Gauteng-skole vaar die beste

wiskunde-skool-klas.jpg

Argieffoto

In die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen behaal Gauteng die grootste getal onderskeidings in Afrikaans Huistaal met 972 onderskeidings teenoor die Wes-Kaap se 966 onderskeidings. Verder het Gauteng die spogprestasie behaal met slegs 60 Afrikaanse skole terwyl die Wes-Kaap met 109 skole sit.

Die topvier skole met die meeste onderskeidings kom ook almal van Gauteng af. Hulle is Afrikaanse Hoër Meisieskool (93 onderskeidings), Hoërskool Menlopark (85 onderskeidings), Hoërskool Waterkloof (74 onderskeidings) en Hoërskool Garsfontein (73 onderskeidings).

Solidariteit Helpende Hand het onlangs die nuwe nasionale beroepsvereniging Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT) begin as ’n professionele organisasie wat na die belange van hierdie onderwysers sal omsien.

Die eerste GeRAT-graad 12-slypskool het in November 2015 by Hoërskool Zwartkop plaasgevind waar meer as 300 matrieks opgelei is in die beantwoording van taalleervraestelle. Volgens Jonathan Rankin, matriekleerder van Hoërskool Garsfontein in 2015 wat teenwoordig was, het dit hom baie gehelp.

“Die slypskool het my gemiddeld laat styg en ek sal dit vir enige leerder aanbeveel,” sê Rankin.

Afrikaans Huistaal het persentasiegewys die meeste onderskeidings van al die huistale behaal. Leerders se prestasie tydens die 2015-matriekeindeksamen bevestig dat Afrikaans Huistaal die kroon dra as dié huistaal in die land. Uit die 358 Afrikaanse skole het 311 skole onderskeidings in Afrikaans Huistaal opgelewer.

Solidariteit Helpende Hand is bewus van die uitdagings wat Afrikaans Huistaal daagliks in die gesig staar. Daarom het hulle die nasionale beroepsorganisasie GeRAT begin om seker te maak leerders kry die beste gehalte onderrig wat in 2016 op hierdie topprestasies kan voortbou.

GeRAT hoop om die vlam van taaltrots in 2016 onder Afrikaanse onderwysers en dus ook Afrikaanse leerders te laat brand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adoons ·

Gekkigheid vir ‘n skool of ‘n provinsie om daarop aanspraak te maak dat hulle beter as ‘n ander gevaar het bloot omdat hulle meer onderskeidings kan wys. Die hoeveelheid kinders wat geskryf het, moet tog ook in ag geneem word. As Skool A 50 onderskeidings uit 200 kinders behaal, en Skool B het 40 onderskeidings uit 100 kinders, het Skool B beter gevaar omdat 40% van sy kinders onderskeidings behaal het, teenoor slegs 25% van skool A.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.