Gehekelde broodsakkies, die beste ding naas gesnyde brood

(Foto: Verskaf)

’n Leë broodsak is vir die meeste mense net ’n stuk gemors, maar vir ’n groep vroue van Houtbaai in die Wes-Kaap verskaf dit ’n inkomste om sodoende hul brood te verdien.

Vroue van die Re.Bag.Re.Use-projek versamel leë broodsakke en omskep die herwinde materiaal in  gehekelde inkopie- en strandsakke. Die projek is nou reeds agt maande oud en gaan van krag tot krag.

Volgens Regine le Roux, stigter van die Re.Bag.Re.Use-projek, doen agt vroue die hekelwerk terwyl nog drie vroue die plastiek sny.

“Die projek is begin om mense in ons gemeenskap die geleentheid te bied om ekstra sakgeld te verdien. Al wat jy benodig, is ’n hekelnaald.

“Ek wou iets skep wat nie aangesig-tot-aangesig-werksessies vereis het tydens die pandemie nie, of van elektrisiteit afhanklik is nie. Die vroue kan op hul eie tyd in die veiligheid van hul eie huise die plastiek sny en hekel.”

(Foto: Verskaf, Jane Hoffman aan die werk)

Hekelster, Jane Hoffman, vertel dat die bykomende inkomste wat sy uit die Re.Bag.Re.Use-projek kry, haar brood en botter is. “Ek kan nou brood, melk en selfs elektrisiteit aanskaf,” sê sy.

https://www.instagram.com/p/CRlI22YgNzK/

Hoffman maak haar kleinkinders groot en is ongelooflik trots op haar kleindogter wat pas matriek geslaag het.

“Ek kon ook al data vir my kleindogter koop sodat sy by tersiêre instellings vir verpleegkunde kan aansoek doen om verder te studeer. Om haar studieloopbaan voort te sit sodat sy onafhanklik kan wees, is vir my baie belangrik,” voeg Hoffman by.

Rookshana Davids, Hoffman se kleindogter, vertel dat sy ongelooflik dankbaar is vir haar ouma se ondersteuning.

“My ouma doen altyd veel meer as haar plig vir my, en daarvoor sal ek haar ewig dankbaar wees. Re.Bag.Re.Use het my ouma die geleentheid gegee om weer brood op die tafel te sit met die geld wat sy uit die hekelwerk saam met haar pensioen kry.

(Foto: Verskaf, Jane Hoffman met een van haar gehekelde kunswerke)

“Ek is opgewonde daaroor om verder te studeer. Ek is gemotiveerd om my lewe te verbeter en ’n manier te vind om my ouma, asook my jonger broers en susters by te staan en te ondersteun,” vertel Davids trots.

Le Roux sê die volgende stap is om die projek uit te brei. “Re.Bag.Re.Use gaan moontlik vinnig in Pretoria ook naam maak, ek het reeds ’n snyer en hekelwerker daar.” Vir elke Re.Bag.Re.Use-produk wat verkoop word, gaan ’n gedeelte daarvan aan die hekelwerker, die vroue wat die plastiek sny, asook ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie. “Met hierdie projek maak ons ook seker dat minder plastiek in stortingsterreine en in ons oseane beland, wat tans ’n enorme probleem is. “Die sakke is ’n kunswerk,” vertel Hoffman, “dit is baie opwindend om te sien hoe die verskillende patrone en kleure van leë broodsakkies in pragtige herbruikbare inkopie- en strandsakke verander.”

(Foto: Verskaf)

Hoe kan jy die Re.Bag.Re.Use-projek ondersteun?

  1. Bêre jou leë broodsakke en skenk dit aan die Re.Bag.Re.Use-span. “Ons span is gretig en gereed om dit op te sny en in pragtige herbruikbare inkopiesakke te omskep,” sê Le Roux. Vir enige skenkings kan jy Le Roux direk op WhatsApp by 083 302 1528 nader.
  2. Koop ’n Re.Bag.Re.Use-inkopie- of strandsak.
  3. Maak ’n skenking deur BackABuddy om geld vir dié kreatiewe sakeonderneming in te samel.

Regine le Roux hardloop vanjaar 100 keer 10 km.

As jy ’n kilometer wil borg, besoek gerus die Re.Bag.Re.Use-kampioenbladsy op die BackaBuddy-platform: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/re-bag-re-use

Die geld wat hier ingesamel word, sal gebruik word om meer hekelwerkers en snyers aan te stel sodat produksie kan toeneem en sodoende meer huishoudings gevoed kan word.

’n Persentasie van die geld sal ook direk aan die Neighbourhood Old Age Home (NOAH) en Sungardens Hospice geskenk word.

Vir meer inligting kan jy die projek op Instagram https://www.instagram.com/re.bag.re.use/ volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janine ·

Wow! Dis baie kreatief en ‘n oulike manier om geld te maak! Tien uit tien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.