Geloftepoppe nou in VSA

Anneke Naudé in Houston, Texas saam met al die Geloftepoppe. (Foto: Verskaf)

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

Sunelle du Toit van Willow Acres in die ooste van Pretoria het dadelik geweet dat sy ’n Geloftepop vir haar jarelange skoolvriendin, Anneke Naudé, in Houston, Texas in die VSA, vir haar verjaarsdag wou koop toe sy van hierdie spesiale poppe te hore gekom het.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie en gevolglike inperkings het egter dié plan maande lank vertraag, maar Anneke het onlangs nie net een Geloftepop geskenk gekry nie, maar sommer ʼn hele 20 poppe.

“Sunelle ken ʼn mens se hart,” vertel Naudé oor WhatsApp-video waar sy tussen dié poppe sit wat onlangs by haar afgelewer is.

Die vroue, wat aan die Hoërskool Silverton in Pretoria gematrikuleer het, het al die jare kontak met mekaar behou.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het in 2019 onder Marianda Schlebusch, projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke, se leiding begin om Gelofte-lappoppe spesiaal vir Geloftedag te maak. Sedertdien wil almal ’n “stukkie onthou hê”.

Buiten die oumas by die Blommefonds se Union Park-woonstelle in Arcadia, Pretoria, wat die poppe aanmekaargesit het, maak nog ’n ouma, Vironica Roos, die poppe se rokkies, broekies en kappies sodat sy na haar kleinkinders kan omsien. ’n Mamma, Grizelda Snyders, sny die poppe uit lap, werk hulle aanmekaar en werk ook hulle wolhare vas sodat sy weer met die ekstra inkomste voedsame kos vir haar vierjarige dogtertjie kan koop.

Hierdie projek het nie net ’n kreatiewe werksomgewing geskep nie, maar ook drie niewinsgewende organisasies laat hande vat. Die FAK is ’n Afrikaanse kultuurorganisasie sonder winsbejag, die Blommefonds bied verblyf aan behoeftige bejaardes en Eleos ondersteun minderbevoorregte gesinne in die weste van Pretoria deur hulle te bemagtig met vaardigheidsprogramme.

Die Geloftepoppe voordat hulle Texas, Amerika toe gestuur is. (Foto: Verskaf)

Naudé en haar man, Christo, het in 1994 na Kanada geëmigreer en sedert 2008 bly hulle in Texas. Hulle drielingdogters, Tarina, Kristi en Annette, is nou 22 jaar oud.

Al bly hulle al solank oorsee, lê die Gelofte hulle nog altyd baie na aan die hart. Hulle vier jaarliks steeds Geloftedag, waar hulle dan die Gelofte saam as gesin aflê. Hulle praat ook steeds Afrikaans tuis.

Bella Harris in Texas met haar Geloftepop. (Foto: Verskaf)

“Dit is veral vir ons belangrik omdat ons kinders in die vreemde moes grootword. Ons land het altyd lewend gebly ons in hart. Ons het vasgehou aan daai erfenis. Ons het geweet die Here het gesorg vir ons voorvaders en daarom word die spesiale eed wat deur Voortrekkers afgelê is voor die Slag van Bloedrivier jaarliks herdenk.”

Met die gesukkel om dié geskenk by haar vriendin uit te kry, moes ander planne beraam word, want dit was nie moontlik om die pop vir Naudé te pos nie en sy het ook self van oor die water begin planne maak om die Geloftepop by haar uit te kry.

Deur die jare het Naudé met verskeie vroue oorsee bevriend geraak en sy het die storie oor Geloftedag met hulle gedeel.

Sy vertel die storie oor Geloftedag het die vroue só aangegryp dat sy vir hulle en ook vir haar dogters elkeen ’n Geloftepop wou gee.

“Die geskiedenis van Suid-Afrika het mense daar [in die VSA] aangegryp. Die mense trek dit aan as hulle eie. Die mense het baie simpatie en identifiseer daarmee.”

Naudé sê twee jaar voor Bloedrivier was daar ’n soortgelyke veldslag, Battle of Alamo, in Texas gewees, waar Meksikane al die Texans by die San Antonio-fort vermoor het. Juis daarom sê sy kan die Amerikaners met Geloftedag identifiseer.

Om die gemis aan ’n Boeregemeenskap minder te maak vir haar en haar man, het hulle ’n jaarlikse potjiekosdag tot stand gebring. Mense kom nou van heinde en ver om dié dag by te woon.

Danksy ’n ander vriendin, Debbie Harmse, wat ook in Houston bly, het die Geloftepoppe uiteindelik hulle weg oorsee gevind. Harmse het onlangs by familie in die Kaap kom kuier. Du Toit het toe dié poppe daarheen gepos en Harmse is met hulle almal in haar tas terug huis toe.

“Anneke (Naudé) is vir ons almal ’n voorbeeld,” sê Du Toit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Llady ·

Wat interessant is, en wat min mense weet, is dat die Voortrekkers met ‘n kopié van die Amerikaanse konstitusie getrek het, want hulle wou dit as voorbeeld vir hulle eie konstusie gebruik vir waar hulle hulle ookal sou vestig. Dus nog ‘n Geloftedag raakpunt tussen SA en die VSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.