Gemeenskap help Kaapse barista sy vlerke sprei

Jack Umba. (Foto: BackABuddy)

Met sy vuurwarm koffie en ewe warm geaardheid het die glimlaggende Kaapse barista Jack Umba van Jack’s Place by Coffee Jess die afgelope paar jaar in die harte van inwoners en koffieliefhebbers van Claremont in Kaapstad gekruip. Daarby beskryf hulle hom as die hardwerkendste man wat hulle ken.

Daarom het die gemeenskap van dié suidelike Kaapse voorstad besluit om Umba (42) te help om sy droom te bewaarheid om sy vlerke te sprei deur ʼn tweedehandse toek-toek aan te skaf waarmee hy sy gewilde koffie en pannekoeke aan kliënte kan bedien.

Umba lewer tans sy diens in Claremont en Harfield Village met ʼn fiets, maar het intussen besef ʼn toek-toek met ʼn ingeboude koffiemasjien kan hom help om sy sakeonderneming uit te brei en ʼn groter aantal kliënte te bereik deur direk by hulle huise af te lewer en om ook onder meer by skole koffie te bedien.

Die afgelope paar jaar het Umba naam gemaak met sy heerlike boeretroos en sonnige geaardheid. Hy begroet altyd kliënte met ʼn warm glimlag en ʼn vriendelike drukkie, en gee ook terug aan die gemeenskap deur snags patrollie te doen as deel van die Harlyn-gemeenskapsforum.

Michelle Tayler-Smith, een van sy gereelde kliënte en inwoner van Claremont, wou vir Umba help om sy droom te bewaarheid en het ʼn skarefinansieringsinisiatief deur BackABuddy van stapel gestuur om R90 000 vir Umba se toek-toek in te samel.

Jack Umba en Michelle Tayler-Smith. (Foto: BackABuddy)

Dié geld sal onder meer aangewend word vir die aankope en aanpassing van die toek-toek, ʼn koffiemasjien en ʼn yskas.

Umba, ʼn man wat daarvan droom om ʼn beter lewe vir homself en sy familie te skep en die afgelope twee jaar ʼn geldelike stryd gevoer het, het self R10 000 gespaar vir dié voertuig. Daar is tans byna R61 000 ingesamel deur meer as 70 skenkers landwyd sedert die veldtog in November afgeskop het.

“Jack is oorweldig deur die ondersteuning wat hy van Suid-Afrikaners ontvang en sê dat hy hulle nié sal teleur stel nie,” sê Tayler-Smith.

Om Umba te ondersteun, volg die skakel na BackABuddy hier of maak ʼn skenking via SnapScan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Klein Frikkie van der Merwe sukkel net so om n werk te kry hy in 2000 gebore en weens diskriminernde wette kry hy ook nie werk en word nou geforseer om ‘n besigheid te begin ,wie gaan hom help?

Janice ·

My dogter is in 2002 gebore. Sy het vanaf 16 in ‘n restaurant begin werk oor vakansies en naweke wanneer haar vriende ontspan en partytjie gehou het. Sy het haarself opgewerk van “jack of all trades” waar sy selfs toilette skoongemaak het na barista, kroegmeisie, kok en kelnerin. Sy het haar eie sakgeld verdien en ook ‘n lekker sommetjie gespaar. Na matriek het sy self van plek tot plek gegaan en haar CV uitgedeel totdat sy werk gekry het. Nou spaar sy om oorsee te gaan werk, betaal self vir haar kursusse wat sy doen en beplan om oorsee deeltyds verder te studeer terwyl sy werk. Nie almal kan gehelp word nie, maar almal kan inspring en hulself help. Hierdie man vra nie konstant vir aalmoese nie. Hy woeker met sy besigheid. Gun hom sy plek in die son terwyl hy ‘n eerlike bestaan probeer maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.