Foto’s: Trap-trap deur Thongaland

Die strand noord van Cape Vidal is net die plek om met ʼn dikwielfiets te gaan trap; indien jy gelukkig is, mag jy dalk op seeskilpaaie afkom. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Met uitstaande bergfietsroetes, grootwild oral waar jy kyk en somer die grootste deel van die jaar, kan jy gerus maar opsaal en in iSimangaliso-vleilandpark in KwaZulu-Natal gaan kuier. Dit naam beteken nie verniet die “plek van wonderwerke en verwondering” nie; jy sal dit eerstehands kan ervaar.

Die bestemming

iSimangaliso is net die plek waarheen jy wil ontsnap wanneer die binnelandse winter se byt te erg raak. Jip, hier op die olifantkus skyn die son vir maklik elf maande van die jaar, met strande, vleie, mere, riviermondings, duinwoude, grasveldvlaktes en bergpieke wat net wag om verken te word.

Dié uitgestrekte vleilandpark is in 1999 as Suid-Afrika se eerste Wêrelderfenisgebied verklaar, en die betekenis van die naam – plek van wonderwerke en verwondering – is uiters gepas. iSimangaliso strek 230 km van noord na suid, met vier Ramsar-vleilande, Afrika se grootste estuariese-stelsel en ʼn yslike mariene bewaringsgebied.

Maak ʼn plan, want hierdie is ʼn wêreldklas buitelugparadys, maar maak seker jy neem jou fiets saam, want hier is voorwaar eindelose roetes om te verken. Besoek www.isimangaliso.com.

Hierdie vleilandpark bied dosyne onderwateravonture, en die snorkel en skuba by Kosibaai en Sodwana is onverbeterlik. (Foto: Jacques Marais)

Die wedren

Tot onlangs het die park elke jaar in September ʼn asemrowende bergfietswedren aangebied, maar is vir tyd en wyl as gevolg van die Covid-19-pandemie gestaak. Deelnemers het vanaf die Lebomboberge tot by die see getrap, en ons hou duim vas dat hierdie vierdaagse fietsrit deur sewe van Suid-Afrika se ekologiese sones (en tussendeur olifante, buffels en luiperds) binnekort weer sal plaasvind. Besoek www.isimangaliso-mtb.co.za.

Phinda en Mkuze bied begeleide bergfietstoere aan waar jy saam met ʼn gids tot naby aan van die grootwild hier kan trap. (Foto: Jacques Marais)

Die roete

My gunstelingdeel van die park bly maar die smaraggroen en subtropiese oostelike oewer met die Dukuduku-hek wat tot ʼn ongeskonde natuurparadys toegang bied. Die troefkaart hier is die bergfiets-, stap- en drafroetes buitekant die gevaarlike wildsgebied wat jy op jou eie of saam met ʼn gids kan gaan verken.

Permitte kan ook vooraf gereël word indien jy elders in iSimangaliso wil gaan draf, stap of fietsry, maar dit maak dan sin om jou uitstappie te beplan saam met een van die vele plaaslike avontuuroperateurs in die park. Besoek www.thongalandtravel.com of www.shakabarker.co.za vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.