Gebou om te veg, maar gebore om lief te hê

Uit die fliek, “Ferdinand”

Ter viering van liefde wat werklik ʼn verskil maak, besluit my kinders se skool om vir Valentynsdag kos in te samel vir die behoeftige gesinne. Hulle kies Ferdinand die bul as tema en vra of ek met die kinders sal gesels oor hierdie mooi storie.

Ferdinand word groot op ʼn veeplaas waar al die bulle geleer word om te veg. Hulle spot hom omdat hy nie hou van die bakleiery nie en eerder die ou blommetjies sal oppas en beskerm. Dan hardloop hy weg as iemand een van sy blomme vertrap en sy pa nie terugkeer van een van die gevegte waarvoor hy gekies was nie.

Hy eindig op by ʼn bloemis se plaas en daar word hy groot saam met Nina. As Nina en haar pa die jaarlikse blomfees gaan bywoon en vir groot Ferdinand by die huis los, besluit hy om in elk geval te gaan, waar hy per ongeluk in ʼn by gaan sit, groot chaos veroorsaak en dan terugneem word na die veeplaas waar hy vandaan kom.

Op ʼn dag kom ʼn legendariese bulvegter daar aan op soek na die grootste, sterkste en mees aggressiewe bul om vir ou laas teen te veg voor hy uittree. Ferdinand besef dat die bulle wat nie gekies word vir ʼn geveg nie, slagpale toe gaan, maar dat die ander wat moet veg, ook doodgemaak word. Hy help hulle om te ontsnap en offer homself op sodat almal veilig kan wegkom.

Nina hoor intussen dat Ferdinand in Madrid gaan veg en sy en haar pa gaan kyk. Ferdinand maak geskiedenis as die eerste bul ooit wat ʼn bulgeveg oorleef en dit bloot omdat hy homself was. Aan die einde is hy terug by Nina, saam met al die ander bulle en oulike diertjies wat saam met hulle gereis het op die avontuur en ons sien hoe die son sak terwyl hulle oor die blomme kyk…

Ferdinand was perfek gebou om te veg met genoeg krag en spiere om enige van die ander bulle te wys wie die eintlike baas van die plaas is, maar hy gebruik sy krag vir ʼn ander geveg – ʼn groter geveg: om te beskerm, te help en uiteindelik lewens te red en geskiedenis te maak!

Hy was sterk genoeg om enige van die bulvegters op hulle plek te sit en dit sou die skare mense in die arena vreeslik vermaak het – die einste mense wat dan net daarna sou omdraai en hom doodmaak.

So is ons ook gebou om te veg met die krag van God wat in ons woon deur Sy Heilige Gees, maar watter geveg veg ons en om wat te bereik? Baas te speel, mense op hulle plek te sit, ʼn bekgeveg te wen of die toeskouers wat ons dophou te vermaak?

Ferdinand was gebou om te veg, maar ook gebore om lief te hê! Hy het geveg vir dit wat hy lief het en geveg met ware liefde! Nie soos die papier hartjies en rooi sjokolades van Valentynsdag nie, maar met liefde wat opreg omgee, belangstel en luister, ʼn broodjie sal deel of met woorde sal bou en in die voorbeeld van Jesus, homself en sy eie belange sal opoffer om ander te kan dien, beskerm, help en red.

Behoeftige gesinne het op Valentynsdag met groot dankbaarheid ʼn kospakkie vol liefde ontvang, maar die ritme van “gebou om te veg, maar gebore om lief te hê” leef voort – elke dag …

* Die Storie van Ferdinand is oorspronklik in 1936 geskryf deur die Amerikaanse outeur Munro Leaf. Die fliek, Ferdinand, wys tans by verskeie Ster-Kinekor en Nu-Metro-teaters.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chrisjan ·

Uitstekende gedagte om lewensles by kinders tuis te bring. Veels geluk aan daardie oulike skool en personeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.