Galery skep platform vir kuns in Afrikaans

V.l.n.r. is Chris van der Walt, Gerrit Pitout, Alta Strauss, Hannes Noëth, Lizelle van der Klashorst, Elme Churr en Johan Kelber tydens die opening van Platform. (Foto verskaf)

Platform, ʼn nuwe kunsgalery, het verlede week sy deure in die hartjie van Johannesburg geopen. Met dié galery skep die paartjie Chris van der Walt en Alta Strauss nie net ʼn ruimte waar kunstenaars hul kuns kan uitstal nie, maar doen dit boonop in Afrikaans.

Wat die nuwe kunsgalery nog meer besonders maak, is dat kunstenaars ʼn welsynsorganisasie van hul keuse kan ondersteun met die verkope van kunswerke wat by die galery uitgestal word.

“Platform se slagspreuk ‘bring Afrikaans terug Jo’burg toe’ spreek eintlik vanself. Ons het net ondervind mense is uitgehonger om in hul eie taal te gesels, musiek te luister en die kunste te geniet. Dit is waarom ons besluit het om ʼn ruimte te skep waar Afrikaans gekoester kan word,” het Alta, wat ook ʼn digter, skrywer en motiveringspreker is, vertel.

Sy en Chris, ʼn regsgeleerde en toegepaste etikus, het besluit om die 500 vierkante meter grondvloer in hul huis te omskep in ʼn kunsgalery waar die kunste in Afrikaans gevier kan word.

Deur die Afrikaanse taal en kultuur terug te bring na Johannesburg, beoog Alta en Chris om hierdie ryk erfenis te bevorder en te bewaar vir die volgende generasies. Terselfdertyd wil hulle met Platform nuwe geleenthede aan reeds gevestigde kunstenaars bied om hulle werk uit te stal en te verkoop.

Elme Churr (Foto verskaf)

“Ons hoop Platform skep ʼn forum vir nuwe dialoog en begrip vir Suid-Afrikaanse kuns, taal en kultuur, terwyl ons ook saambou aan ʼn monumentale beweging in en vir ons moedertaal.

“Dit is iets wat ons self moet doen. Ons moet die verantwoordelikheid neem om ʼn ruimte vir ons taal en kultuur te skep sodat dit sy regmatige plek in die samelewing kan opneem, en dit is doel van Platform,” het Alta benadruk.

Platform se deure is amptelik Woensdag 27 Maart geopen met ʼn solo-uitstalling van Gerrit Pitout, ʼn olieverfskilder, wat vir die volgende maand in die galery besigtig kan word. Elme Churr en Johan Kelber het musikale vermaak verskaf, en Alta het van haar gedigte voorgedra.

“Die naam ‘Platform’ is so gepas vir hierdie spasie. Dit skep nie net ʼn platform vir kunstenaars om hulle werke ten toon te stel nie, maar dit is ook ʼn spasie vir poësie, letterkunde en ʼn bymekaarkomplek vir mense wat lief is vir Afrikaans en dieselfde belangstellings deel.

“Ons kom uit ʼn moeilike tyd waar baie galerye hulle deure weens die pandemie moes sluit. Tog kom Alta en Chris met ʼn splinternuwe idee, en ek glo Platform sal ʼn uitwerking hê wat net verder sal uitbrei na ander gebiede sodat die kunste oraloor bevorder kan word,” het Gerrit gesê.

Die opbrengs van Gerrit se eerste skildery is aan Helpende Hand Studietrust geskenk, en ʼn persentasie van die opbrengs uit die res van die maand se verkope sal ook aan die Studietrust geskenk word.

Sy kuns sal vir die volgende maand by Platform uitgestal word en kan ook aanlyn by www.platformsa.net aangekoop word. Kunstenaars wat binnekort by Platform sal uitstal, sluit in Kobus Möller, Johan Scholtz, Johann Strauss en Pieter Wentzel. Afsprake moet gemaak word om na die uitstallings te kom kyk. Besoek Platform se webwerf vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.