Gemeenskapsorganisasie in Pretoria ‘baken van hoop’

Daar is ’n ou gesegde wat lui: Dade spreek harder as woorde. En die raakvat-span van die Eleos-gemeenskapsorganisasie in Pretoria-Wes se onbaatsugtige omgee-dade het nou al vir meer as twee dekades lank dié stelling bewys.

Die Griekse woord “eleos” beteken “genade in aksie” en die Eleos-gemeenskapsorganisasie is ’n voorbeeld daarvan. Dié niewinsgewende organisasie is in 1998 as ’n baken van hoop vir die behoeftige gemeenskappe van Booysens en Claremont in Pretoria-Wes gevestig.

Die idee agter Eleos het in Augustus 1989 ontstaan toe ’n groep passievolle vroue van Silverlakes in die ooste van Pretoria saamgespan het om hulp aan die behoeftige gesinne van die Booysens-omgewing te verleen. Dié gemeenskapsorganisasie maak staat op finansiële hulp van weldoeners om nie net in dié gesinne se basiese behoeftes te voorsien nie, maar om ook deur verskeie projekte na hulle emosionele en geestelike welstand om te sien.

Dié organisasie se hoofdoel is om gesinne as ’n geheel op te bou en toe te rus om ’n beter toekoms vir hulself op te bou. Lizelle Lotter, ’n terapeut by Eleos, vertel dat dié organisasie se Vroeë Kinderontwikkelingsentrum, kleuterskool en drie naskoolsentrums daarna strewe om ’n pad met elke ouer, grootouer en kind, van baba tot tiener, te stap.

“In die babasentrum fokus ons om mammas te help met hulle babas en om die bande tussen mamma en baba te vestig en te versterk,” sê Lotter.

Eleos sien om na die kinders se emosionele welstand (Foto: eleos.co.za)

Die Booysens Beertjies-kleuterskool en naskoolsentrums fokus nie net op verstandelike ontwikkeling van die kinders en tieners nie, maar ook veral op die emosionele ontwikkeling en die ontwikkeling van nodige lewensvaardighede.

Volgens Lotter kom die kinders in die naskoolsentrums dikwels uit traumatiese huislike omstandighede en word hulle deur maatskaplike werkers na dié sentrum verwys. “Ons span terapeute en maatskaplike werkers verrig terapeutiese en bemagtigingswerk onder die kinders. Terapeute doen groepsterapie in die naskoolsentrums en help die kinders ook met huiswerk omdat meeste van die ouers ongeletterd is,” verduidelik sy.

“Die meerderheid van hierdie kinders woon saam met hul gesinne in Wendy-huisies of in plakkerskampe, slaap op die vloer, leef van brood en pap en is baie gelukkig as hulle die luuksheid van warm water het. Party van hulle weet nie eens hoe werk ’n stort nie. Dit is omstandighede wat ʼn mens se hart ruk,” vertel Lotter.

Eleos stap ‘n pad saam met die kinders (Foto: Verskaf)

Eleos organiseer drie kampe deur die jaar vir hierdie kinders wat jaarliks ’n hoogtepunt op die kalender is. Dié kampe sluit in twee naweekkampe en ʼn kamp van vyf dae tydens die Oktober-skoolvakansie. Dié kampe het ’n terapeutiese grondslag met die doel om kinders die emosionele vaardighede te leer om die seer in lewe te kan verwerk en te hanteer.

“Dié kinders se wêreld is so groot soos wat hulle voete hulle kan dra. Op die kampe word hulle blootgestel aan ʼn ander wêreld met ’n warm bed, warm water, drie maaltye per dag, pret en uitstappies, maar in besonder die geleentheid om bloot net kind te wees. Baie tyd word bestee om dit by die kinders tuis te bring dat daar ʼn beter lewe is waarna hulle kan streef en dat God oor hulle droom en ʼn plan vir hul lewens het,” sê Lotter.

Dié kampe het al vir byna twee dekades baie kinders se lewens verander en hoopvolle getuienisse gelewer. Die volgende kamp vind van 26 tot 30 September by die Zwartkloof-natuurreservaat buite Bela-Bela plaas.

Behalwe vir dié projekte wat op die welstand van die kinders fokus, is daar ook projekte wat daarop gerig is om leiding vir ouers te bied, manne-aande en die Agapé-projek wat fokus op die uitdagings waarmee bejaarde vroue in die gemeenskap sit.

“’n Bord kos word by al die projekte uitgedeel omdat dit aan die einde van die dag steeds die grootste behoefte is,” sê Lotter.

Omdat Eleos ’n niewinsgewende organisasie is en onafhanklik van die staat staan, is die organisasie afhanklik van verskeie geldinsamelingsinisiatiewe om te kan doen wat hulle doen. Lotter doen ’n beroep op die publiek om op verskeie maniere by hulle projekte betrokke te raak. “Ons grootste behoefte is geld en kos, maar enige bydrae is welkom,” sê sy.

Enige skenking kan by Eleos se gemeenskapsentrum in Markstraat in Pretoria-Wes gemaak word.

“Eleos se hart is om hoop te gee aan ’n gemeenskap wat dit so broodnodig het. Om hulle te laat besef hulle is nie alleen nie, maar dat God ten alle tye by hulle is.”

Besoek Eleos se webtuiste vir meer inligting oor verskeie projekte en om ook uit te vind hoe jy hulle kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CG ·

“…. ‘n groep passievolle vroue….” Dis ‘n mondvol! Wow!!!!

wielie ·

Gaan koop Elios se heerlike tuis gebakte koekies!! Yummy ,,,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.