Geopende Deure Suider-Afrika vier 50 jaar van geloof, hoop

(Foto: Geopende Deure)

Geopende Deure Suider-Afrika vier in Mei vanjaar sy 50ste bestaansjaar. Volgens Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, is dit ʼn wonderlike mylpaal vir die organisasie.

“Ons kan net met dankbaarheid terugkyk op ʼn geseënde pad van diens aan die vervolgde kerk, wat getuig van die Here se getrouheid en oneindige genade.”

Geopende Deure Suider-Afrika vorm deel van Geopende Deure Internasionaal, wat die vervolgde kerk in meer as 65 lande in alle uithoeke van die wêreld bystaan. Wanneer ʼn mens aan Geopende Deure Internasionaal dink, kom die bekende Hollandse sendeling, Broer Andrew, se naam onwillekeurig by jou op.(

Broer Andrew het besef dat daar ʼn groot behoefte aan ondersteuning is vir vervolgde Christene in geslote lande, wat daartoe gelei het dat hy Geopende Deure in 1955 gestig het. Hy het veral bekendheid verwerf vir sy gevaarlike reise na lande agter die Ystergordyn in Oos-Europa. Hy het talle Bybels in sy Volkswagen Kewer na Christene in hierdie lande gesmokkel. Hy is ook die skrywer van die internasionale topverkoperboek, God’s Smuggler, en staan gevolglik in die volksmond bekend as God se smokkelaar.

Broer Andrew het in Maart 1971 in Suid-Afrika kom kuier op uitnodiging van Francis Grim van Hospital Christian Fellowship. Hy het ʼn landwye toer onderneem om sy bediening en werk aan plaaslike Christene bekend te stel. Nog ʼn besoek aan Suid-Afrika het ʼn paar weke later gevolg, waartydens Broer Andrew met plaaslike kerkleiers vergader het oor die totstandkoming van ʼn Geopende Deure-bediening in Suider-Afrika. In Julie 1971 is die plaaslike tak amptelik gestig, met een voltydse werknemer – vandag het die plaaslike basis ʼn personeel van oor die 30 mense.

Geopende Deure Suider-Afrika het in die 50 jaar talle hoogtepunte beleef.

“Ek dink ook terug aan Projek David, wat die Bybel se boodskap onder ongeletterde mense in Angola en Mosambiek versprei het; en Projek Timothy, wat opleiding aan inheemse godsdienstige leiers verskaf het om die Bybel te verstaan en daaroor te kommunikeer.

“Nog iets wat beslis oor die jare deurentyd ʼn hoogtepunt was, is Geopende Deure Suider-Afrika se oorsese reise om die vervolgde kerk te besoek. Die basis se eerste oorsese reis het in September 1972 plaasgevind, toe 70 jong Suid-Afrikaanse Christene die Olimpiese Spele in München, Duitsland, bygewoon het vir ʼn evangelistiese uitreikprogram.”

Gouws sê toere na die vervolgde kerk is vandag ʼn noodsaaklike deel van Geopende Deure se bediening. Elke jaar word verskeie geslote lande besoek om vervolgde Christene te bemoedig en te versterk. Diegene wat al op een van hierdie toere was, kan getuig dat dit ʼn lewensveranderende ervaring op ʼn mens se geestelike reis is.

“Ek word met ʼn oorweldigende gevoel van dankbaarheid gevul wanneer ek terugkyk op ons pad om die vervolgde kerk die afgelope halfeeu te dien. Dan besef ek weereens hoe geseënd ons bediening en sy werksaamhede oor die jare was.”

Gouws het Geopende Deure se vennote en vrywilligers bedank vir hulle bydrae tot die 50 jaar van genade.

“Dit sou beslis nie moontlik gewees het om hierdie mylpaal te behaal sonder die volgehoue ondersteuning van ons getroue vennote en vrywilligers nie. Hulle het deur die jare met hulle gebede en ondersteuning bankvas agter ons vervolgde broers en susters in Christus gestaan.

“Wanneer ek terugkyk op ons pad saam met ons vervolgde familie, wil ek bowenal die Here bedank. Sonder sy getrouheid en genade sou niks hiervan moontlik gewees het nie. Alle eer aan ons hemelse Vader.”

Lesers kan God se goedheid saam met Geopende Deure Suider-Afrika op Saterdag 8 Mei kom vier. Die organisasie gaan dié dag van 08:30 tot 12:30 groot feesvieringe by Northcliff Union Church in Randburg hou om sy 50ste bestaansjaar te vier.

“ʼn Propvol program met lofprysing en aanbidding, inspirerende boodskappe, getuienisse uit die vervolgde kerk en ʼn optrede deur ons ambassadeur, Loyiso Bala, word beplan. Die kaartjies kos slegs R100 per persoon. Of jy kan die program aanlyn volg teen R50 ʼn kaartjie. Hierdie dag gaan besonders wees en enigiemand wat nog altyd meer wou weet oor ons bediening en die vervolgde kerk moet dit nie misloop nie,” sê Gouws.

Om jou plek te bespreek, kan jy die spesiale webwerf besoek, Opendoors50.co.za

  • Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor die organisasie se besonderse mylpaal. Gouws vertel ook hoe jy kan deel in hulle feesvieringe vir inspirasies en getuienisse uit die vervolgde kerk. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.