Gemeenskapsradiostasies: Dit is waar Afrikaans geleef word

Jan-Hendrik Kleynhans van Radio Namakwaland saam met Mariëtta Kruger (links) en Coenie de Villers (middel). Kleynhans het gesê die radioseminaar was vir hom  ʼn persoonlike hoogtepunt van die jaar en het dit 1 000% vir verrykingswaarde toegeken. Foto: Verskaf.

“Gemeenskapsradiostasies is die plek waar Afrikaans elke dag gelééf word. Terwyl ons vergader, debatteer en strategieë vir Afrikaans se oorlewing bespreek, is die omroepers van die Afrikaanse gemeenskapsradiostasies elke dag besig om Afrikaans op die mooiste kleurrykste manier moontlik te praat.”

Só sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, ná afloop van die Klankgolf-radioseminare wat 25 en 26 Oktober in die Ruslamere-hotel in Durbanville, en 18 en 19 Oktober by Leriba Lodge in Centurion aangebied is.

“Dit is hierdie radiostasies se omroepers wat uitsaai van plaaslike kultuurfeeste, basaars en rugbywedstryde af. Hulle help omsien na straatkinders in hul dorpe, help soek na verlore troeteldiere en spring in om boere te help as die nood druk.

“Hulle lag saam en huil saam, want hulle ken hul gemeenskap. Sonder sulke stasies, en hul passie vir Afrikaans, sal dit bykans onmoontlik wees vir Afrikaans om te floreer in die jare wat kom.

“Daarom is dit vir ons deur en deur die moeite werd om, ter wille van Afrikaans, die gemeenskapsradiostasie landwyd te ondersteun met inisiatiewe soos hierdie,” het Lombaard bygevoeg.

Dié seminare is vir Maroela Media ʼn hartsprojek wat baie wyer strek as net die persone wat dit sedert 2012 bywoon. Hierdie jaar het dertig radiostasies (18 Kaapse en 12 Gautengse stasies) die seminaar bygewoon.

Radiostasies van Nelspruit, die Waterberge, Lichtenburg, Port Elizabeth, Okiep, Springbok, Vredendal, asook Namibië het die geleentheid bygewoon. Die radiostasies verteenwoordig ʼn totaal van 1,1 miljoen luisteraars.

Op vanjaar se seminaar is onderwerpe soos die veranderinge van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) se wetgewing en die Broadcast Research Council (BRC) se jongste RAMS-syfers gedek. Debbie Oosthuizen Smith van Glue Media het met die stasies gesels oor radio-advertensieverkope en promosies en Mariëtta Kruger het ʼn praktiese opleidingsessie in radio-aanbieding gebied.

“Maroela Media se doelwit met die werksessies wat by Klankgolf aangebied word, is dat dit oorgedra word aan kollegas en die luisteraars pluk die vrugte van ʼn radiostasie wat ʼn hoër gehalte produk lewer,” het Annelize Brits, bedryfbestuurder van Maroela Media en organiseerder van die jaarlikse seminaar, gesê.

George Visser, die stasiebestuur van Lichvaal Stereo in Lichtenburg, Noordwes beaam dit.

“Dit is die rede waarom ek hierdie radioseminaar, sedert die begin, elke jaar bygewoon het. Die enigste manier om sinvol te verbeter en uit te brei is om by jou kollegas te leer, want elke stasie het sy eie unieke probleme, uitdagings en oplossings. Die kundiges wat ons elke jaar kom toespreek, se kennis kan jy nêrens anders kry nie.”

Visser sê hy het by die heel eerste spreker op die eerste seminaar geleer dat ʼn gemeenskapsradiostasie eenvoudig net groter moet dink.

“Dié spreker het gesê ons is nie net sommer ʼn gemeenskapsradiostasie nie, ons is ʼn radiostasie wat vir ʼn spesifieke gemeenskap uitsaai.”

Talle van die konferensiegangers was dit eens: die kennis, wat by die seminare gedeel is, is belangrik, maar dit is die netwerkgeleenthede gedurende en ná afloop van die seminaar, wat vir hulle van onskatbare waarde is.

“Ek wil net aan Maroela Media baie dankie sê vir ʼn radioseminaar soos hierdie. Dit is leersaam en insiggewend. Die netwerkgeleenthede by so ʼn seminaar is heerlik en natuurlik ook baie waardevol,” het Johnny Nel van Waterberg Stereo se Nylstroom-ateljee, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

A ·

Hoekom is Debbie Oosthuizen Smith se aanbieding in engels as hierdie oor afrikaans gaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.