Gemeenskapbediening vir gesinstabiliteit open deure

beginet-deon-vd-berg

Ds. Deon van den Berg is die stigter van Beginet en glo stabiele gesinne sal gemeenskapstabiliteit tot gevolg hê. Foto: Verskaf.

Beginet, ʼn bediening wat fokus op gesinstabiliteit, het sy deure amptelik op Vrydag 13 Julie in die Jakarandastad geopen.

Warren Brosnihan, ʼn bekende in rugbykringe en ondersteuner van Beginet, het die geleentheid gelei en ds. Deon van den Berg, stigter van die bediening, het aan die gaste die inspirerende storie van Beginet se ontstaan vertel.

“Beginet sê gaan oor tot aksie en neem verantwoordelikheid vir jou lewe. Waar jy ook al nou is, begin net vandag met die eerste tree na ʼn beter lewe wat daar in die Here God vir jou moontlik is. Uiteraard begin die pad na ʼn beter toekoms by jouself en jou belangrikste verhouding – die een met jou Skepper,” het Van den Berg gesê.

Van den Berg het bygevoeg dat die bediening wil help om gemeenskapstabiliteit te bevorder deur gesinne te stabiliseer en te ondersteun.

Die gaste, wat sakelui, politici en die media ingesluit het, het oorweldigend positief gereageer op die nuus dat die programme wat Beginet aanbied gratis gedoen sal word om alle gesinne wat hulp nodig het, te bedien.

beginet-doris-mbisi

Doris Msibi, ʼn voormalige mevrou Suid-Afrika, het Beginet se kantore amptelik geopen. Foto: Verskaf.

Na afloop van die verrigtinge in die saal van Radio Kansel, het gaste beweeg na die nuwe kantore van Beginet, waar Doris Msibi, ʼn voormalige mevrou Suid-Afrika, die lint geknip en gaste na binne genooi het.

“Die kantore dien as basis, maar die bediening word landwyd uitgerol en maak ook gebruik van klankgolwe van gemeenskapsradiostasies om elke gemeenskap moontlik bereik.

beginet-warren-brosnihan

Warren Brosnihan was die seremoniemeester by Beginet se opening. Foto: Verskaf.

“Gesinne bestaan uit ouers, ʼn huwelik en kinders en daarom fokus Beginet op volwassenes sowel as kinders. Die bediening sal uitreik met programme vir verhoudings binne gesinne, asook hersaamgestelde en enkelouergesinne, asook huweliksverhoudings. Die finansies van die gesin word ook as deel van die programme behandel,” het Van den Berg gesê.

Die bediening is nog in sy babaskoene en materiaal is tans net in Afrikaans beskikbaar, maar Van den Berg sê daar word reeds aan Engelse bedieningsmateriaal gewerk en hulle sal hulle programme later ook in ander Afrika-tale beskikbaar wil stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Derek ·

Deon, ek het jou vroër die jaar ontmoet. Hierdie nuwe bediening vul beslis ‘n leemte in ons samelewing. Sterkte en ek bid ons Vader se seën op jou en jou span!

Deon ·

Derek. Baie dankie vir jou ondersteuning en gebed. Kom kuier gerus by die kantoor

Susan Bodenstein ·

Baie geluk Deon. Ons wens julle sterkte, seen en voorspoed toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.