Gee jou lewe kleur deur ’n bejaarde op te soek

bejaardes-gesondheid-sorg-aanraak

(Foto: Matthias Zomer/Pexels)

Oorlogstaaltjies, plaasstories, perdekarre, danse in die stadsaal, herinneringe aan die dae sonder elektrisiteit of tegnologie, die verdwaal en lees van padkaarte tot die bel vanaf ʼn tiekieboks. Dít is alles temas waarmee jy jou siel kan verkwik wanneer jy tyd aan ʼn bejaarde afstaan.

“In die dolle gejaag na wind vergeet ons soms dat hierdie generasie die voorlopers is van die ontwikkeling van vaardighede en tegnologie wat ons vandag tot ons voordeel gebruik,” sê Heleen van As, woordvoerder van Ons Tuis, ʼn groep van agt aftree-oorde in drie van Suid-Afrika se provinsies.

“Elke keer wanneer daar ʼn onderhoud met ʼn inwoner gevoer word, of hul die geleentheid kry om hul skatkis vol wysheid en ervaringe met ander te deel, beleef ons dit eerstehands. Wanneer jy op watter manier ook al met ʼn bejaarde interaksie het, stap jy beslis soveel ryker daarna weg.”

Die voordele van ʼn band met ʼn bejaarde

Volgens Van As is daar min dinge in die lewe wat vir jou soveel perspektief kan gee soos ʼn besoek aan ʼn bejaarde. Ongeag die ouer persoon se situasie – sy of haar geestelike, finansiële of fisieke gesondheid — begin jy onwillekeurig om jou lewenskoers en -wandel te herevalueer en gaan jy heel moontlik jou prioriteite gou herrangskik.

“Dalk inspireer die bejaarde se lewensverhaal jou en droom jy gróter. Dalk sink die realiteit en uitdagings van ouderdom in en besluit jy om betyds voorsorg te tref. Bes moontlik dring dit tot jou deur dat verhoudings die spil is waarom die wêreld veronderstel is om te draai,” sê Van As.

Eensaamheid, ongeag in watter ouderdomsgroep jy val, is gewis ʼn werklikheid wat jou gesondheid negatief beïnvloed. Navorsing toon dat dit direk met die verhoogde risiko van kardiovaskulêre siektes verband hou

Ons Tuis glo in aktiewe veroudering en bied daarom daagliks ʼn verskeidenheid programme en aktiwiteite aan. Maar familie- en gemeenskapsbetrokkenheid kan nie genoeg beklemtoon word nie. Kom sit en bou saam ʼn legkaart, luister saam na mooi musiek of help ʼn ouer persoon om ʼn nuwe selfoon baas te raak.

“Jou belangstelling en omgee kan help om aan ʼn bejaarde se dag betekenis te gee,” sê Van As.

Volgens haar hoef jy glad nie oor die ouderdomsgaping bekommerd te wees nie. Jy sal sommer gou belangstellings vind wat oorvleuel. En nog gouer herinner word dat ʼn persoon se siel en sin vir humor nie noodwendig saam met die lyf verouder nie.

Hoe raak ek by bejaardes betrokke?

Begin deur bejaardes in jou omgewing te besoek of hul met takies te help, soos om die batterye van ʼn horlosie of ʼn gloeilamp te vervang.

Jy kan ook uitreik na jou naaste aftree-oord of ouetehuis om te verneem wat die behoefte is; soos om inwoners te neem vir inkopies of te vergesel op ʼn uitstappie na die kwekery.

Bejaardes is ʼn onlosmaaklike skakel van ons samelewing. Hul is die oumas en oupas wie se wêreld stil gaan staan om te groet, ʼn mooi plantjie raak te sien en te gesels. Doen dieselfde: gee ʼn bietjie van jou tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacobus ·

Hoe wonderlik. Dít terwyl van die superrykes van mening is ons ouer mense is oortollig. Eer en respekteer ouer mense – dis ‘n resep vir ‘n wonderwerk.

Se maar net ·

Dit is regtig ‘n goeie idee om betrokke te raak, ek sal daarvan hou om dit te doen. Ek het nie meer ouers of grootouers nie en mis dit vreeslik. Dit gese kan ek nie verstaan hoe kinders hul ouers kan “weggooi” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.