[Foto’s] Voortrekkers vier 85 jaar, onthul beeld en trap dinamiese nuwe spore

600 Voortrekkers is die afgelope Saterdag tydens die hoogtepunt van die feesvierringe ingelyf (Foto: Maroela Media)

600 Voortrekkers is die afgelope Saterdag tydens die hoogtepunt van die feesvierringe ingelyf (Foto: Maroela Media)

Die Voortrekkers het die afgelope naweek, as deel van die beweging se 85ste bestaansjaarviering, ʼn spiksplinternuwe beeld op die Voortrekkermonument-terrein onthul, Die Voortrekkers Kook-resepteboek bekendgestel én 600 nuwe Voortrekkers ingelyf.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK en Voortrekker-hoofleier, het gesê dié geleentheid was die hoogtepunt van die bykans twee maande lange verjaarsdagviering van die groep tot dusver.

Die tema vir dié feesjaar is “Trap nuwe Spore”.

Die Voortrekkers het onder meer op 6 en 7 Augustus die grootste trek oor die Drakensberg sedert die Groot Trek 179 jaar gelede onderneem en ook reeds talle Afrikanermonumente, waaronder die Taal- en die Vrouemonument, besoek om “nuwe spore vir die beweging te trap”.

“Voortrekkerspore van ouds is bevestig, maar nuwe spore is ook getrap. Daar word nuwe monumente gebou en terselfdertyd uitgereik na die gemeenskappe om ons. Ons het byeengekom om te sê ons is steeds hier, ons is steeds dinamies, ons bied steeds waarde vir ons kinders en bly daarom relevant,” het Langner gesê.

Benewens die Voortrekkers, is die geleentheid deur bykans 4 000 mense bygewoon (Foto: Facebook)

Benewens die Voortrekkers, is die geleentheid deur bykans 4 000 mense bygewoon (Foto: Facebook)

Dié nuwe beeld wat die afgelope Saterdag onthul is, “Trap nuwe Spore”, is dié van ʼn jong seun en meisie wat hardloop.

Dit is die eerste nuwe beeld sedert die Voortrekkermonument se bestaan, asook die eerste wat aan die jeug erkenning verleen.

Die beeld is ontwerp en gebou deur Duif Keyser, ʼn beeldhouer van Namibië.

Benewens die beeld is 600 nuwe Voortrekkers ook die afgelope naweek ingelyf en Die Voortrekkers Kook bekendgestel.

Langer meen al dié mylpale is ʼn bewys dat die Voortrekker-beweging steeds relevant bly. Die beeld is ook ʼn belangrike toevoeging tot hulle toekoms én geskiedenis, omdat hulle veral daarop fokus om die jeug vir ʼn positiewe toekoms te beywer.

“Dié feesviering wys ons is ʼn relevante beweging omdat ons ʼn ‘behoortruimte’ skep vir ouers en kinders, ʼn plek vir gesinne waar hulle bymekaar kan kom en hul kultuur op ʼn eietydse manier kan vier. Hier kan ons ons taal praat, ons Here aanbid en trots wees op ons verlede, en bly leer uit ons foute en geskiedenis.

'n Spesiale erediens is die afgelope Sondag gehou as deel van die feesvierringe (Foto: Maroela Media)

‘n Spesiale erediens is die afgelope Sondag gehou as deel van die feesvierringe (Foto: Maroela Media)

“Die kinders is uiteraard ons belangrike fokus, en daarom ook die beeld. Die Voortrekkers gee vir dié kinders vaardighede om toegerus te wees vir die toekoms. Ons werk volgens ʼn spanbeginsel, en ons leer hulle om deur middel van ʼn span uitsette en hoogtepunte te bereik wat hulle in die toekoms gaan help,” het hy bygevoeg.

Hy meen ook die toekoms vir dié beweging is skitterblink. “Die Voortrekkers se ledetal het sedert 2014 met 14% gegroei, en alles dui daarop dat die organisasie net meer gaan groei.”

Vir meer inligting oor die Voortrekker-beweging, besoek hul webwerf of Facebook-blad.

Lees meer oor Die Voortrekkers op Maroela Media.

Vir meer inligting oor Die Voortrekkers Kook, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Klaas ·

Dankie Voortrekkers vir die vorming in my lewe, die lewe van ons vier kinders en nou ook al twee van ons kleinkinders. Werklik trots om met hierdie voortreflike beweging geassosieer te word! Hou Koers!

Thea ·

Dankie vd wonderlike voorbeeld wat julle stel en vd goeie werk wat die voortrekkers al vir 85 jaar volhou!
Geluk met julle verjaardag!
Pragtige fotos en fantastiese berig!

Thea ·

Dankie vd wonderlike voorbeeld wat julle stel en vd goeie werk wat die voortrekkers al vir 85 jaar volhou!
Geluk met julle verjaardag!
Pragtige fotos en fantastiese berig!

Fanie Kemp ·

Dit was vir my ‘n groot voorreg om op skool ‘n Voortrekker te kon wees en later ook Offisier.
Ons dank ons Hemelse Vader vir so ‘n Jeugbeweging. Ons Bid dat Die Voortrekkerbeweging ook vir die geslagte wat kom daar sal wees om ons jeug positief te help spore trap die toekoms in – Trotse Afrikanerjeug en trotse burgers van Suid-Afrika.
Dankie aan al die Leiers vir jul onbaatsugtige diens aan ons kosbare jeug.

neelsie ·

Met sulke kinders sal ons op koers bly.
Christelike waardes sal altyd die weg baan tot n suksesvolle lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.