Gemeenskap staan saam om fudge-oom te help

Oom-Willie-fudge

Foto: nasieinspirasie.blogspot.com

Die gemeenskap van Montana, in die noorde van Pretoria, het gewys dat mense nog omgee vir hul naaste.

Oom Willie Smit, beter bekend as “die fudge-oom”, wat die afgelope 11 jaar op die hoek van Sefako Makgatho- (Zambezi-) en Enkeldoornstraat staan en fudge verkoop het, het baie mense laat wonder toe hy op ʼn dag nie meer op sy gewone plek staan nie.

Ian de Jager, mede-eienaar van AdSpark, ʼn advertensiemaatskappy, het op ʼn Facebook-groep gesien baie mense vra waar oom Willie is. Hy het navrae begin doen en gehoor dat oom Willie al jare lank ʼn stryd met Parkinson-sieke het, en dat hy nie meer gesond genoeg is om langs die pad te staan en fudge verkoop nie. Ian het toe besluit om ʼn advertensie te ontwerp sodat mense steeds vir oom Willie sal onthou en ondersteun.

“Ek weet self hoe dit voel om werkloos te wees, en die mense van Montana het oom Willie baie goed ondersteun omdat hulle hom ken en dit sy enigste inkomste is.” Ian sê hy probeer elke Dinsdag en Donderdag die advertensie op Facebook versprei sodat mense op dié manier bestellings vir fudge kan plaas.

Nog ʼn weldoener, Koekoes Vorster (54), wat in dieselfde kompleks as oom Willie bly, het besluit om alle bestellings en administrasie te hanteer, aangesien oom Willie sukkel om te praat. “As iemand hom bel, kan hy nie eintlik met hulle gesels nie.”

Koekoes meen sy doen dit omdat oom Willie nie langs die pad staan en bedel nie, maar probeer om iets te doen. “Hy sukkel, maar hy is bereid om homself te help. En vir ʼn ou wat bereid is om homself te help, het ’n mens altyd ʼn oop hand.” Koekoes sê hy is nie lui om te werk nie, en as sy vir hom ʼn bestelling gee, spring hy dadelik aan die werk.

Oom Willie werk nou van die huis af, maar dit gaan in die omstandighede goed met hom. Hy maak steeds self sy fudge en volgens Koekoes gebruik hy net die beste bestanddele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Gesiggie ·

Wat n mooi gebaar van jou Ian… hierdie Oom is n voorbeeld vir baie ander wat net wil bedel, maar niks wil doen… en ou Koekoes” dankie vir jou omgee deur Oom Willie te help… Mag die bestellings nogsteeds instroom, en mag Oom Willie aanhou met sy goeie werk.. Daar is nog mense wat omgee… Well done”’ aan almal se bystand.

Ian de Jager ·

Dankie Gesiggie, ons waardeer. Ons hoop van harte Oom Willie is lekker besig na die plasing van hierdie artikel! :-)

Delia ·

Dankie vir die berig, maar waar en hie kan mens Koekoes kontak om ‘n bestelling te plaas?
Verskaf asb vir ons ‘n kontak nommer.
Dankie.

Landi Slatter ·

Dagsê Delia

Koekoes se nommer is 083 6581 472. Jy kan gerus jou bestelling by haar plaas.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

broos ·

ek wens ek het nader gebly sodat ek ook kon fudge koop by die oom!

Delia ·

Dankie Landi, bestelling klaar geplaas….hoop die oom kry sommer baie!

Ian de Jager ·

Hallo almal (en veral diegene in die Noorde van Pretoria),

Daar’s ‘n oulike advertensie op AdSpark se Bakkiesblad (http://facebook.com/AdSparkSA) vir Oom Willie se fudge. Deel dit gerus op Facebook met die mense in jul omgewing.

Tannie Koekoes se kontaknommer vir bestellings is (083) 658-1472.

Ons glo Oom Willie gaan nou lekker besig wees. Baie dankie aan Adéle by Maroela Media vir die skryf en plaas van hierdie artikel.

Groetnis,

Ian de Jager

Koekoes Vorster ·

Baie Dankie vir julle artikel
Ons hoop dit laat die bestellings I stroom Wil
Willie Se fudge

Ons Bly ons Montana Tuine en ons is vroeg op vir diegene Wat gou voor werk fudge Wil Kom afhaal
Whatsapp of SMS of epos [email protected] vir Willie Se fudge

felix ·

Mooi Willie, jy verdien net die beste omdat jy so humble is. Ons sal altyd by jou staan.

Rhona ·

Ek self het altyd by Oom Willie gekoop as ek stad toe gaan, en eerste altyd die bybel versie gelees wat by die fudge in was, sterkte Oom

Eliza-beth ·

Wat ‘n wonderlike storie – dêmmit ek IS so lief vir fudge en sit hier kms van Pretoria! Oom Willie is ‘n wonderliek voorbeeld vir mense wat werkloos is; hy het bewys hy het sy trots en eerder as om net te bedel DOEN hy iets. Baie kan by hom leer!Sterkte vir almal betrokke en ek weet net die fudgewalms gaan alle verbygangers MAL maak van lus! Ai dalk moet ek oor die posbestel maar met ons treurige dienste…sê liefs niks verder!

Tania ·

Ek het ook gewonder waar is ons fudge oom…. Dankie vir die info ons sal beslis ondersteun, hy was al so deel van ons daaglikse roete gewees!

Gesiggie ·

Ek wil net byvoeg.. noudat ek al die boodskappe lees, hier in ons dorp is ook n ou Oom ek skat hom so 58/62 hy kom gereeld om by my werk, met self gemaakte bybel versies wat die mooiste prentjiess ophet… en hy vra wat ook al jy het om vir hom as n donasie te gee… ek koop altyd by hom, en gee wat ek kan. Dit is ou mensies soos Oom Willie en die Oom, wat vir baie jong mense n voorbeeld stel… hul loop vir Km elke dag, hul staan in die son… hul werk vir ure lank, en is tevrede met net dit wat jy vir hul kan gee… Waardeer wat jy het… want ander het dit nie. So bly vir al die ondersteuning”’

Tania Combrink ·

Dankie vir die nommer Maroela en Koekoes!! Ons gaan hom soos voorheen ondersteun
Tania

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.