Gemeenskap gee 13-jarige hoop op normale lewe

Keira Rutherford (Foto: Verskaf)

ʼn 13-jarige meisie van Hoedspruit het opnuut weer hoop op ʼn normale lewe nadat die gemeenskap van dié dorpie in Limpopo saam honderde duisende rand ingesamel het sodat sy behandeling vir ʼn seldsame siekte kan ontvang.

Keira Rutherford is met fase 3 Lyme-siekte gediagnoseer en moet na Duitsland reis om die nodige behandeling te ontvang. Die tienermeisie het vir die eerste keer in Julie 2018 siek geword, en sedertdien was sy en haar desperate ouers knaend in hospitale en in dokters se spreekkamers op soek na ʼn oplossing.

Keira se simptome het soos griepsimptome begin, maar het later so erg geraak dat sy heeltemal verlam geraak het in haar bene.

Keira se pa, Rankin, sê sy voorheen vrolike meisiekind het ál swakker geword, maar dat die dokters nie geweet het wat fout was met haar nie. “Die dokters het ál die toetse op haar gedoen. Hulle het haar later huis toe gestuur en gesê daar is niks wat hulle kan doen nie. Een van die dokters het selfs vir my kind gesê dit is alles in haar kop en dat sy net moet positief wees en dan sal sy weer kan loop,” het Rankin gesê.

Rankin en Lana Rutherford, Keira se ouers (Foto: Verskaf)

Rankin en sy vrou het toe besluit om Keira se mediese verslag vir ʼn voormalige huisdokter van die gesin te stuur, sodat sy kan kyk of sy nie iets anders kan raaksien nie.

“Sý sê toe vir ons dat die dokters in die hospitaal wél Keira drie keer positief getoets het vir Lyme-siekte, en dat sy nie verstaan hoekom hulle haar nie daarvoor behandel het nie. Dit is baie moeiliker om dit te behandel nou dat die siekte al in fase 3 is.”

Rankin meen die dokters het waarskynlik nie aandag daaraan gegee nie omdat hulle vir hom gesê het dat daar nie Lyme-siekte in Suid-Afrika is nie. Lyme-siekte is ʼn siekte wat deur ʼn bakterie veroorsaak word en simptome soos hoofpyn, moegheid, spier- en gewrigspyne, geswelde limfknope en inflammasie van die brein en ruggraat tot gevolg het.

Die gesin het toe kontak gemaak met ʼn dokter in Bloemfontein wat hulle vertel het van ʼn Australiese vrou wat Lyme-siekte gehad het en dat ʼn dokter in Duitsland haar siekte behandel het. Sy kon daarna weer loop en normaal funksioneer.

Keira Rutherford in die hospitaal (Foto: Verskaf)

Die gesin het met dié dokter in Duitsland kontak gemaak oor behandeling vir Keira.

“Die koste om vir Keira te behandel, was astronomies duur, so ek het eintlik gedink ons sal dit nooit kan bekostig nie,” het Rankin gesê.

Die koste vir die behandeling van drie weke in Duitsland kos R800 000, maar die prognose is dat sy ná die behandeling self uit die hospitaal sal kan loop.

Hoedspruit se gemeenskap het egter ingespring om dié skynbaar onmoontlike wens ʼn realiteit te maak en die plaaslike plaaswag het die gemeenskap aangespoor om die gesin te help met ʼn fondsinsameling.

“Rankin is ʼn steunpilaar in die gemeenskap, so dit was tyd dat ons hóm ʼn bietjie help. Hy het al so baie ander mense gehelp. Ons het binne een dag sowat R100 000 ingesamel,” het Debby Thompson, ʼn bestuurslid van die plaaswag-groep, gesê.

Teen die einde van die week het die gemeenskap ʼn indrukwekkende R680 000 vir Keira ingesamel.

Jacaranda FM se Good Morning Angels het ook ingespring om te help. Hulle het vir Rankin en Debby genooi om in die ateljee te kom gesels en bewusmaking oor Lyme-siekte in Suid-Afrika te skep. Rankin is toe verras met ʼn donasie van Lotto Star vir die volle R120 000 wat hulle kortgekom het.

“Ons was daar vir bewusmaking, nie vir geld nie. Ek het gedink hulle sal dalk so R20 000 of so gee, maar ek het glad nie verwag dat hulle die volle R120 000 gaan gee nie,” sê Rankin.

Keira se broer dra haar uit die huis om lughawe toe te gaan (Foto: Verskaf)

“Dit was op daardie oomblik te veel vir my. Dit is amazing, dis net wow. ʼn Mens verwag nie sulke goed nie, so ek was nie voorbereid nie. Dit wys jou net daar is nog goeie mense in die wêreld.”

