Foto’s: Thuli Madonsela se werk vereer met ʼn roos

Prof. Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, saam met die roos wat na haar vernoem is op Ludwig’s Roses se roosplaas. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Daar waar blomme blom, daar is hoop – Lady Bird Johnson

Prof. Thuli Madonsela, die voormalige Openbare Beskermer (OB), is Donderdag op ʼn besonderse wyse vir haar werk op die gebied van maatskaplike geregtigheid vereer met ʼn roos wat na haar vernoem is.

Die roos is onthul tydens die opening van Ludwig’s Rose Farm se 48ste Lenteroosfees wat van 4 tot 6 Oktober op die familie se roosplaas noord van die Jakarandastad plaasvind.

Volgens Anja Taschner van Ludwig’s Roses, het hulle al heelwat versoeke ontvang om ʼn roos na Madonsela te vernoem, maar die personeel van die roosplaas kon dit eers doen nadat sy uit haar amp as OB getree het en as professor in die regte by die Universiteit Stellenbosch aangestel is.

Madonsela kon self haar roos kies en sy het in minder as 10 minute besluit op ʼn roos wat massas geurige dieppienk blomme met gloeiende wit buitenste blomblare maak.

“Ek is nou nog nie heeltemal seker of prof. Madonsela die roos gekies het en of dit haar gekies het nie. Ons het haar vooraf in die Paarl ontmoet en ʼn groot ruiker rose in verskillende kleure gegee waaruit sy ʼn roos kon kies.

“My pa, Ludwig, het ook ʼn roos in die ruiker gesit wat ek gedink het perfek by haar sou pas en sy het onmiddellik dié roos uitgekies. Ek het dit nie eers aan haar uitgewys nie,” vertel Taschner.

Madonsela het op haar beurt die span van Ludwig’s Roses bedank vir die erkenning aan haar stigting en die erkenning dat Suid-Afrikaners moet saamwerk om suksesvol te wees.

“Ek dink hierdie roos mag dalk bedrieglik broos lyk, terwyl dit eintlik oor talle eienskappe beskik wat dit besonders sterk maak. Dit is iets wat vrouens en self Suid-Afrika met hierdie roos in gemeen het. Ons misgis onsself dikwels met ons eie innerlike krag.”

Sy het ʼn beroep op elkeen in die gehoor gedoen om saam te werk om Suid-Afrika ʼn beter plek vir almal te maak.

“Hier is sowat 800 verskillende rose op hierdie plaas. Elkeen van hierdie rose is pragtig in hulle eie reg, maar saam is hulle asemrowend. Ek dink ons moet ook besef dat, soos op hierdie plaas, diversiteit ʼn bron van skoonheid en krag is. Dit is ook belangrik om te onthou die siel van die mens het nie ʼn spesifieke kleur nie.”

Madonsela het verder gesê dit is elke Suid-Afrikaner se verantwoordelikheid om te verseker dat die land se demokrasie slaag.

“Aan die hart van hierdie demokrasie staan die oppergesag van die reg en dit beteken niemand is bo die reg verhewe nie. Om reg aan maatskaplike geregtigheid te laat geskied moet ons die voorbeeld van ʼn olifanttrop navolg: niemand mag agterbly nie.”

Madonsela het verder gesê dit is elke een se verantwoordelikheid om te doen wat hulle kan om Suid-Afrika ʼn beter te plek te maak en mekaar verantwoordelik hiervoor te hou.

“As ons pres. Cyril Ramaphosa se nuwe daeraad ʼn werklikheid wil maak, sal ons dit self moet doen. Daar is tans donker wolke wat die daeraad verberg, maar dit beteken nie die dagbreek het verdwyn nie. Afrika kan die vroedvrou van ʼn nuwe en mooier wêreld wees.”

Die Taschners van Ludwig’s Roses doop die roos saam met prof. Thuli Madonsela, wat na haar vernoem is. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Roos met verskeie eienskappe

Die Thuli Madonsela-roos is een van die nuwe Stamina-rose, wat siektebestand en gehard is. Boonop sal dit ook goed aard in enige van die verskillende klimaatstreke van Suid-Afrika. Die roos groei borshoogte en produseer eindelose trosse blomme, wat vinnig gepluk kan word en weer sal uitgroei.

Taschner sê die gloeiende pienk van hierdie roos verpersoonlik vir haar Madonsela se vroulike energie, terwyl die wit weer waarheid simboliseer wat manifesteer in vrede, helderheid en integriteit.

Van elke Thuli Madonsela-roos wat gedurende vanjaar se Lenteroosfees verkoop word, sal ʼn R100 aan die Thuli Madonsela-stigting geskenk word. Dit sluit ook rose in wat aanlyn of by enige van die ander Ludwig’s Roses-afsetpunte verkoop word.

