Foto’s: Só vorder bouwerk aan Sol-Tech-kampus

Paul van Deventer van Sol-Tech het Woensdag saam met die beeldhouer Jacques Müller klippe op die terrein gaan uitsoek wat Müller sal gebruik om ʼn besonderse standbeeld vir die kampus te skep. (Foto: Sol-Tech se Facebook-blad.)

Bouwerk aan Sol-Tech se nuwe kampus in Monumentpark, Pretoria, vorder nou fluks nadat die bouers weer in die tweede week van Junie kon voortgaan met die bouery nadat die Covid-19-inperkingsmaatreëls verder verslap is.

Paul van Deventer, besturende direkteur van dié Afrikaanse beroepsopleidingskollege, het Woensdag saam met die beeldhouer Jacques Müller klippe op die terrein gaan uitsoek wat Müller sal gebruik om ʼn besonderse standbeeld vir die kampus te skep.

“Die bouers is vinnig besig om tyd in te haal en ons behoort steeds teen Desember op die nuwe kampus te kan intrek. Die grootste bouwerk en konstruksie is amper klaar waarna die fynere afwerkings en binnewerk aan die gebou op die kampus kan begin,” het Van Deventer aan Maroela Media gesê.

Die werk om die pad te teer wat die kampus meer toegangklik sal maak is ook amper reeds voltooi.

Van Deventer meen alles vorder goed sodat die eerste student op 1 Februarie 2021 met beroepsgerigte opleiding op dié kampus van wêreldgehalte kan afskop.

Maroela Media het in September berig oor die sooispit-plegtigheid waarmee die bouwerk ten bedrae van nagenoeg R300 miljoen begin is; ʼn droom wat al langer as 12 jaar bestaan. Dié bouwerk word ook heeltemal deur die gemeenskap se bydraes aan die Solidariteit Bewegings se boufonds gefinansier.

Die kampus sal dit vir Sol-Tech moontlik maak om tot 22:00 klasse aan te bied en die kursusaanbod met ʼn verskeidenheid van nuwe ambagte en meer beroepsgerigte opleiding uit te brei.

Daar is verlede week weer praktiese klasse vir groepe studente by Sol-Tech aangebied met veiligheid- en gesondheidsregulasies wat streng nagekom is. (Foto: Sol-Tech se Facebook-blad.)

Van Deventer sê Sol-Tech het wel tydens die afsonderingstyd voortgegaan om aanlyn klasse aan te bied, hoewel aanlyn opleiding van die praktiese deel ʼn uitdaging was.

“Ons studente het egter baie hard gewerk in dié tyd en baanbrekerswerk is gedoen met die oog op toekomstige aanlyn onderrig.”

Sol-Tech het weer op 10 Junie met behulp van die nodige personeel op sy huidige kampus in die weste van Pretoria begin werk. Daar is verlede week weer praktiese klasse vir groepe studente aangebied met veiligheid- en gesondheidsregulasies wat streng nagekom is. “Die studente is baie positief en gretig om hulle werk in te haal.”

Van Deventer het bygevoeg die opgewondenheid oor die nuwe kampus is groot onder Sol-Tech se personeel en studente.

“Hierdie kampus is baie meer as ʼn nuwe, groter en kampus van wêreldgehalte. Dit is ʼn baken van hoop en wys dat niks ons kan onderkry nie. In moeilike tye is dit juis belangrik om te bou om sterker aan die ander kant uit te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Michael 1

Dit is wonderlik, net jammer dit kon nie gebou word in n land wat die huidige benaadeeldes hul eie kon noem nie.