Foto’s: Sylvester die leeu nou ʼn trotse pa

Sylvester en Angel se welpies

Suid-Afrika se bekendste leeu, Sylvester, en sy leeuwyfie, Angel, spog met twee welpies.

Sylvester en Angel se welpies is Maandag vir die eerste keer gesien toe hulle dit in die oopte by die Kuzuko Lodge-wildreservaat in die groter Addo-Olifantpark gewaag het.

Gerhard de Lange, reservaatbestuurder, het gesê die welpies is vermoedelik in Maart verwek en tussen 15 en 20 Junie gebore.

“Ons het twee leeuwyfies [Angel en Nicka] in die reservaat en die twee leeumannetjies [Sylvester en Fielies] het ʼn hegte band met hulle gevorm. Albei leeuwyfies was op voorbehoedmiddels, maar Angel het tog twee welpies verwelkom.”

Sylvester

Sylvester het die land se bekendste leeu geraak nadat hy twee keer uit die Karoo Nasionale Park ontsnap en meer as 370 km ver op vrye voet gestap het. Sylvester se toekoms was onseker, maar hy is in Mei 2016 uiteindelik by Kuzuko hervestig .

“Sylvester is al meer as twee jaar hier by Kuzuko en het ʼn hegte mannetjieleeukoalisie met Fielies gevorm. Sylvester is nou die trotse pa van twee leeuwelpies en hy Angel het ons die ware krag van Moeder Natuur gewys en alle verwagtinge oortref deur weer 100% in die natuur te integreer.”

Angel en haar leeususter, Nicka, is wees gelaat toe hulle net sowat drie maande oud was. De Lange en sy span het hulle geleer om in die natuur aan te pas sonder om hulle mak te maak óf in aanhouding te sit.

Angel en haar twee welpies

Volgens De Lange is die welpies in goeie gesondheid. “Angel het al die tekens getoon van welpies wat aan haar suig, maar aangesien leeuwyfies hul welpies vir ʼn lang tyd wegsteek terwyl hulle nog baie jonk is, kon ons nie daarin slaag om hulle vroeër te sien nie.”

Angel en die twee welpies het dit uiteindelik Maandag in die oopte gewaag. “Sylvester en Angel is ʼn ongelooflike bewaringsverhaal. Sylvester is tydens sy groot ontsnapping amper van kant gemaak aangesien mense nie verstaan het dat hy sy eie grondgebied en ʼn koalisievennoot nodig gehad het nie. Nou is hy en Angel, wat eintlik nie moes leef nie, ouers.”

Sylvester en Fielies

Volgens De Lange het Sylvester ook al ʼn paar keer vir sy welpies gaan kuier. “Ons is seker dat Sylvester en Fielies vir hulle die beskerming sal bied wat hulle benodig. Ons kan ook bevestig dat die welpies hul pa se aantreklike voorkoms gekry het en dat hulle fiks en gesond is.”

De Lange het sy dank uitgespreek aan SANParke wat hom die geleentheid gegee het om ʼn band met die vier leeus te vorm. “Sylvester verras my altyd. Sedert ek die eerste keer van hom gehoor het tydens sy groot ontsnapping, tot vandag waar hy heeltemal by Kuzuko geïntegreer is, is hy ʼn lewende bewys dat bewaring, indien dit reg gedoen word, altyd die beste opsie is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

LIEFDE ·

So mooi as daar ‘n happy einde is vir ‘n hartseer begin

Lucy ·

Wat n mooi storie! Ek kry eintlik trane in my oe.
Wens dit wil n voorbeeld wees aan almal. Ons hoef nie alles voor die voet dood te maak nie, dankie dat julle die pragtige diere n tweede kans gegee het. En natuurlik… Baie geluk Sylverster en Angel!

Dankie Tog ·

Ek is dankbaar dat die wat hom vankant wou maak tot hulle sinne gekom het!!!!

Nettie ·

‘n Leeu wat hom nie deur gewone óf geëlektrifiseerde drade laat ontstig het nie, sal hom ook nie laat afsit deur voorbehoedmiddels nie, watwou! Geluk Sylvester! Hoop daai is die eerste van ‘n hele paar welpies! Met leeus wat deesdae “uitgevoer” word na China en verder onder ‘skoot’ kom van bygelowiges wat glo dat die koppe/velle/pote vir hulle magiese kragte sal gee, het ons elke aanwas wat moontlik is, nodig.

Didi ·

So lekker om ‘n ‘feel good’ storie vir ‘n slag te kan lees.

Hannelie ·

So mooi. Maar kan Maroela Media sê wat die geslag van die welpies is? Of kon niemand dit nog naby genoeg waag nie?

Johnnie ·

Sylvester jou ou doring jy het toe almal verkeerd bewys. Mooi man.

A ·

Ek het gehoor op RSG die welpies se name is Gamka en Kambro.
Ek is ook so bly dat hierdie ‘n goeie storie is. Ons het dit nodig.

Erich ·

Ek is ook net so dankbaar vir die goeie en mooi storie. Ons natuur is onder sulke groot druk dat dit n mens laat goed voel as daar darem ook omgesien word na ons Fauna en Flora
Goed gedaan almal wat betrokke was

Anel ·

Dis baie lekker om so iets te lees Maroela! Lekker positiewe terugvoer in ons negatiewe land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.