Foto’s: Wollies, ʼn tuiste vir talle vergete honde en katte

Foto: Annelize Brits/Maroela Media.

As jy regs van Rooikatstraat in Hesteapark, ʼn noordelike woonbuurt in die Jakarandastad, op ʼn grondpaadjie afdraai na die Wollies-diereprojek, sou jy nooit kon raai hier is ʼn veilige hawe vir sowat ʼn duisend vergete en verwaarloosde troeteldiere nie.

Eers word jy begroet deur ’n vriendelike hondekoor bestaande uit seshonderd stertswaaiende brakke. Beslis iets om aan gewoond te raak. Daarna, sou jy gelukkig wees, sal ʼn kat of twee van die skuiling se vierhonderd inwoners ook darem gou kom hallo-sê deur teen jou been verby te skuur waarna hulle weer vinnig ʼn plekkie op ʼn strooibaal in die son gaan opsoek.

Deesdae is daar selfs twee donkies wat Wollies nou hul tuiste noem. Die twee donkies het aanvanklik sleg deurgeloop onder hul vorige eienaars wat hulle gebruik het om swaar werk op ʼn bouterrein te verrig. Dié twee lyk jare ouer as die drie winters wat hulle beleef het.

Kallie sukkel steeds om op te staan en Lallie het brandmerke in haar nek. “Dit gaan al baie beter met hulle, maar ons het nog ʼn paadjie om met hulle te stap voordat hulle heeltemal gesond sal wees,” sê Cilla Trexler, stigter van Wollies.

Die skuiling het in Mei sy vyfde bestaansjaar gevier, vertel Cilla trots.

“Ek het nog altyd met diere gewerk en dié skuiling het alles begin by ʼn sterilisasieprojek. En ja, ek weet ek moes sekerlik al lankal opgehou het om diere in te neem, maar nou ja, hoe kan ʼn mens nee sê…” sê sy met haar skouers opgehaal.

Van Maroela Media se personeel en hul kinders het tydens die Julievakansie ʼn oggend by die diereskuiling ʼn draai gaan maak en tyd saam met die hawelose troeteldiere bestee. Die spannetjie het nie net die kans gehad om saam met ʼn paar oorgretige honde te gaan stap nie, maar het ook ʼn paar sakke honde- en katkos, asook ander troeteldierbenodighede, geskenk.

En bring jy ʼn dag saam met Cilla en haar span by dié hawe deur, dan verstaan jy hoekom sy nog nie haar deure kon sluit vir die hawelose diere wat steeds byna daagliks op die skuiling se voorstoep land nie.

In die paar uur wat Maroela Media daar was, was daar twee gevalle van honde wat by die skuiling opgedaag het. Die eerste geval het ʼn gelukkiger einde gehad: dit was net die bure se honde wat verdwaal het en hulle kon gou terugbesorg word. In die ander geval is die hondjie deur ʼn motor raakgery. Gelukkig het ʼn besorgde gesin hom op die straathoek opgetel en Wollies toe gebring, maar hy het dringende aandag van ʼn veearts benodig.

Vir Wollies se personeel en vrywilligers is dit maar net die normale verloop van sake: Honde en katte, groot en klein, word dikwels by die ingang na die skuiling afgelaai. Baie mense doen nie eens die moeite om self in te loop en te vra of Wollies kan help nie – hulle verdwyn maar net en die diere bly agter.

Cilla staan ook behoorlik bont soos wat sy die selfoon moet beantwoord met navrae oor die dienste wat die skuiling bied. Sy kan nie lank gesels nie, dan is daar weer ʼn mens of dier wat op haar knoppie druk vir aandag.

Hier word een munisipale asblik van 240 liter per dag katkos gegee en vyf munisipale asblikke van dieselfde grootte elke dag vir honde.

Maar elke dier wat by Wollies opdaag, kry ʼn naam. Die volwasse katte wat hier opdaag, kry elkeen hul eie tuiste in opgedolliede houthuise wat jou herinner aan die mooiste kleuterskole waar jy al ʼn draai gaan maak het. Hier kry elke troeteldier ʼn tuiste terwyl hulle wag vir ʼn vir-altyd-huisie – al neem dit dalk vir altyd.

Dit is skoon en netjies en ʼn mens kan sien hier word moeite met die hawelose diere gedoen.

Hoe hou ʼn skuiling soos hierdie sy deure vir behoeftige diere oop? Met genade en gebede, maar ook met die hulp en ʼn oop hand van die publiek wat maandeliks bydraes maak vir dierekos, veeartsrekeninge en ander benodighede, asook die sowat twintig voltydse personeel wat hier werk.

Sonder diereliefhebbers se hulp sal hierdie diere op straat moet rondswerf, want hulle het geen ander heenkome nie.

wollies-foto-kalender

‘n Voorbeeld van een van die foto’s wat in jou unieke kalender ten bate van die Wollies-diereprojek gesit kan word. Foto: Andries du Toit/Verskaf.

Hoe kan jy die Wollies-diereprojek ondersteun?

Besoek gerus Wollies se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting oor die werk en unieke geldinsamelingsprojekte wat hierdie diereskuiling aanbied.

