Foto’s: Valskermtroepe land voor monument

Geskiedenis is gemaak toe twee militêre veterane Sondag vir die eerste keer met hul valskerms voor die Voortrekkermonument geland het. (Foto: Verskaf)

Geskiedenis is gemaak toe twee militêre veterane Sondag vir die eerste keer met hul valskerms voor die Voortrekkermonument geland het.

Lt.kol. Laurel Thatcher en maj. Corné Myburg het op “P-hour”, soos wat dié parabatsoldate dit noem, om 09:50 op 27 Februarie uit ’n Cessna-vliegtuig gespring wat bokant die monument gedraai het.

Die veterane‑organisasie vir valskermsoldate het ook ’n gedenkdiens gehou vir hul 44 makkers wat tussen 1975 en 1988 aan diens dood is.

Thatcher het spottenderwys gesê dit is nou wraggies ’n baie klein LZ (landing zone) waar ʼn mens moet kom land.

“Toe ek hoor hulle wil hier land en ek sien hoe klein die area is, kon ek net een man vertrou om hier te kom land en dit is majoor Myburg.

“Daar is al vêr onder [op die terrein] geland jare terug toe die gebied nog oop was, maar dit is die heel eerste keer wat valskermspringers reg voor die monument kom land het. Dit was werklik ’n eer vir ons om hier te kon land,” het Thatcher gesê.

(Foto: Verskaf)

Van die veterane het Thatcher en Myburg gelukgewens met ’n wonderlike sprong.

“Dit sit regtig nie in enige man se broek om in so ’n klein area te kom land nie, en dit nogal op teer, ek hoop julle het julle enkels gegym,” het die veterane geskerts.

Lt.kol. Laurel Thatcher en maj. Corné Myburg het voor die Voortrekkermonument in Pretoria geland. (Foto: Verskaf)

Na die sprong is die gedenkdiens vir hul makkers deur lt.kol. Ronnie Claassen, wat een van twee oorlewende stigterslede van 1 Valskermbataljon is, gelei.

“Van 1961 en 1994 is daar tussen 12 000 en 15 000 valskermspringers in die weermag opgelei. Om te dink tussen 1975 en 1988 was daar by die 80 operasies. Daar het ongelukkig 44 manne in aksie gesterf, maar dit wys ook op die ongelooflike opleiding wat daar was, want ons kon baie meer manne verloor het,” het Claassen gesê.

Die 13 parabats wat in 2013 in die Slag van Bangui in die Sentraal‑Afrikaanse Republiek gesterf het, is ook tydens die gedenkdiens gehuldig.

Verskeie kranse is tydens die gedenkdiens vir troepe wat hul lewens verloor het, gelê.

Lede Parabat Veterane Organisasie Sondag by die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mallie ·

Toe was dit nog n weermag waarop elke Suid Afrikaner trots kon wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.