Foto’s: Tweebeenhond kry kunsmatige poot

Eddie met sy kunsmatige poot. (Foto: Verskaf)

In Mei verlede jaar het die lewensvooruitsig nog vaal gelyk vir Eddie, ʼn rondloperhond wat op Groot-Marico in Noordwes in ʼn bedenklike toestand langs ʼn treinspoor gevind is.

Eddie se lewe het aan ʼn draadjie gehang nadat sy regtervoor- en linkeragterpoot só beskadig is deur boosdoeners dat albei dié pote geamputeer moes word.

Hy is deur ʼn vrou wat in die omgewing na weggooidiere omsien by die Avontuur-veeartspraktyk in Zeerust afgelaai en dit het aanvanklik gelyk asof hy dit nie sou maak nie. Dit was egter daar waar Eddie ʼn tweede kans op die lewe gekry het.

Sanlie van den Brink, die praktykbestuurder, vertel Eddie, wat eers na die uitvinder Thomas Edison genoem is en later net Eddie geword het, het “verskriklik sleg gelyk”.

“Hy was erg ondervoed en sy lyf was oortrek met sere en wonde. Ons vermoed hy is in ʼn strik gevang en sy regtervoorpoot was heeltemal afgeruk. Sy linkeragterpoot was ook heeltemal vergruis en ons het besluit om ʼn dubbele amputasie uit te voer om sy lewe te red.”

Eddie. (Foto: Verskaf)

Eddie het wonderbaarlik tien dae ná die operasie self begin regop staan en het daarna drie weke se intense rehabilitasie ondergaan. Sy vertel sy en die veearts, Lizahn van den Brink, het in daardie tydperk verlief geraak op Eddie en hy woon sedertdien saam met die egpaar en hul vier ander honde.

“Hy was aanvanklik erg verskrik en wou ons ná die operasie byt as ons sy verbande geruil het. Hy het wel mettertyd besef ons wil hom net help en het verander in ʼn gemaklike, liefdevolle troeteldier.”

Die Van den Brinks het intussen besluit om Eddie, ʼn “behoorlike kruising”, se lewe verder te vergemaklik deur vir hom ʼn kunsmatige voorpoot te laat maak. Van den Brink verduidelik dat hulle net ʼn voorpoot laat maak het omdat honde die meeste van hulle gewig op hul voorlywe dra.

Eddie het Sondag dié nuwe poot ontvang by Animal Care Division, ʼn ortopediese sentrum vir diere in Johannesburg. Antois Ferreira en Casper Steenkamp het die passing en vervaardiging van die poot behartig.

“Eddie kon nie staan net op twee bene nie, maar al gaan dit hoe sukkel-sukkel met die lopery, kan hy darem al staan met die kunsbeen. Ons probeer hom nog leer dat hy maar op dié poot kan trap,” vertel Van den Brink trots.

Sy spog dat Eddie en sy nuwe troeteldiermaats by die huis nou al meer soos boeties is. “Hy was aanvanklik skrikkerig en kwaai, maar hy het nou baie meer gesosialiseerd geraak omdat ons hom ook gereeld saam bring na die praktyk toe. Hy het vinnig geleer en aangepas. ’n Mens kan amper nie dink dit is dieselfde hond ná alles wat hy deurgemaak het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Aangrypend. Mens kan net dankbaar wees vir mense wat soveel omgee.

Melanie ·

Ek wens mense kon erger straf uitdien vir diere mishandeling. Kinders ook. Baie dankie vir die omgee harte, en Eddie…jy is pragtig!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.