Foto’s: Weskus in volkleur op ’n fiets

Die opwindende houtbruggies beteken jy hoef nooit ʼn hek oop te maak nie. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Die Weskus spog met eindelose gruispaaie wat hierdie asemrowende landskap deurkruis. Nou is daar nog ʼn nuwe fietsroete wat by Living Colour naby Darling op jou wag en dit is perfekte trapgenot vir die feesseisoen.

Die bestemming

Goue koringvelde wuif in die wind wanneer jy vroegsomer hier kom ry. (Foto: Jacques Marais)

 Ja-nee kyk, die vakansie is hier en die strande wag. Vir die meeste mense beteken dit ʼn week of twee van luilekker rondlê terwyl hulle bak in die son, of dalk pak hulle ʼn brander of twee so tussen die roomyse aan, maar wat doen diegene wat sukkel om van hulle fiets afskeid te neem?

Hier is die plan: Pak jou fiets én jou branderplank in, en kies koers Darling toe. Jip, dié lekker wegkruipdorp is nou wel meer bekend as die tuisdorp van die beroemde komediant, Pieter-Dirk Uys, maar daar is hope buitelugavonture wat hier wag.

Dié ougat plekkie is minder as 20 minute van die Atlantiese Oseaan en word omring deur ʼn lappieskombers van groen wingerde en koringlande wat wuif in die wind. Deesdae kuier toeriste van regoor die wêreld hier, met kief kafees, oulike eetplekke en ouwêreldse oudhedewinkels wat die res van die familie plesierig sal hou.

Kom loer in by www.hellodarling.org.za of www.facebook.com/LivingColourDarling

Die wedren

Die ‘Bloekomlaning’-enkelspoor sorg vir ʼn opwindende rit al met die afdraande langs tot teenaan die rivier. (Foto: Jacques Marais)

ʼn Puik nuwe bergfiets en velddrafwedren – Ride and Run Darling – word volgende jaar in April vir die eerste keer by Living Colour aangebied. Dié byeenkoms sal verskeie roetes vir drawwers en fietsryers bied met afstande vir beginners en hardebaarde. Saal op vir 60 km-, 40 km- of 20 km-bergfietsroetes, of trek jou tekkies aan en pak die 21 km-, 12 km- of 5 km-drafopsies.

Die roete

Fynbos- en Renosterveld-vlaktes bied asemrowende uitsigte. (Foto: Jacques Marais)

Die buitelugbrigade kan ook Living Colour se roetes vir 365 dae van die jaar geniet. Die Groen-roete van 12 km is ideaal vir beginners, met ʼn paar matige opdraandes en sowat 250 m se klim in totaal. Bring sommer die hele gesin saam want selfs die jongspan kan dit te voet of per fiets aanpak.

Fikser trappers sal die 21 km van die Rooi-roete geniet, want hier wag ʼn opwindende kombinasie enkelspoor, klipperige heuwels en ʼn handvol stewige houtbruggies wat jou oor die draadheinings sal help. Jy sal sowat 500 m klim en ongeveer 90 min tot twee uur in die saal deurbring. Besoek www.wolwefonteinmtb.co.za vir meer inligting.

Hier en daar wag daar ʼn tegniese ‘rotstuintjie’ op jou. (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.