Gavin Kilpatrick se ontembare strewe na sukses

Gavin Kilpatrick (para-driekampatleet) en Casper Moodie (gids) sal #teamsa by die Statebondspele in Birmingham verteenwoordig. (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Gavin Kilpatrick ly aan die oorerflike degeneratiewe Stargardt se siekte wat sy sig belemmer. Dit keer hom egter nie om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig in tandem, roei en as driekampatleet nie. Hy gaan deelneem aan die Statebondspele, wat vanaf 28 Julie tot 8 Augustus in Birmingham, in die Verenigde Koninkryk, plaasvind.

Gavin is op 15 Februarie 1982 in Gweru, Zimbabwe, gebore. In 1989 het die gesin, pa Basil, ma Linda en jonger sussie T’neal Alberton toe getrek. Hy was in Glenview Primêr en het later aan Harvest Christian School matrikuleer. Ná skool het Gavin verskeie masseerterapie-kursusse voltooi, asook ʼn sertifikaat in funksiebestuur by Damelin Kollege. In 2015 het hy sy honneursgraad in sportbestuur voltooi aan die Universiteit van Johannesburg. “Ek het toe die besluit geneem om na Kaapstad te verhuis en ʼn lewe hier te kom maak. Ná ʼn Kaapse skooltoer op 14-jarige ouderdom, was dit ʼn droom wat ek gekoester het en die tyd het aangebreek om dit na te volg.”

Op 6-jarige ouderdom is Gavin gediagnoseer met Stargardt se siekte, ʼn rare genetiese degeneratiewe proses wat in die makula (die middelste gedeelte van die retina) plaasvind.

Dié ongeneeslike siekte affekteer die senupunte op die makula-gedeelte van die binne-oog. Hierdie senupunte speel ʼn rol in die oordrag van lig van die buitewêreld na die brein, wat dit dan verwerk na ʼn beeld. Die toestand veroorsaak ʼn geleidelike verlies van sentrale visie (ʼn groot blinde kol ontstaan in die middel van jou sigveld) en ʼn aansienlike agteruitgang in sig elke twee jaar.

“Ek het tans 20% sig. Om eenvoudige daaglikse take te verrig, soos om ʼn selfoonboodskap of die prys op ʼn melkbottel of my gunsteling sjokolade te lees, is moeilik. Ek moes leer om dit te aanvaar, maar ook maniere uitwerk om dié uitdagings te oorkom en om my daaglikse lewenskwaliteit te verbeter as ʼn persoon met ʼn sigprobleem. As gevolg hiervan kan ek nie ʼn lisensie kry om motor te bestuur of byvoorbeeld bergfiets ry nie. Dit is moeilik om my onafhanklikheid te behou, aangesien vervoer een van my mees frustrerende probleme is. Ek moet aanvaar dat dit tans my realiteit is om hulp op sekere gebiede te benodig, maar dit het my aangespoor om maniere te vind om my lewe te vergemaklik. Ek maak gebruik van Uber, busvervoer en die hulp van ongelooflike vriende. Op dié manier kry ek die geleentheid om my omgewing te ontdek en mee te maak in van die ongelooflike aktiwiteite wat hier is om van deel te wees. As ek nie van publieke vervoer gebruik kan maak nie, is my opinie dat ek  nie regtig daar hoef te wees nie!”

Gavin het tans 20% van sy sig. (Foto verskaf)

Nadat die genetiese toetse afgehandel is, is ontdek dat Gavin se pa, Basil, die dominante geen het en dat sy ma, Linda, ook ʼn draer is. Sy suster, T’neal, is ook geaffekteer deur dié toestand. Daar is tans nog geen geneesmiddel hiervoor nie. ʼn Span wetenskaplikes van die Universiteit van Kaapstad werk baie nou saam met Retina Suid-Afrika en ʼn Amerikaanse universiteit in die hoop dat daar ʼn omkeerbare kuur gevind sal word.

Op die oomblik fokus hulle op visuele hulpmiddels om mense met soortgelyke toestande te ondersteun, deur gespesialiseerde sagteware soos Zoomtext en Seeing AI te ontwikkel om mense te help om mobiele toestelle te gebruik en op rekenaars te lees.

Gavin het Suid-Afrika al nasionaal verteenwoordig in verskeie sportsoorte. “Ek is bevoorreg om Suid-Afrika te verteenwoordig as ʼn baanfietsryer op wêreldkampioenskapvlak en het brons gewen vir baan-tandemfietsry in Frankryk in 2007. Hierdie prestasie het my laat kwalifiseer vir die 2008 Beijing Paralimpiese Spele waar ek ʼn bronsmedalje gewen het in die mans-tandemwedren vir blind- en visueelgestremde fietsryers, die eerste baanfietsry-medalje deur ʼn Suid-Afrikaner.”

Daarna het hy ʼn jaar afgevat en ʼn beurs gekry om by die Universiteit van Johannesburg te studeer. Hier het hy sy honneurs in sportbestuur voltooi en Suid-Afrika verteenwoordig as ʼn aanpasbare roeier in ʼn gemengde roeiwedren. Hy het deelgeneem as ʼn gewone (abled bodied) roeier vir die universiteit by die jaarlikse bootwedren wat in Port Alfred plaasgevind het. “My grootste prestasie was om die bronsmedalje te wen by die 2013 Wêreldroeikampioenskappe in Suid-Korea.

