[Foto’s] ‘Verlamde’ rugbyspeler dans met sy bruid

Heinrich en Chanel Terblanche op hul troudag (Foto: Verskaf)

Heinrich en Chanel Terblanche op hul troudag (Foto: Verskaf)

Die son het skaars oor George gesak toe die hemelsluise in al hul glorie oopgegaan het. Die lang, én geduldige, wag was verby: Dit was byna twee jaar nadat Heinrich Terblanche (26) sy nek in ʼn rugbywestryd beseer en met elke greintjie van sy bestaan baklei het om weer te kan loop. En hy hét, want daardie dag het hy aan die einde van die kansel vir sy bruid staan en wag.

Dit was asof die reën ʼn simbool was, vertel sy vrou, Chanel Terblanche (née Supra). Dié reën was ʼn teken dat al die swaarkry en die moeilike pad van die verlede nou agter hulle is. Dit was ʼn bewys dat alles weggewas word en dat hulle nou sáám in die huwelik ʼn nuwe toekoms kan skryf.

Terblanche, ook bekend as Ollie, is in Januarie 2015 verlam gelaat ná hy as stut vir die SWD Arende-vyftiental in ʼn kragmeting teen die Evergreens uitgedraf het. Hy het sy nek beseer, en was van sy nek af ondertoe verlam.

Maar dit is sy veggees, geloof, lewenslus en positiwiteit om weer te kan loop wat sy verhaal besonders maak.

In Julie dieselfde jaar kon hy weer regop staan en daarin slaag om enkele treë te gee.

Toe kom nóg goeie nuus: Die paartjie het in Februarie 2016 gehoor hulle is die wenners van Monte De Dios se DROOMtroue-kompetisie. Dié troue, ter waarde van R300 000, het alles ingesluit van die onthaalplek tot die trourok.

Heinrich en Chanel Terblanche op hul troudag (Foto: Verskaf)

Heinrich en Chanel Terblanche op hul troudag (Foto: Verskaf)

Daarna was die plan eenvoudig: Hulle sal eers voor daardie kansel staan wanneer hy die rolstoel eenkant toe kan skuif en regop langs sy vrou staan.

Op 7 Januarie is die egpaar deur Terblanche se broer in die huwelik bevestig en kon hy presies dit doen. En selfs meer as dit, hy kon sy vrou met behulp van ʼn kruk sy vergesel in hul eerste dans.

“Hy moes nou wel met krukke op die dansbaan kom, maar dit was wonderlik,” vertel Supra, ʼn onderwyseres van George. “Ons het die dansbaan op maat van Riana Nel se liedjie “Dans” geopen. Dié lirieke het vasgevang hoe ons voel oor mekaar. Dit was die oomblik waarvoor ons al twee jaar wag.”

Dit was die eerste keer in minstens twee jaar wat sy weer vas gedans het, want sý het ook ʼn belofte gemaak: Die eerste man met wie sy so sal dans ná Ollie se besering, sal hý self wees. “Dit was só emosioneel; ons was net ongelooflik gelukkig. Ons is steeds. Die Here het mooi na ons gekyk en ons is so dankbaar dat ons toe eindelik kon trou.”

Heinrich en Chanel Terblanche op hul troudag (Foto: Verskaf)

Heinrich en Chanel Terblanche op hul troudag (Foto: Verskaf)

Terblanche vlieg binnekort na Nelspruit om sy tweede ronde stamselbehandeling te ontvang. Die eerste van dié behandeling kon sy maagspiere “vervang”, en die tweede is vir balans en om te loop. Dit is egter nog nie die laaste behandeling nie aangesien hulle nog internasionale behandeling in Australië vir sy volle herstel oorweeg.

Intussen beplan hulle ook om einde van dié jaar met hul wittebrood te gaan. “Ons wil sommer met die MFC-skip na die Portugese eilande vaar,” het Chanel gesê. “Maar ons sal dit eers doen wanneer hy nog sterker is, want nes hy wou loop met ons troue, wil hy ook ons wittebrood sonder hindernisse kan geniet. Ons moes twee jaar wag om te trou, ons kan nog ʼn bietjie wag vir die wittebrood.”

Vir meer inligting, besoek ook Ollie’s road to recovery op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ongelooflik mooi ·

Jul storie is ongelooflik mooi & so lekker om te lees met ‘n traan in die oog en glimlag om die mond, dankie vir lig in die tonnel.

louise ·

Dit is wonderlike nuus. To GOD all the glory. Mag dit vir julle n jaar van voorspoed, guns en goedheid wees.

Mariette ·

Ons Dank die Liewe Heer vir die Wonderwerk sover en Spreek Lewe dat daar n Volmaakte Genesing sal plaasvind. Baie Geluk en wees Geseend

Johann cb ·

Wow, wonderlik! Geluk julle, mag julle lewe saam geseënd wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.