[Foto’s] Vriendin reël droomtroue in 5 dae

Aimee en Ryno. Foto: Verskaf

Aimee en Ryno. Foto: Verskaf

ʼn Vrou van Pretoria het verlede week haar beste vriendin se droomtroue en al die reëlings daar rondom suutjies in net vyf dae gereël nadat dié vriendin se pa se siektetoestand drasties versleg het.

Bianca Oosthuizen het aan Maroela Media vertel sy en haar vriendin, Aimee, is al meer as 18 jaar lank vriende.

“Aimee en Ryno is al nege jaar saam,” sê sy. “Ek en my ma, Alice, was verlede week by die kerk en toe ons daar uitstap, sê sy vir my ons moet iets doen. Ons weet dis elke meisie se droom dat haar pa saam met haar tot voor die kansel moet stap en ons was bang dit gaan nie meer moontlik wees nie.”

Aimee se pa is voorheen gediagnoseer Miëlodisplastiese sindroom.

Bianca het verlede week Dinsdag met die troureëlings begin. “Ek het Dinsdagaand vir Ryno gebel om te hoor of hy oukei is daarmee. Hy was vir byna tien minute sprakeloos voordat hy ingestem het. Ons het toe vinnig aan die werk gespring.”

Ryno het Aimee Donderdag die ja-woord gevra. Aimee vertel sy het nog nooit so baie gehuil nie. “Ek het niks vermoed nie. Ek het my eetlus sommer verloor weens opgewondenheid,” het sy geskerts.

Bianca vertel die werksmense en familie het hul harte en hande oopgemaak om die troue wonderlik vir die paartjie te maak. Hulle het die Brandweerdienste van Lyttleton in Pretoria se brandweerwa vir die troue gebruik. “Haar ma se ouers het indertyd ʼn brandweerwa gebruik vir ʼn troukar en haar broer was die hoof van die brandweer in Swartkop. Daarom het ons vir haar ʼn brandweerwa as ‘troukar’ gereël.”

Aimee se boetie is egter ʼn paar jaar gelede terug oorlede. Sy vertel Bianca het geweet dit was vir haar belangrik om hom te onthou op haar troudag. “Alles was perfek. Die werk het wyn, nagereg, kos en ekstra geld vir ons gegee. Die mense van die brandweer was ongelooflik. Hy het ʼn ver draai na die stasie toe teruggery. Dit was werklik ʼn familiepoging: Bianca se ma het tafeldoeke gestik en die Rock Roses kom uit die familie se tuin.”

Sy het haar rok en die strooimeisies se rokke die Saterdag voor die troue aangepas. Aimee vertel hoewel dié geleentheid in net vyf dae gereël is, was dit die beste dag van haar lewe. “Ek kon toe saam met my pa na die kansel toe stap. Ná die seremonie het ek en my pa ook die dansvloer geopen. Ek kon nie ophou huil nie. In ʼn stadium het hy in my oor gevra of ek gaan ophou huil, ek het net gefluister ek is te gelukkig.”

Aimee en Ryno kon ná die troue een aand in ʼn hotel deurbring danksy die werk se barmhartigheid. Die familie hou steeds duim vas dat hul pa sal gesond word.

Bianca het ook pas ʼn onderneming begin waarmee sy geleenthede op professionele basis gaan reël. Besoek Ballistic Event Planning se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

ANDRE ·

Baie mooi ! lekker om so af en toe ook n ligstraaltjie so tussen die ” doom and gloom” te sien.

Leonie ·

So spesiaal!! Sit nou met ‘n groot knop in die keel. My en my man se troue was reeds gereël vir 15 Desember 2012 toe my ma skielik in Julie 2012 gediagnoseer is met terminale kanker. Sy het baie vinnig agteruit gegaan en ons het inderhaas die troudatum vervroeg na Sondag 30 September wat ons sommer by my ma in die Hospice se tuin so wees sodat my ma kon by wees. Sy is egter ongelukkig die Donderdag 27 September, 3 dae voor die tyd, oorlede. My hart was stukkend en sou wat wou gee om my ma op my troudag te kon hê, veral omdat sy so uitgesien het. Ons het toe wel op 15 Desember getrou en die dag was maar baie swaar vir my pa. Hulle was 55 jaar getroud en ek die laatlam, maar soos ‘n vriendin aan my genoem het. My ma het die beste “seat” in die huis gehad. Aan Bianca, jy sal nooit besef watse groot geskenk jy aan jou vriendin gegee het nie. (Jammer vd lang storie)

Grethe ·

So mooi! Dankie vir deel! Soos jou vriendin sê jou ma het beste sitplek gehad…

Leonie ·

Baie dankie Grethe & Hannelie. Help mos maar partykeer net om iemand te vertel :) My vriendin se woorde het my regtig baie gehelp en die dag wat ek gedink het ek heeltyd gaan huil was toe nog steeds ‘n dag vol van vreugde en lag. Ek weet Liewe Jesus het my die heeldag so bietjie ekstra stywer vasgehou. So dankbaar dat Aimee se pa die dag met hulle kon deel en ek bid dat hy volkome genees sal word en sommer nog baie jare gespaar sal word vir hulle en die kleinkinders wat kom.

Bianca ·

Baie dankie vir die mooi woorde. Jy het my nou weer aan die huil. Danki nou laat jy my meer kosbaar voel as ooit. Sterkte da. En ek glo ook jo Ma was daar en sy het so groot gesmile en is vandag trots.

Hannelie ·

Bianca is regtig ‘n ware en opregte vriendin…..en sulke vriendinne skop jy nie onder elke bos uit nie. Ek glo Aimee waardeer jou vreeslik. ‘n Baie mooi gebaar van ‘n baie spesiale vriendin.
Leonie jammer om te hoor dat jou ma nie jou groot dag kon bywoon nie. Wat vir jou spesiaal moes wees, was eintlik hartseer. Maar ek glo jou ma het uit die hemel haar seën gegee. En die heeltyd geglimlag.

Trotse tannie ·

Ek is so trots op Bianca en Alice, hulle kon nog altyd enige geleentheid spesiaal maak. Bianca is self besig om haar eie troue te reël vir later in die jaar en dit gaan voorwaar net so spesiaal wees. Baie geluk Ryno en Aimee, julle is ‘n “awesome” paartjie en gaan nog baie jare gelukkig wees net soos julle altwee se ouerpare.
“You go B” soos altyd ‘n raakvatter.

Annelize ·

Ek is so trots om te kan se dis my wonderlike buurvrou en haar dogter wat sulke engele is!

Christina ·

Hoendervleis-oomblike en verhale soos hierdie kleur die lewe in. Mag jul huwelik geseënd wees en mag jul liefde vir mekaar elke dag meer word.

Gesiggie ·

Wat n lekker storie met n mooi einde om te kan lees… well done Bianca aan jou mooi gebaar en omgee.. en aan elkeen wat betrokke was met al die doen en late” Omdat jul omgee mense is… Ek kry nou die liedjie in my gedagtes To dance with my Father again…. en jy was so bevooreg Aimee jou Pa was daar.. Sterkte aan jul as n paartjie en aan jou Pa se gesondheid.

Sue Allen ·

Ek het n masjien wat Aimee se pa kan help om gesond te word. Kan julle my asb in aanraking sit met die mense. My epos adres is [email protected]

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.