Genade vir boere te midde van droogte, brande, plaasaanvalle

‘n Boer ontvang sy voer (Foto: Boks voer vir ʼn boer)

Die “Boks voer vir ʼn boer”-projek het te midde van talle verwoestende gebeure soos droogte, brande en plaasaanvalle, beter gevaar as ooit tevore.

Die bestuurder van die projek, Elria Steinberg, sê dit is te danke aan mense se oop hand, en dat hulle die boere genadig wil wees in moeilike tye.

Toe Maroela Media in September met Steinberg gesels het, het hulle al sowat R200 000 se voergeld vir boere ontvang. In slegs twee maande het dié bedrag meer as verdubbel tot sowat R518 000.

Steinberg sê mense het in die skoene van die Vrystaatse boere geklim en gehelp waar hulle kon. Nou wil sy hê mense moet dieselfde doen vir die boere in Wes- en Noord-Boesmanland.

Die Boks voer vir ʼn boer-span (Foto: Verskaf)

“Kom ons onthou weer van die boere in Boesmanland wie se aarde vir langer as nege jaar al swart verbrand lê. Kom ons draai die fokus na hulle toe en klim ook met soveel passie en oorvloed in hulle skoene. Ek dink hulle verdien dit,” sê sy.

Steinberg sê sy dink die wreedheid van onlangse plaasaanvalle het mense aangespoor om boere te help, en dat sy nou weer met die omgeeharte van Suid-Afrikaners wil praat om nog meer boere te help in ʼn ander gebied.

‘n Boer bekyk sy plaas (Foto: Boeks voer vir ‘n boer)

“Hulle hou al vir soveel jaar moed en trotseer net dag vir dag die pikswart droë warm aarde om hulle diere aan die lewe probeer hou.

“Dink net daaraan dat 300 skape vir ’n dag lank aan ons Boetie-boks kan vreet. Dink net aan ’n boer wat geen natuurlike weiding meer oor het nie. Aan die gevoel van hoop as hy ’n sak voer kan laai waarvoor jy betaal het.”

Sy sê sy verstaan dat ʼn aanlyn konsep nog vir baie Suid-Afrikaners vreemd is, maar dat dit eintlik die doeltreffendste manier is om op die oomblik hulp te bied.

“Suid-Afrikaners wil fisiek ’n bruin kartonboks met benodigdhede pak. Hulle wil ’n wa met bale laai en dit stuur, maar ek nooi almal uit om die uitdaging te aanvaar en na die aanlyn winkel te gaan kyk.

“Hier is geen logistiek aan verbonde nie. Bokse hoef nie gepak, gestuur en versprei te word nie. Geen vervoerkoste is betrokke nie. Geen koolstofvoetspoor is ter sprake nie, behalwe vir die boer in die betrokke gebied wat sy voer by die naaste koöperasie moet gaan laai. Jy koop ʼn boks aanlyn, die geld word in die boer se rekening inbetaal en hy gaan laai die voer,” verduidelik sy.

Steinberg vertel van terugvoer wat sy gekry het van ʼn boervrou wat sê dat die ergste van alles, tussen al die oop vlaktes, maer vee en min kos, vir haar sal wees as sy nie meer God se liefde en sorg in die sielsvernietigende tyd kan raaksien nie.

“As daardie boervrou in die aand of deur die dag bid vir uitkoms, en daar kom ’n voerbetaling deur, dan is dit vir haar mos gebedsverhoring.

“Kom ons wees daar. Kom ons wees die manna en die kwartels. Kom ons sit teenaan en koop vir die eerste keer in ons lewens iets aanlyn. Vir iemand anders.”

Besoek Boks voer vir ʼn boer se webtuiste hier om ʼn boks te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.