Die afgelope tyd is sy fokus op driekamp. ʼn Tipiese week se oefening bestaan uit ʼn gemiddeld van tien oefensessies wat swem, fietsry, hardloop en ʼn kombinasie van al drie insluit om hom voor te berei vir driekamp. “Dit is ʼn allesomvattende liggaamskondisioneringsport en vereis van ʼn atleet om al drie dissiplines te bemeester om suksesvol te wees. Ek en Casper neem deel aan die naelloop-afstand, so ons sessies is kort en fokus op krag en spoed om die maksimum toegekende tyd te gebruik en ons spiere te kondisioneer om te presteer.”

Natuurlik is daar baie uitdagings vir Gavin, veral omdat sig so ʼn belangrike gawe is. Veral met fietsry, maak hulle baie staat op visuele stimulante om ʼn veilige reis te hê. Die vermoë om byvoorbeeld slaggate en ander struikelblokke in die pad te sien, asook verkeersligte, is faktore wat iemand met normale sig sommer as vanselfsprekend sal neem. Maar vir hulle het dit alles die potensiaal om tot ʼn ongeluk te lei. “Met die ondersteuning en bystand van getroue vriende, het ek al verskeie suksesvolle ritte voltooi, soos die van Johannesburg na Durban, Johannesburg na Nelspruit en onlangs ook ʼn oefenkamp in Mosselbaai waar ek veilig deur die Robinsonpas is.”

Gavin Kilpatrick en sy gids op die baan Casper Moodie. (Foto verskaf)

Fietswedrenne het natuurlik ʼn rits uitdagings as gevolg van die hoë spoed, en om in groot groepe te ry kan baie onvoorspelbaar wees, maar Gavin het die Cape Town Cycle Tour, Carnival City Classic en 94.7 Cycle Challenge suksesvol voltooi.

Hy het baie van sy opleiding op tandemfietse, asook oefenfietse by die gimnasium of op rollers gedoen. Die oefensessies het elkeen hulle eie uitdagings, wat onder meer die onvoorspelbare Kaapse weer insluit. “Om ritte en oefensessies te koördineer kan nogal moeilik wees. Omdat ek nie in staat is om self te bestuur nie, moet ek soms gimnasium toe gaan van die werk af in plaas daarvan dat dit ʼn daaglikse roetine word. Nogtans het ek ʼn groot passie vir sport en voel baie meer tuis om fiets te ry as om te gaan stap. Ek voel die pad deur my toerusting en dit gee my ʼn gevoel van beheer en onafhanklikheid.”

Gavin Kilpatrick (para-driekampatleet) en Casper Moodie (gids) sal #teamsa by die Statebondspele in Birmingham verteenwoordig. Dit is die derde keer wat Gavin, as driekampatleet, Suid-Afrika gaan verteenwoordig by een van die wêreld se grootste sportgeleenthede.

Hy en sy betroubare gids, Casper, sal op 31 Julie in die strate van Birmingham in ʼn wedren teen die wêreld kompeteer in die naelloop-afstand driekampuitdaging, wat bestaan uit 750 m-swem, 20 km-tandemfietsry en ʼn blitsige 5 km-wedloop, dit alles met slegs 20% sig. Gavin sê: “Ons is gefokus en gereed vir die wedren en ons wil floreer op die positiewe druk wat ons deur ondervinding opgedoen het.”

Gavin sê dat sy toestand hom geleer het om nooit tou op te gooi nie. “Daar was al baie laagtepunte, maar hierdie ondervindings het interne deursettingsvermoë gekweek wat ek as sportman én in my daaglikse lewe gebruik. Met die ondersteuning van my familie en vriende, probeer ek daagliks om my doelwitte te bereik. Sport definieer my en deur my prestasie en passie hoop ek om ander te inspireer om hulle eie doelwitte te bereik en hul eie uitdagings te oorkom.”

Gavin het ʼn nuwe besigheid, VIP (Velocity Inspired Performance), in Johannesburg begin waar hy aanlyn afrigting doen, asook masserings om sportbeserings te voorkom en die risiko daarvan te verminder.

Hy is baie dankbaar vir sy borge: Honeycomb BEE Ratings, Team Honeycomb Pro Cycling, Saucony, Coral Wetsuits en Uvex_sports_South Africa.

Verdere befondsing word egter benodig vir die volgende twee jaar vir hulle “Pad na Parys”-missie. Gavin en Casper moet tydens die kwalifiseringsrondes vir die Olimpiese Spele aan drie internasionale wedrenne deelneem – dit begin reeds volgende maand.

Die plan is om deel te neem aan die African Champs, One World Cup Ren en One World Series Ren. Hulle moet die top twaalf haal. Omdat Gavin Casper se hulp nodig het, is die uitgawes dubbel soveel en sukkel hulle om die kostes te dra. Indien hulle wel die nodige fondse ontvang, kan hulle uitsluitlik fokus op hulle voorbereiding vir die Spele.

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.