
Baie grootouers moes die afgelope paar jaar kinders en kleinkinders groet. (Foto: Isaac Quesada/Unsplash)
Emigrasie is ʼn gelaaide term wat vir baie min Suid-Afrikaners ʼn nuwe of unieke verskynsel is, maar wanneer daar oor emigrasie gesels word, lê die klem dikwels by dié wat gaan, eerder as die wat agterbly.
Kommunikasie oor verskillende tydsones, verlies van ondersteuningstrukture, kultuurverskille én verlange is egter net ʼn paar van die uitdagings wat beide partye as deel hul aanpassingsreis moet trotseer.
Daarom het AfriForum Wêreldwyd, ʼn inisiatief van die burgerregte organisasie AfriForum, besluit om op 7 Desember ’n kuieroggend by die Irene Country Lodge in Pretoria aan te bied vir ouers, grootouers én geliefdes wat vriende en familielede in die buiteland het en nie weet hoe om die uitdagings van hierdie tipe langafstandverhoudings te navigeer nie.
Douline Minnaar, ’n psigiatriese verpleegkundige, tree as gasspreker by die kuieroggend op en sal verskeie vrae en onderwerpe rondom emigrasie takel, insluitende advies rondom verlange, deurlopende betrokkenheid en toekomsplanne om by geliefdes in die buiteland aan te sluit.
Volgens Sue-Ann de Wet, hoof van diaspora by AfriForum, is dié kuieroggend juis die perfekte geleentheid vir diegene wat geliefdes oorsee het om wenke en verhale met mekaar uit te ruil.
“Ons besef wanneer jou geliefdes besluit om die land permanent te verlaat, moet jy meteens ’n hele paar uitdagings alleen aanpak. Hierdie sal die ideale geleentheid wees om ’n waardevolle ondersteuningsbasis op te bou vir daardie dae wat die verlange te veel raak. ’n Ondersteuningsbasis is ook belangrik om te help met die groot aanpassing én die emosionele wipwa.”
AfriForum Wêreldwyd is al vir byna twintig jaar ʼn aanlyn kuierplek vir Suid-Afrikaners wat hulself in die buiteland gevestig het.
Dié inisiatief behels ’n webtuiste en weeklikse nuusbrief wat onder meer berigte van Maroela Media, inligting oor feeste en buitelandse optredes deur bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars, asook inligting oor burgerskap, paspoorte en belasting deel.
- AfriForum Wêreldwyd se kuieroggend vind op 7 Desember om 09:00 vir 9:30 by die Irene Country Lodge in Pretoria plaas. Beperkte sitplek is beskikbaar. Klik hier en bespreek voor of op 24 November om jou plek te verseker.
Ek dink die term van mense wat “agter bly” of “agter gelaat” word moet verander, dis reeds bitter moeilike besluit, en dan moeilik om aan te pas en jou lewe van voor te begin, dis reeds moeilik sonder mense wat se “ja, en ons wat agter gelaat is” of ons moet maar “agter bly” dit sit onnodige skuld om die wat wel imigreer.
Ouers behoort hul kinders reeds van laerskool af aan te moedig om eendag te emigreer. Dit sal die proses versag.
Nee wat dink ek sal die smartryke affêre maar laat verbygaan…
Baie van ons is alleenlopend en wil nie ver van die huis af gaan kuier nie. Dit is te gevaarlik om alleen op die paaie te wees. Sal eerder die geleentheid misloop.
As hul eers weg is uit die land dan wil ek hul nie weer sien of van hul hoor nie. Hulle verlaat ons om te hoop en te sukkel en is nie hier om ons bystand te verleen nie. Dit is nwt soos die wat hul ouers by n oue te huis aflaai en vergeet van hul bestaan. Ek voel as jy jou geboorte land verlaat vir die melk en heuning van n ander land dan moet jy daar bly en vergeet van wat hier aangaan. Ons het n God wat ons deur al hierdie moeilikhede sal lei. Hulle wat die land verlaat het hul rug op ons gedraai. Ek is seker maar n verbitterde persoon danksy FW de Klerk en Roelf Meyer.