Gemeenskapsradio: Wanneer Noord, Oos, Suid en Wes saamtrek   

Groep-1.jpg

Klankgolf 2019 groepsfoto (foto Michael van der Walt)

Maroela Media was nog in sy babaskoene toe die eerste Afrikaanse gemeenskapsradiostasieseminaar in 2012 in Centurion aangebied is. Veertien verteenwoordigers van ses radiostasies het destyds die seminaar bygewoon. Agt jaar en agt radioseminare later, het gemeenskapstasies van oral in die land hierdie jaar weer saamgetrek om een groot seminaar te hou. Nie minder nie as 110 verteenwoordigers van 27 stasies en ander media‑instansies het dié jaar se grootste seminaar nog bygewoon!

ATKV Goudini Spa was behoorlik in rep en roer van Woensdag af soos radiostasies van heinde en ver bymekaar gekom het om te leer, kennis op te knap en te netwerk. Stasies van sover as Nelspruit, Modimolle (Nylstroom), Bethlehem, Port Elizabeth, George, Springbok en Windhoek, om maar ʼn paar te noem, het vol verwagting opgedaag. Die adrenalien was tasbaar. Selfs die nat en winderige Bolandse weer kon nie die gemoedere van die opgewonde verteenwoordigers demp nie.

seminaar_kuier.jpg

Daar word heerlik gekuier tussen sessies.

Onder die ervare leiding van Coenie de Villiers het die geleentheid seepglad verloop. Coenie se voetspore lê diep in radio: “Gemeenskapsradio is ʼn radar vir die plaaslike gemeenskap, maar ook die spieël daarvan. Dit gee stem aan daardie gemeenskap.”

Quinton Adams, The Shack Builder, het vir die stasies ʼn boodskap van hoop gegee.  Hulle is herinner aan watter belangrike rol hulle in hul gemeenskappe speel.  Soos hy tereg sê: “Dis doeners wat die wêreld verander.”

Die baie bekende en ervare Mariëtta Kruger het haar kennis met die groep kom deel.  Lizma van Zyl, ook ʼn bekende in televisie‑ en radiokringe, het al meer as 14 000 nuusbulletins geskryf en die groep was bevoorreg om by haar te leer. Gerben van Niekerk, onder andere ʼn bekende by OFM en tans besig met sy doktorsgraad in mediastudies, het gepraat oor hoe musiek saamgestel moet word en hoe hot clocks werk.  Sy passie vir radio was tasbaar: “Ek is lief vir radio, want dit is ʼn plek waar jy die gewone ongewoon kan maak.”  Nog vele ander sessies het gesorg dat almal met nuwe ywer kon huis toe gaan met iets nuuts wat geleer is.

“Wat ʼn voorreg om saam met Maroela Media opleiding by legendes te kon kry,” skryf Jean Sadie van Jou Radio.

 Heartbeat_BayFM_Helderberg.jpg

Abigail Damons, Jenkin Uithaler en Lucinda Orie van Heartbeat FM, sowel as Angelique Schneider van Bay FM en Anéle du Plessis van Radio Helderberg, gereed vir die volgende sessie om aan te breek.

Daar is egter nie net hard gewerk nie –  die geleentheid is ook gebruik om Maroela Media se eie liedjie, “Plattelanders”, aan die stasies bekend te stel.  Dié lied is ʼn uitvloeisel van die temamusiek van die radiodrama, Plattelanders, geskryf deur Joe Kleynhans, wat tans op verskeie gemeenskapsradiostasies en Maroela Media geluister kan word.  Die musiek en lirieke is die werk van Muller Brandt en Michael van der Walt.  Hulle het ook gesorg vir die aand se vermaak.

Die hoogtepunt was egter die ongeskrewe tema wat deurlopend tydens elke sessie en informele gesprekke deurgeskemer het: die boodskap van hoop.  “Ek gesels met Stefan van Kanaal 7 in Namibië en hy vertel my van die droogte, maar hulle bly positief. Egbert van Radio Namakwaland vertel my van die droogte se uitwerking op die ekonomie, maar hulle kyk net vorentoe,” vertel Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

Gemeenskapsradio is in staat om hul gemeenskappe op te bou, te bemagtig en daadwerklik op grondvlak te begin om positiewe verandering mee te bring. Soos Elize Parker, skrywer en radioaanbieder by Tygerberg 104, tereg opmerk: “Maar meer as die som van al die lekkerte, leersaamheid en kollegaskap was dit ’n samekoms van mense met omgeeharte, keurige Afrikaans en stemme wat die klankgolwe soos warm stroop oor ons lieflike land kan laat loop om ons gesamentlike gemeenskapsradio-luisteraarstal van 1,6 miljoen nuwe hoop te kan gee.”

Tot volgende jaar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Liberaal ·

Dit raak al moeiliker vir ons globale elite om vir julle voor te skryf wat om te glo en dink as julle julle eie media stig. Ons heersers wil he julle moet die liberale hoofstroommedia luister en kyk, daar sal ons heersers vir julle vertel wat om te dink en doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.