Geniet ‘Die Gelofte’ nou nog langer

‘Die Gelofte’ kuier tot en met 19 Junie op die planke. (Foto: verskaf)

“Hierdie is ons vyf broodjies en twee vissies.”

Só sê Jannes Erasmus oor die verlenging van die musiekspel Die Gelofte se speelvlak.

Kaartjies vir dié indrukwekkende musiekspel het tot so ʼn mate uitverkoop dat dit nou tot en met 19 Junie vanjaar op die planke van AfriForum Teater in Pretoria gaan kuier.

“AfriForum het besef daar is ’n behoefte by die publiek vir die boodskap van hoop wat Die Gelofte-musiekspel oordra, maar die oorweldigende positiewe reaksie van die publiek en die kaartjieverkope het al ons verwagtinge oortref. Dit maak dit moontlik dat ons nou die geleentheid aan meer mense kan bied om hierdie boodskap van hoop eerstehands in die AfriForum Teater te beleef,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Met ’n hoopvolle hart het Erasmus met die aanvang van die musiekspel, toe kaartjieverkope nog stil was, agter in die teater gesit en bid.

“Ek het gevra dat die Here diegene wat na die musiekspel moet kyk, na ons toe moet stuur.”

Hy vertel opgewonde dat 95% van die volgende twee weke se vertonings reeds uitverkoop is.

“Ons is nie daarop uit om net ’n vertoning aan mense te gee nie. Ons bied ’n ervaring. Sou jy in die bevoorregte posisie wees om deel van die gehoor te wees, sal jy jouself binne-in die laer van hierdie Voortrekkers bevind,” het Erasmus vroeër aan Maroela Media vertel.

Nadia Beukes en Johan Vorster (foto: verskaf)

Erasmus is die regisseur en die musiek is deur Johan Vorster en Jacomien de Wet geskryf.

Nadia Beukes, Bernice West, Vorster en De Wet is op die planke te sien.

“Ons kinders kry nie meer die geleentheid om daardie geskiedenis op skool te leer nie. Dit was vir ons ’n opwindende uitdaging om die kinders in die teater terug te kry. Dit is ’n familie-musiekspel. Jy kan jou hele familie bring,” het Vorster vroeër vanjaar ’n uitnodiging aan Suid-Afrikaners gerig.

West, wat die rol van Maria vertolk, het in ’n vorige onderhoud aan Maroela Media vertel dat sy opgewonde oor die produksie is.

“Die storie bevat baie juwele. Daar is soveel aspekte daarvan waarmee mense hulle sal kan vereenselwig. Daar is Christelike, romantiese, geskiedkundige en moderne dele in die musiekspel. Daar is ʼn klomp stories wat in Die Gelofte vertel word wat later een storie vorm.”

  • Die Gelofte is tot 19 Junie 2022 op die planke en kaartjies daarvoor kan hier aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.