Rankin vertel dat Keira ook baie opgewonde is dat sy die nodige behandeling kan kry en dat sy van blydskap gehuil het. “Maar sy sê heeltyd: ‘Maar pappa, ek vat dan nou die mense se geld, hoe gaan hulle lewe?’ Sy kan nie verstaan dat mense so baie geld sal gee net om haar gesond te maak nie.”

Nadat Keira en haar gesin die geld ontvang het, het hulle dadelik begin reëlings tref. Hulle het op 15 Mei na Duitsland vertrek.

“Ons het seker so 12:00 die middag gehoor van die geld, en daardie aand toe vlieg Keira, haar ma en haar ouma Duitsland toe. Dit moes alles baie vinnig gebeur,” het Rankin gesê.

Keira Rutherford kry nou behandeling(Foto: Verskaf)

Keira het Maandag al haar eerste behandeling ontvang wat 80% van die bakterieë behoort te verwyder. In die loop van die volgende twee weke sal die res van die bakterieë ook verwyder word. Sy kry ook fisioterapie in die hospitaal om die spiere in haar bene weer sterker te maak.

“Hulle gaan ook terugkom met medikasie wat haar immuunstelsel gaan opbou, maar ons glo sy gaan sonder haar rolstoel kan terugkom.”

Rankin vertel dat Keira ʼn kranige sportvrou was voordat sy siek geword het.

“Sy was baie aktief en het hokkie en netbal gespeel. Sy was nogal ʼn sleutelfiguur in haar span. Ons glo sy sal weer haar gewone lewe terughê. Ons bid baie daaroor. Die Here het hierdie hele ding gelei, so ons hou deurlopend in geloof aan Hom vas.”

Vir meer inligting oor Keira se vordering, volg haar Facebook-blad hier: Keira Rutherford Care Fund

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Susan ·

Wonderlike nuus !!!
Sterkte Keira, glo dat jy volkome sal herstel.
MM hou ons asb op hoogte met Keira se vordering. Bid vir jou poplap

JohanC ·

Toe ek nou hiedie berig lees het ek baie hard gesluk aan die knop in my keel
DANKIE HEMELSE VADER DAT DAAR NOG MENSE IS WAT VIR MEKAAR OMGEE
Ons dra haar op aan ons Hemelse Vader en ASB Maroela Media hou ons op hoogte met Keira se vordering

? leser ·

rutherford meisie, ek bid ook dat Jesus jou op Sy Hande sal dra, en jou gesond maak, jys ‘n ster in die oe van die hoedspruit mense , maar ek kan vir jou se , jy is ‘n Ster vir die Here, hou vas aan jou geloof , bid sonder ophou ? ??

Japie ·

WONDERLIK!! Daar is nog goeie mense in die lewe. Mense wat by magte is om andere te kan help.
God het hierdie episode gelei, weereens tot eer van Sy Naam, dieselfde soos met die brug tragedie in Vanderbijlpark.

Wilmien ·

Dankie Hoedspruit vir julle aandeel aan Keira se herstel ! Mag God julle oorvloedig seen ! Sterkte Keira ons bid steeds vir jou volkome herstel

Amelia ·

MM asb hou ons op hoogte van haar vordering. Maar in SA sal nooit weer n eerste in die medies wees nie. Ons is nou afhanklik van ander mediese dokters in ander lande.

JohanL ·

Wonderlike nuus as mens hoor mense gee om en help – strekte Keira en ons hoop jy stap op eie krag uit die vliegtuig uit hier in SA.

Ek kan egter nie anders nie as om te vra: “Hoekom het die dokters in die hospitaal nadat sy positief getoets is vir Lyme-siekte, niks daaromtrent gedoen nie?” Dokters is ook net mense en maak foute, maar………………. ek vertrou my gesondheid toe aan ‘n dokter en verwag meer.

In die geval kon behandeling dalk gouer begin het met ‘n beter uitkoms.

Anon ·

Daar is ‘n ander tiener meisie in Bloem wat ook Lyme disease het – Jove.
Sy sukkel ook al ‘n paar jaar. Ek hoop hul altwee kan gesond word.

LIEZL ·

Kan ‘n mens nie die behandeling na Suid Afrika bring nie? Tegnologie is so wyd versprei, dit verstom my nogsteeds dat ons nie die nodige hulp hier alreeds het nie. Sterkte mensie, glo jy sal gou beter word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.