Gee meer as geskenke dié Kersfees – en hééljaar

Argieffoto

Dié Desembervakansie is die ideale tyd om ʼn verskil te maak – ook in Januarie. Terwyl baie mense oor die feestyd maniere soek om te help, is Januarie – en die res van die jaar – eintlik waar die groot nood dikwels lê.

Verleen heeljaar ʼn helpende hand

“Mense moet pasop om emosioneel net in Desembermaand te wil help. In Januarie en Februarie kry mense só swaar en Kersfees word hulle amper oorlaai,” sê Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “In Desember moet mense ook oorweeg om hulle tyd te skenk. Wat Helpende Hand sê, is ons moet oordeelkundig help.”

Noëth sê volgens navorsing wat die organisasie by verskeie ouetehuis gedoen het, is inwoners se grootste behoefte geselskap. Hy stel voor dat mense wat graag vir bejaardes ʼn helpende hand wil wees, byvoorbeeld ʼn aftreeoord in hulle omgewing kontak en uitvind wie dié Kersfees alleen gaan wees.

Dieselfde geld vir kinderhuise waar nie almal dié vakansie uitgeplaas word nie. Reël ʼn speletjiesdag, of vra of jy iets spesiaal vir die kinders kan kom doen. Hou ʼn braai vir die karwagte in jou omgewing, maak in die vakansietyd voorskote vir nuwe graad eentjies wat dit nie kan bekostig nie, of bied aan om iemand se kinders op te pas, stel Noëth voor.

“’n Mens moet so ʼn bietjie uit die boks dink om ʼn verskil te maak wat iemand se hart bly maak. Mens aanvaar so maklik jou omstandighede is almal se omstandighede. Dit is nie,” sê Noëth.

hande-kind.jpg

Argieffoto

Help ʼn kind

Rock of Hope is een van die plekke waar ʼn klein bydrae ʼn enorme verskil kan maak.

Wouter Prozesky en sy vrou Mientjie bedryf dié plek van veiligheid in Montanapark in Pretoria. Hulle versorg babas, kleuters en kinders wat mishandel, wees agtergelaat of getraumatiseer is. Die huis is stampvol babas, dus is doeke en melk van hulle grootste uitgawes. En elektrisiteit, sê Prozesky. Met soveel kinders in die huis is daar altyd êrens ʼn wasmasjien wat werk.

Die Kerstyd bring sy eie uitdagings, maar dis nie die enigste tyd wat die huis ʼn ekstra paar hande nodig het nie. “Ons het altyd hulp nodig,” sê Prozesky.

Vrywilligers kan bottels maak, kinders kosgee en hulle help bad. (Vir sekere take moet vrywilligers eers gekeur word.) Skoolkinders kan selfs van die jonger kinders met hulle huiswerk kom help, sê hy.

Donasies is ook heeljaar welkom – hetsy in die vorm van bababenodigdhede, of geldelike bydraes.

Prozesky sê vrywilligers kan gerus ook iets ekstra spesiaal – soos om ʼn springkasteel te kom opslaan – vir die kinders te doen.

Die Prozeskys is self verantwoordelik vir die sentrum se uitgawes (kinders in pleegsorg kry wel ʼn maatskaplike toelaag) en maak staat op veral familie, vriende en weldoeners om die wa deur die drif te help trek.

Argieffoto: www.planoallergydoctor.com

Fokus op geestesgesondheid

Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) sê hy het ook altyd vrywilligers nodig, en beslis ook tydens die feestyd. Sadag se inbelsentrum is operasioneel regdeur die Kerstyd, veral omdat dié tyd van jaar ekstra moeilik vir sommige mense kan wees.

“Ons kry meer oproepe van mense wat baie eensaam is, en bejaardes. Daar is ook mense wat hulle eerste Kersfees sonder ʼn geliefde soos ʼn lewensmaat, kind of familielid moet vier, of wat onlangs ʼn traumatiese gebeurtenis soos ʼn seksuele aanranding, die dood van ʼn geliefde, werksverlies of finansiële probleem ervaar het,” sê Kayla Phillips, Sadag se woordvoerder.

Sy sê dis uiters belangrik dat daar genoeg vrywilligers is om al hulle inbellyne te beman. Sadag verwelkom ook vrywilligers wat byvoorbeeld administratiewe take kan verrig of inligtingstukke vir beraders of pasiënte kan saamstel.

“Om as vrywilliger by Sadag te werk moet jy in die omgewing van Johannesburg woon en self tot by die inbelsentrum in Rivonia kan kom. Maar eintlik het jy net ʼn hart gevul met liefde nodig en medelye vir mense wat geestelike ondersteuning nodig het. Sadag lei jou op en ondersteun jou op die pad om ʼn vrywillige berader te word.”

