Geen droom té groot vir blinde atleet

Louzanne Coetzee en haar gids, Rouxne Jacobs. Foto: Facebook via Louzanne Jacobs

Louzanne Coetzee en haar gids, Rouxne Jacobs. Foto: Facebook via Louzanne Jacobs

Louzanne Coetzee, ʼn siggestremde M-student aan die Universiteit van die Vrystaat en oudhoofmeisie van die Pionierskool in Worcester, is vasbeslote om haar internasionale atletiekdrome te bewaarheid nadat sy verskeie internasionale kompetisies gewen en tien top-plekke behaal het.

Coetzee, wat sedert geboorte siggestremd is, het vertel die atletiekgogga het haar die eerste keer gebyt toe sy in haar eerstejaar aan die Universiteit van die Vrystaat was.

“Ek het destyds deelgeneem aan die eerstejaarsatletiek toe ek besef het ek het ʼn talent daarvoor. Die huiskomitee-afrigter was so beïndruk met my prestasie by dié byeenkomste dat sy gesê het ek moet professionele afrigting kry en oorweeg om meer permanent betrokke te wees in atletiek,” vertel sy.

Dit was egter nie ʼn maklike pad nie. Coetzee vertel afrigters was sku om saam met haar te werk omdat hulle nie die nodige kennis gehad het om ʼn siggestremde persoon af te rig nie. “Ek het daarom vir ʼn geruime tyd alleen geoefen en deelgeneem aan plaaslike padwedlope.”

Sy het in 2012 die afrigter Rufus Botha ontmoet. Botha was beïndruk met haar deursettingsvermoë en was bereid om ʼn pad saam met haar te stap en te werk aan ʼn atletiekloopbaan.

“Hy was een van die eerstes, benewens my ouers, wat in my geglo het. Van daar het hy my hand gevat en saam met my begin oefen.”

Coetzee het in 2013 aan die wêreldkampioenskap in Frankryk deelgeneem en weer in 2015 aan die wêreldkampioenskap in Katar. Daar het sy haar persoonlike beste rekords oortref.

Sy beklee tans wêreldwyd die vyfde plek in die 800 m- en negende plek vir die 1500 m-wedloop. “In internasionale en nasionale kompetisies kompeteer ek saam met ander siggestremdes. In plaaslike padwedlope neem ek egter gereeld deel teen mense wat geen gestremdhede het nie. Ek het onlangs vyfde plek in ʼn streekkompetisie behaal.”

Coetzee se droom is om aan die Paralimpiese Spele deel te neem. Hoewel sy reeds gekwalifiseer het, wil sy haar plek in die wêreldrangorde verbeter om ʼn groter kans te staan om ʼn plek in die Paralimpiese Spele te behaal.

Tans is sy besig om reg te maak om aan ʼn internasionale atletiekkompetisie in Switserland  deel te neem. Dié kompetisie gaan haar egter R60 000 uit die sak jaag. Coetzee het haar tot Facebook gewend om geld vir dié byeenkoms in te samel.

As jy dié talentvolle en gedrewe jong vrou wil help om haar drome te bewaarheid, kan jy met haar in kontak tree op 071 462 7430 of per e-pos by [email protected]. Besoek ook die Pionierskool se webwerf of hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amazing girl ·

Ongelooflike meisie, mag almal hul beursies oopmaak en jou ondersteun!!!!!!! Ek gaan ook! Jy is ‘n voorbeeld!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.