‘FroueVonds’: Leer van ons ‘wyse gryses’

Hannie Viljoen. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Hannie Viljoen is ’n navorser by Solidariteit Helpende Hand en leer uit die navorsing altyd waardevolle lesse wat sy op papier vaslê om met ander te deel.

Tyd is nie jou nie vyand nie, jý is…

Ek luister gereeld na mense en hul sêgoed. My man sê altyd dat mense wens hulle kon tyd koop. As mense op hul sterfbed lê, wens sommige (dálk die meeste), dat hulle meer tyd gehad het. Tyd om saam met hul geliefdes te spandeer, tyd om meer plekke te kon sien, tyd om meer boeke te kon lees, tyd om meer mense te kon help. Tyd om te kon léwe.

Mense is altyd besig. Besig met werk, besig met ’n loopbaan, besig met kinders se buitemuurse aktiwiteite, besig in die week, besig oor die naweek. So hardloop die tyd uit sonder notisie, sonder permissie.

En dan hoor ek die woorde in ’n gesprek: “Tyd is ’n mens se vyand”.

My insiens is tyd nie jou vyand nie, jý is. Tyd is net ’n mistieke begrip, ’n aksioom, ’n geleentheid, ’n hulpbron, ’n skoon skilderdoek vir jou om te gebruik. Tyd kan nie kies nie. Tyd kan nie besluite maak nie. Tyd kan nie keuses uitoefen nie. Maar jý kan.

Op pad werk toe is daar altyd die een of ander persoon wat langs almal wat geduldig, ander soms minder geduldig wag, op die sperstreep verbyjaag om betyds by sy/haar kantoor te wees. Dit was daardie persoon/persone se keuse om vyf minute langer te lê vanoggend of net gou nog iets in die kombuiswasbak te sit of net gou iets in die huis te gaan haal. Dan jaag hulle om op te maak vir die paar minute wat hul laat is by die kantoor of vir ’n afspraak –  en jaag só almal se bloeddruk in die rooi en stel ander se lewe in gevaar. As húlle maar net tyd verantwoordelik kon inspan …

Dan is daar ook die persoon wat op ’n Sondagaand gou sy e-posse lees om Maandag eerste in die wegspringblokke te wees – dit net om deur die nag rond te rol sonder om ’n oog toe te maak en die week dus moeg begin en met minder produktiwiteit skouer aan die wiel probeer sit. Ander wil Maandag weer alles gedoen kry en vergeet soms dat daar nog ’n Dinsdag, Woensdag, Donderdag en Vrydag is om die nodige take af te handel.

So ploeter ons gespanne voort en blameer die min ure in ’n dag.

Wanneer jy met bejaardes, die wyse gryses praat, dan wys hulle jou daarop dat hulle nooit gewens het om harder te werk nie, maar dat hulle eerder beter na hul nabye verhoudinge sou wou omgesien het. Die harde werklikheid is dat dit selde kollegas is wat om jou siekbed staan, maar eerder dié vir wie jy dalk nie genoeg tyd gemaak het.

Wat kan ons uit die Woord leer oor tyd? Prediker 3 is die vernaamste hoofstuk wat handel oortyd, en veral vers 9-13 dien as sleutelverse: “Watter voordeel het hy wat werk, daardeur dat hy hom vermoei? Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind. So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook – dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God.”

Daar is ’n tyd vir alles, leer die Woord van God ons, maar hoekom werk ons dan buite die agt ure, vyf dae per week, wat die Here vir ons gegee het? Hoekom respekteer ons nie tyd saam met ons geliefdes nie? Hoekom word ons ’n slawe van tyd?

Is tyd dan nie ook ’n gawe van God nie? Tyd is aan ons gegee, nie andersom nie. Tyd kan produktief gebruik word. Tyd kan bestuur word. Tyd kan deur jou uitgekoop word. Is dit dan nie jy wat beheer het oor jou dagboek nie? Wil jy nie berus om te wees waar jy is nie? Daarmee sê ek nie jy moet nie hard werk nie. Eerder om ten volle aandag te skenk by die werk, wanneer jy by die werk is. Om dan ook ten volle saam met jou geliefdes tyd te spandeer en die elektroniese ware weg te bêre wanneer dit tyd is.

Moenie tyd as ’n verskoning aanbied nie.

Ek sluit af met: Efesiërs 5:15-16: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.”

Moenie toelaat dat iets dergeliks eers moet gebeur vir tyd om by jou stil te staan nie. Die keuse is joune. Jóú tyd, jóú verantwoordelikheid.

Ons kan eerlik vir mekaar sê dat tyd nie jou vyand is nie, jý is …

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Hoe nou?

Dankie. Puik artikel Hannie. Om die waarheid te sê, die beste uit die FroueVonds pen so ver.