Andries du Toit, ʼn fotograaf, het ʼn wonderlike projek namens Wollies aangepak. Hy het honde, wat deur Furrytails Dog Training opgelei is, saam met ʼn paar ballerinas afgeneem en dit in A3-grootte kalenders omskep wat ten bate van die diereskuiling verkoop word. Diereliefhebbers kan hul eie kalenders uit ʼn keuse van ongeveer 25 foto’s saamstel en die kalender kan op enige maand van die jaar begin. Al die wins van die kalender word vir die skuiling geskenk. Stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek Wollies se Facebook-blad vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

tee ·

Ek ken vir Cilla jare!, haar hele gewig is net liefde, mooiste mooiste mooiste mens, inside and out! Moedig, stry voort, al gaan dit swaar.

honourable member ·

Julle is wonderlike mense wat wonderlike werk doen.

Annetjie ·

Ek stem saam BAIE DANKIE DAT JULLE so mooi na die diere kyk
Dit breek my hart as ek sien mense mishandel diere
Dankie Weereens!!

Noelien ·

Ek was Sondag daar. Dis baie hartseer om te sien mense gooi hulle diere net so weg. Ek self het ‘n aannemings vorm ingevul vir my nuwe “baba”. Elkeen verdien ‘n forever-home. Wollies se mense gaan reguit hemel toe. Baie dankie vir wat julle doen.

belinda ·

kry somer ‘n knop in die keel, dankie mensies, julle is wonderlik, hoe kan mens somer net diere met die mooi gesiggies weggooi.

Willie ·

Dankie vir julle wonderlikke werk… Ek wil net n beroep doen op die publiek, voor jy n klein hodjie koop, klop eers aan by wollies, hierdie diertjies verlang na liefdevolle gesin

love ·

Ek vra myself in die tye waarin ons leef elke dag “where is the LOVE”? Ek het trane van dankbaarheid-EK SIEN DIT HIER!

Denise ·

Diere is die mens se verantwoordelikheid as jy jou diere sommer net weggooi het jy geen liefde in jou nie my hart gaan uit na al die diere wat so mishandel word dankie dat julle omgee !!!

Erika ·

Cilla doen ongelooflike harde werk, en elke dier kry liefde en aandag, my hart gaan uit na elke dier wat nie ‘n huis ken soos my diere ‘n tuiste ken nie!! Cilla bly nederig, op jou knie, bly in gesprek met die Almagtige en HY sal jou hawe seen, baie dankie dat jy en jou span so mooi kyk na al hierdie diere. Jy is ‘n pragtige mens! HART VAN GOUD.

Marietjie ·

Dit is my lewensdroom om so hawe vir weggooidiere te kan skep. As my skip eendag ophou sink sal dit my droom wees om so groot vriendelike en liefdevolle hawe te wees vir enige diere en hulle al die liefde en sorg gee wat hulle deur en deur verdien. Dit breek my hart dat mense so ongelooflik ongevoelig kan wees teenoor enige dier. Dit gaan net my verstand te bowe dat almal nie die wonderlike en liefdevolle persoonlikhede van diere kan waardeer nie. Dank die Vader vir plekke soos Wollies, dit is `n lekker warm om die hart gevoel om daaroor te kan lees en mag Wollies net van krag tot krag gaan en seëninge hulle van alle kante oorstroom.

Esta ·

Ek haal my hoed af vir julle, dankie vir julle dierewerke. Mag GOD julle seën

Talita ·

Hierdie mense doen ongelooflike werk, maar kan dit nie alleen doen nie. Daar is die oulikste diere, ek het my “running partner”, Lily, by hulle aangeneem en ek was nog nooit spyt nie. Gaan kyk gerus op hulle Facebook page (Wollies Animal Project) wat hulle alles doen om hierdie diere te help en maak ‘n bydrae, al is dit hoe klein. Elke bietjie help, al maak jy hulle net ‘n begunstigde op jou MySchool kaart, of gee ‘n donasie, daar is soveel maniere waarop mens kan help. Dankie Wollies, julle onbaatsugtigheid gaan nie ongesiens verby nie!

Maak 'n nota ·

Wollies het later vanjaar weer hulle jaarlikse Sleepathon. Gaan kyk asb. op hulle blad wanneer en ondersteun die fantasiese fondsinsameling.

karen ·

Hoe se mens ooit dankie vir hierdie onbaatsugtige hulp en liefde ?

Dankie ……

Mark ·

Jammer mense delete facebook deesdae soos ek. PATRION is iets wat Wollies na moet kyk.

Helena ·

Ek het hul al paar maal gaan besoek, vele kere honde vir stappies geneem en my pragtige Pure Black Malinois genaamd Sophia 3 jaar gelede daar aangeneem – hul doen wonderlike werk. Dis hartverskeurend om al die hondjies daar te sien, ek wens meer mense wil aanneem en die diere ‘n liefdevolle huis gee.

Kiets ·

Ja en almal oe en aaa maar as dit kom by hand in die sak steek om te help is almal tjoepstil.
Gewoonlik die wat hul diere weggooi wat nooit n helpende hand uitsteek. Siesa! Wat se dit van julle as mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.