Geloofsvryheid-monument onthul

Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, Jacques Müller, beeldhouer van die Geloofsvryheid-monument, Elizma Smith, lid van Die Voortrekkers se hoofdagbestuur, dr. Paul du Plessis, voorsitter van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en dr. Francois Sieberhagen, Hoof: Departement Kommunikasie, Bemarking en Missionale Programme van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (Foto: Bronwyn Bloem)

’n Monument om vryheid van geloof, vryheid van geloofsvervolging, vryheid in Christus en vryheid om God in eie taal en kultuur te mag aanbid is vroeër die week by Wemmershoek naby Stellenbosch onthul.

Die Geloofsvryheid-monument, ’n brons Statebybel met gebroke kettings, simboliseer juis dít. Die Bybelvers uit Jesaja 40:7: “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig”, beklemtoon die verganklikheid van die lewe en natuur teenoor God se almag en ewigheid.

Hierdie Geloofsvryheid-monument is Sondag opgerig ter herdenking van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se tweehonderdste verjaarsdag, 1820-2020, in samewerking met Die Voortrekkers.

Die monument sou verlede jaar onthul geword het, maar ingevolge Covid-19-inperkingsregulasies was dit nie moontlik nie.

Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, sê die Bybel is die fondament van Die Voortrekkers.

“Daarom is dit vir die Voortrekkers belangrik om die 200 jaar van die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap sowel as die mylpaal van die 2020 Afrikaanse Bybel-vertaling te vier met die oprig van die monument.”

(Foto: Bronwyn Bloem)

Dr. Paul du Plessis, voorsitter van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, sê: “Die rol van die Woord spreek om te versprei. Die boeie wat gebreek word, maak nes die Woord vry. Die Woord gee lewe en hoop. Dit is wat hierdie monument simboliseer”.

Du Plessis, wat self in 1965 as ’n Voortrekker ingelyf is en daarna ook as offisier en kapelaan in die jeugorganisasie gedien het, sê dié monument bevestig die vennootskap tussen die Bybelgenootskap en Die Voortrekkers.

“Die Voortrekkers het vir my die lewe in die natuur oopgemaak en binne hierdie ruimte kon ek my geloof uitleef.”

Jacques Müller, ’n beeldhouer van Pretoria, het die Geloofsvryheid-monument geskep.

“Die balans tussen monument en natuur is harmonieus. Omring met dennebome, ’n klein lappie grond in die oopte, by ’n bestaande amfiteater wat deur Voortrekkers gebou is, met ’n uitsig oor ’n vallei en die pieke van Simonsberg wat op die agtergrond die hemele aanraak, beleef kinders die grootsheid en skoonheid van God se Woord- en Skeppingsopenbaring op ’n unieke manier,” verduidelik Müller.

Müller het dié monument op klippe uit Wemmershoek in ’n vereenvoudigde uitbeelding van die fleur-de-lis, die simbool wat ons Hugenote voorvaders saam met hulle gebring het in hul soeke na geloofsvryheid, gestapel.

Voortrekker-kinders sal van nou af met elke kamp wat op hierdie terrein gehou word, opnuut die krag van die Woord besef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.