Geld wat vir die ThuMa-stigting ingesamel word, help onder meer studente om hulle studies af te betaal.

Die roosskuur van die plaas is ook in ʼn roos-ekspo met die titel “Taal van kleur” vir die fees omskep. In die skuur word besoekers met ʼn rooslabirint begroet waar ʼn duisend blomme gebruik is om 200 verskillende kleursones af te baken, waar al die aspekte van kleur soos die sielkunde van kleur, asook kleurterapie ondersoek word. Dit is ook hier waar daar gekyk word na kleur se gebruik in binnenshuise- en landskapruimtes.

Blomme-installasies laat die kollig op die verskeidenheid van roosblomme se vorm val.

Die skuur is die plek waar besoekers ʼn wynproe met rose kan geniet, terwyl daar ʼn paar interaktiewe werkswinkels aangebied word waar ʼn mens kan leer hoe om met rose kleur te gee.

Toegang tot die roosplaas se buiteluguitstallings en roosveldtoere tydens die Lenteroosfees is gratis, maar kaartjies vir die roos-ekspo kan vooraf by Ludwigroses.co.za bespreek of by die deur gekoop word. Die volledige program vir die fees is ook by op Ludwigroses.co.za beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Devil ·

Dat iemand so ver kon val soos sy…..bly iemand dink nog iets van haar!

D ·

Devil, wonder of jy weet wie hierdie is??
Baie geluk Thuli Madonsela…jy verdien dit deur en deur! Dankie vir al jou pogings om die wanpraktyke in ons land aan die lig te bring. Het so gehoop dat jou termyn destyds langer kon duur.

HB ·

Dankie vir die mooi berig.
Dit is voorwaar ‘n perfekte, lieflike roos vir ‘n baie besonderse vrou.

Blommie ·

Well Done!
Jy verdien dit, wens soveel meer Suid Afrikaners kan jou voorbeeld volg, Jy het soveel respek een waardes, dat met jou saam in die land ek trots is om n Suid Afrikaner te wees.

KarinB ·

Jy het duidelik iemand anders in gedagte, Devil. Maak seker van jou feite en vra dan om verskoning.

Devill ·

Gaan lees bietjie mooi hoe sy dink en glo.
Gaan kyk ook gerus die podcast met haar en Hellen Zille!

Haar dogter is ‘n GROOT EFF ondersteuner, en Thuli het onlangs vele EFF-tipe uitsprake gamaak, selfs die EFF geluk gewens met hul verjaarsdag.
Hulle van alle dinge bedank…wag vir dit…vir die GOEIE werk wat hulle verrig in ons demokrasie.
Niks gesê van rassis Julius of enige van die ander se rassisties uitsprake nie, liewers ‘n bedanking en die hoop hulle doen voort met hulle “goeie werk”!
Veral oor “White privilege “is sy ook deesdae besig met identiteits politiek.

Nee wat, daai ou vroom gesiggie is net dit, ‘n vroom ou gesiggie.
Agter dit sit iemand met ‘n haat vir witmense, hul kultuur en die sukses wat hulle bereik!

OWO ·

Ek het so paar jaar gelede voor sy bekend was met haar een keer telefonies te doen gehad oor regulasies en as ek haar moet opsom kan ek net sê: Ystervrou.

Wielspore ·

Give that girl a rose…. no… no…. name a rose after that girl.
Sy het goeie werk gedoen en deur haar het ondersoek na staatskaping begin.

Nora-Louise Oosthuizen ·

Wat n mooi, tasbare gebaar van Ludwig’s Roses om n besondere vrou soos Thuli Madosela te vereer !

Isabel ·

Fenominale Vrou!!!! Ek het ook die voorreg gehad om haar een keer te ontmoet. Nog nooit so eerlike en nederige mens ontmoet nie. Thuli For President!!!

Heidi ·

Thuli jy verdien die mooiste roos. Vegter vir reg en geregtigheid en n lady. You go girl!

Doris ·

Thuli Madonsela ek dink jy is net so pragtig soos daardie roos wat jy vashou.Dankie vir die goeie werk wat jy gedoen het toe jy by die OB werksaam was jy sal altyd onthou word as n pragtige vrou wat geglo het regverdigheid.

Gwen ·

Gee my liewer ’n Rina Hugo; ruik verruklik en lyk uitsonderlik!

Spike ·

Devil, jy verwys seker na jouself. Thuli sal nie pres word nie. Sy is te ordentlik.

Linda Taljard ·

n Vrou uit die hoogste rakke. Sy verdien daardie roos!! Sal dadelik een gaan koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.