Gee jou proaktiewe tree om Afrikaans te laat voortleef

Eugene Marais (Foto: Verskaf)

Die sistematiese verdwyning van Afrikaans en die reaksie van belanghebbendes daarop, is ʼn algemene verskynsel op die kulturele speelveld. Heel tereg, want as die taal nie gebruik word nie, is daar ʼn gevoelige verlies van terminologie wat die taal verarm. Die reaktiewe pogings het eie meriete, maar daar bestaan ook die meriete van ʼn beskeie, maar beduidende proaktiewe poging wat aandag verdien.

Die Eugène Marais Stigting is ʼn niewinsgewende organisasie wat in die Paarl tot stand gekom op die terrein van die Paarl First Class Public School in Lawaaimaakstraat (nou Rozenfontein Row), waar Eugène Nielen Marais in 1887 gematrikuleer het.

Dit was in die historiese hart van die Paarl. Dit is vandag steeds so en gelukkig is die terrein boonop nog in ʼn goed bewaarde toestand. Dit is die enigste geboue wat in Suid-Afrika behoue gebly het, waar iets gedoen kan word om hierdie merkwaardige Suid-Afrikaner se uitmuntende, multidissiplinêre bydraes te erken en aan te wend as Die Eugène Marais Sentrum vir Innoveer en Leer.

Die Eugène Marais Sentrum vir Innoveer en Leer is ʼn private, onderwysgerigte instelling vir voortdurende leer met die doel om ruimte te skep vir innovering.

Innovering word gesien as die verkenning en skepping van nuwe idees in ʼn bepaalde belangstellingsveld en om deur verbeelding en doelgerigte toewyding die nuwe idees bruikbaar te maak (mensgerigte innovering).

“Ons het Eugène N. Marais se outentieke bydraes tematies in 41 temas georden. Dan vertolk ons sy werk as dié van ʼn vrye denker wat die gawe besit om innoverend te dink en aan hierdie multidissiplinêre temas praktiese gestalte te gee,” verduidelik Niël du Toit, voorsitter van die stigting.

“Die 41 temas open die indrukwekkende aard van sy bydraes. Kyk mens na die vlak waarop hy gepresteer het en die hipoteses wat hy geformuleer het, maak dit van hom ʼn hoogs uitsonderlike Suid-Afrikaner wat vandag steeds internasionale erkenning geniet.

“Ons taak is om die temas te hervertolk en in ’n openbare forum aan te bied om ruimte vir innovering te skep deur die sentrum as fasiliteringsentrum te gebruik.”

Du Toit wil hê dat die Eugène Marais Stigting binne die raamwerke van hervertolking en kommunikasie doelgerig, doeltreffend en met integriteit funksioneer.

“Hervertolking veronderstel kontinuïteit met die verlede, maar dan in ’n openheid na die toekoms. Dit impliseer trou aan die oorspronklike, maar juis daarom ook innoverende kommunikasie wat met skeppende verbeeldingskrag tot omvorming en hervorming in staat stel. As ons na Marais as joernalis kyk en aktuele sake as ʼn addisionele tema byvoeg, verkry die stigting ʼn betekenisvolle missie.”

  • Visie: Ruimte vir innovering.
  • Missie: Die Eugène Marais Stigting dra skeppend by tot die kulturele landskap deur navorsing te stimuleer en skakeling te fasiliteer op die terreine van literatuur, wetenskap en aktuele aangeleenthede binne die driehoekmodel Paarl, Waterberg, Pretoria, in voortsetting van die uitnemende, innoverende prestasies en nalatenskap van Eugène N. Marais.

Die Eugène Marais Stigting wil die terrein red en bewaar. (Foto: Verskaf)

Sedert sy registrasie in 2012, het die Eugène Marais Stigting verskeie programme rondom die temas in die Paarl en Pretoria aangebied.

Belanghebbendes in die Waterberg en Pretoria steun die gedagte om die Lawaaimaakstraat-terrein te verkry en funksioneel in te rig as die Eugène Marais Sentrum vir Innoveer en Leer.

Gedurende 2021 vier ons die 150-jarige herdenking van Eugène N. Marais se geboorte (1871–1936).

Daar is besluit om vir die herdenking twee inisiatiewe van stapel te stuur:

  • Herman van Niekerk het in Desember 2020 die 5de hersiene druk van sy boek Eugène Nielen Marais: Nuwe feite en nuwe insigte, laat verskyn met ʼn vertaling in Engels ook beskikbaar.
  • Die stigting stuur die Red die Skooltjie-veldtog van stapel, waar ons mik om die Lawaaimaakstraat-terrein te verkry en funksioneel aan te wend in diens van die stigting se visie.

“Ons moet nou poog om ons Paarl-adres te vestig as die Eugène Marais Sentrum vir Innoveer en Leer waarop en waarvandaan programme na ons driehoekvennote in Pretoria en Waterberg aangebied kan word,” het Du Toit bygevoeg.

Eugène N. Marais was bekend daarvoor dat hy sy epogmakende temas in Afrikaans geskryf het.

Vir die Eugène Marais Sentrum vir Innoveer en Leer in die Paarl, is daar twee besondere doelwitte wat verband hou met die gebruik van Afrikaans op hoër denkvlakke:

  • Maak Die Eugène Marais Sentrum vir Innoveer en Leer dié plek vir DiepDink (Think Tank) in Afrikaans oor aktuele sake in ʼn multidissiplinêre formaat. Ontwikkel so nuwe perspektiewe rondom komplekse onderwerpe.
  • Bekyk die gaping tussen wat akademici oor ʼn bepaalde onderwerp weet en wat die publiek weet. As akademici hul kennis wil aanbied vir teikengroepe van die publiek, kom doen dit dan in Afrikaans by die Eugène Marais Sentrum vir Innoveer en Leer.

Toetsprojekte oor bogenoemde is bevredigend afgehandel met individue en institusionele belanghebbendes. Met die nodige finansiële ondersteuning kan dit praktyk word.

Gee nou een proaktiewe tree en maak ʼn skenking aan die Eugène Marais Stigting. Stuur ʼn e-pos aan Niël du Toit by [email protected] vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FM ·

Dit is ook van belang dat Eugene Marais se laaste huis, vir die Taal en kultuur van ons trotse Afrikaner behoue bly. Binne die plaas grense waar Die Oog, buite Naboomspruit geleë is, staan sy huis in totale verwaarlosing en word as ‘n vervalle stoor gebruik.

OW ·

Wat ‘n skande FM.Die raad op gedenkwaardighede moet na hierdie tipe dinge kyk.Of hulle bestaan nie meer nie, of hulle doen nie hulle werk nie.

annie ·

Wil ons nou ‘n histories-gerigte volkie word; was-gewees-vegters vir taal en volk en land. Ooms skep nou eie poste en inkomste rondom ou leiers en skrywers… en geen nuwe literère werke van formaat sien die lig nie. Talentlose gekwaak oor die verlede… en onthou tog om ander volke en kleure en rasse by te werk vir dieper insig in die Afrikaners se skandes en skade…. Die groot trane kom nog…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.