Garsies-leerder reik na die sterre

Divan Beukman. Foto: Verskaf

Divan Beukman. Foto: Verskaf

Divan Beukman, ʼn leerder van Hoërskool Garsfontein in Pretoria, is onlangs as een van twee Suid-Afrikaners aangewys om Nasa se ruimteskool in Houston, Texas, in Julie vanjaar te besoek.

Dié skool is ʼn projek van die Amerikaanse stigting vir internasionale ruimteonderrig (FISE) wat ten doel het om ruimte-gebaseerde akademiese onderrig te gee aan hoërskoolleerders en wat ook dien as ʼn inleidende kursus en oriëntering tot die lugvaartnywerheid.

Dié interdissiplinêre program bied 50 studente van 25 lande die geleentheid om onder die mentorskap van verskeie ingenieurs, wetenskaplikes en kenners van die lugvaartnywerheid vir twee weke te studeer aan die Universiteit van Clear Lake om hul eie sending na Mars te beplan en te konseptualiseer.

Almé Engelbrecht van die Hugenote Hoërskool in Wellington in die Wes-Kaap gaan saam met Beukman dié program bywoon.

Beukman sê dit is vir hom ʼn eer om by dié program ingesluit te word, veral omdat hy ʼn groot liefde vir die buiteruim en die onbekende het. “Ek is van nature ʼn nuuskierige mens, en het geweet ek móét die kans aangryp. Om slegs een van twee Suid-Afrikaners te wees, is werklik besonders en ek hoop ons gaan baie leer,” het hy gesê.

“Hoewel ek beplan om meganiese of chemiese ingenieurswese te gaan studeer, gryp ek soveel moontlike geleenthede aan om mense en dinge beter te verstaan. Ek wil my kennis sover as moontlik uitbrei sodat ek vir die samelewing en vir ander iets kan beteken.”

Beukman sê ʼn reis van só aard is egter baie duur en die gesin hoop om finansiële ondersteuning te kry. “Die reis kos R41 000. Omdat ons reeds die geld moes oorbetaal, moes my ouers ʼn lening aangaan sodat ek nie dié geleentheid deur my vingers laat glip nie. Ons hoop egter dat mense kan help met die enorme uitgawe.”

Barmhartige Samaritane wat met die gesin in verbinding wil tree, kan Elmazet Beukman kontak by 083 721 1205 of ʼn e-pos stuur aan [email protected].

Besoek die ruimteskool se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eliza-beth ·

Dankie Maroela dat jul mens weer bewus gemaak het van iets soos hierdie. Ek het die artikel gebêre en die einde van die maand (ja dis nog ver en ek is klaar “broke”, ek help graag baie mense elke maand, maar moet self oorleef ook!)sal ek ietsie insit. Wat ‘n wonderlike geleentheid en prestasie jong, ek hoop BAIE mense help met ‘n rand of twee!

Estelle Haward ·

Baie geluk Divan, ek moet vir jou sê ons het ook ‘n fondsinsameling vir my seun gehou en die bydraes van mense, gewone mense, was amazing. Ek sal ook die einde van die maand graag ‘n bydrae wil maak. Sterkte en geniet elke oomblik.

Eliza-beth ·

Estelle, dis vir my SO mooi dat jy gaaan help; ek het jou seun ook ondersteun en nou help jy weer ‘n ander: ‘n geval van een hand was die ander. Mooi so en beste wense vir jul albei se seuns!

Vaalpiet ·

Hulle is darem twee eerste seker ‘n politieke party en dan ‘n kerk stig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.