Diegene wat nie tyd het om self aan te meld nie, of nie in die Johannesburg-omgewing bly nie, kan ʼn geldelike bydrae maak om die selfmoordvoorkomingshulplyn se telefoonrekening te help betaal – dié rekening wissel tussen R50 000 en R80 000 per maand, sê Phillips.

“Ons pleit by mense om tyd oor die vakansie te maak om ʼn geestesgesondheidsorganisasie te help. Die meeste mense dink nie eers daaraan om iemand in ʼn psigiatriese saal te besoek om net koekies of boeke af te gee nie – of sommer net om te gesels nie. Niemand wil oor die vakansie in die hospitaal wees nie,” sê Phillips.

Sy sê enigiemand op enige plek in Suid-Afrika kan betrokke raak en mense is welkom om Sadag te kontak as hulle verwysings na organisasies naby hulle wil hê.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) sê vrywilligers en donasies is altyd welkom. (Argieffoto: NDBV)

Versorg ʼn weerlose dier

Meg Wilson, woordvoerder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), sê vrywilligers en donasies word hier ook altyd verwelkom. Die NDBV is ʼn nie-winsgewende organisasie en maak heeltemal staat op donasies van die publiek. “Hoewel Suid-Afrika tydens die feestyd omtrent tot stilstand kom, hou wreedheid nooit op nie. Ons inspekteurs en personeel gaan deur die feestyd werk om te probeer verseker die vakansie is sonder wreedheid,” sê Wilson.

In dié tyd kom dierebedrywe dikwels met die minste moontlike personeel klaar, wat selfs ekstra druk op die DBV plaas om te verseker diere word nie verwaarloos nie. Die getal verlate en wegloopdiere styg beduidend in dié tyd, terwyl onverantwoordelike diere-oppassers ook tot groot hartseer vir troeteldiere kan lei.

Wilson sê donasies help baie, maar vrywilligers is net so belangrik. “Dierehanteringsvaardighede en goeie menseverhoudinge is altyd ʼn pluspunt, en kreatiwiteit ook. Wilson sê daar is ook altyd ʼn behoefte aan instandhoudingswerk – as jy dus handig is, is daar altyd iets om te doen.

Wilson sê mense kan hulle naaste DBV-tak óf die nasionale kantoor kontak as hulle betrokke wil raak.

Elsa Daniels is die bestuurder van die Waltloo-tak van die Tshwane-DBV. In die hoofstad help die DBV nagenoeg 40 000 diere per jaar. In 2017 het hulle op 1 806 klagtes gereageer, 543 waarskuwings uitgereik en meer as 2 000 besoeke vir aktiewe ondersoeke, roetine‑inspeksies en tuisinspeksies gedoen.

Daniels sê hulle herenig verlore diere met hulle eienaars, vind nuwe huise vir verlate diere, steriliseer diere, doen opvoedingswerk en gaan op gemeenskapsuitreike. Die DBV is 365 dae van die jaar, 24 uur van die dag oop en inspekteurs hou nóóit op help nie – feestyd of nie. Daar is altyd werk om te doen, sê Daniels.

Argieffoto: Pixabay

Vind iets anders vir jou vaardighede

Die aanlyn platform forgood.co.za bevorder strategiese en doeltreffende “gee” – tyd, goed en geld. Welsynsorganisasies op die webwerf sê presies wat hulle behoeftes is, en vrywilligers reageer dan daarop.

Op die webwerf is tientalle organisasies wat hulp nodig het. Dit sluit in kinderhuise, skole, plekke van veiligheid en selfs mentorskapprogramme. Daar is ʼn behoefte aan onder meer vrywilligers wat geskenke kan toedraai, opleiding kan verskaf, bemarkingsplanne kan help uitwerk, of vir skenkings wat wissel van boumateriaal tot doeke.

Uitvoerende hoof Andy Hadfield sê in Januarie verdubbel die getal mense wat hulp aanbied op die platform (teenoor Desember). “Mense begin die nuwe jaar beslis met baie vrygewende energie,” sê Hadfield.

  • Solidariteit Helpende Hand
    Skakel 012 644 4390 of stuur ʼn e-pos na [email protected]
  • Rock of Hope
    Besoek Rock of Hope op Facebook, by www.placeofsafety.co.za/nurseries/rock-of-hope of kontak Wouter Prozesky by 079 423 4799
  • Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep
    Besoek www.sadag.org, vul ʼn aansoekvorm in en stuur dit na [email protected] of skakel Michelle by 011 234 4837 vir meer inligting en nog maniere om te help.
  • forgood
    Besoek www.forgood.co.za vir organisasies wat hulp nodig het.
  • Nasionale Dierebeskermingsvereniging
    Besoek www.nspca.co.za of stuur ʼn e-pos na [email protected] (of www.spcapta.org.za/volunteer as jy in die Pretoria-omgewing is).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.