet in ʼn ry op die stoep sit en eet. Juffrou het so gesê. Ek moet kyk dat niemand raas nie,” het Tyla Pierce, ʼn leerder aan Laerskool Hennopspark, gesê.

“Daar is nie ʼn beter skooljaar as graad een nie. Die kinders is net ʼn absolute vreugde,” het Marilese Golberg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.