George het eerste sonkraglughawe in Afrika

Sonpanele. Foto: www.pixabay.com

Sonpanele. Foto: www.pixabay.com

George-lughawe in die Wes-Kaap, wat jaarliks meer as 600 000 passasiers na hul bestemmings vlieg, het amptelik een van die eerste sonkraglughawes in Afrika geword.

Dié lughawe het onlangs ʼn sonkrag-energieprojek van stapel gestuur wat in ongeveer 40 persent van die lughawe se elektrisiteitsbehoeftes sal voorsien. Teen die voltooiing van die projek sal dié lughawe heeltemal selfvoorsienend wees met behulp van sonkrag.

Die minister van omgewingsake, Edna Molewa, het die departement van vervoer verlede week gelukgewens met die prestasie aangesien dié departement een van die leiers is vir Suid-Afrika se sogenaamde “groen ekonomie”-strategie.

Die meeste energiebehoeftes van die lughawe sal voorsien word deur fotovoltaïese (PV-) panele. PV-tegnologie genereer elektrisiteit van die son af en verskaf ’n hernubare en skoon energiebron.

Molewa het gesê Suid-Afrika is besig met ʼn oorgang na ’n laekoolstof-hulpbron wat doeltreffend is vir ʼn groen ekonomie.

“Die prestasie by die George-lughawe is die gevolg van suksesvolle samewerking tussen die regering, instansies en die private sektor in die ontwikkeling van groen ekonomie. Die sonkraglughawe sal met kostedoeltreffende en hernubare prosesse werk. Ons verwag ook dat dit Suid-Afrika sal help om sy teiken vir verminderde kweekhuisgasvrystellings te bereik,” het Molewa gesê.

Sy het bygevoeg dat Suid-Afrika ’n beduidende vordering in die daarstel van hernubare energie gemaak het.

Ander inisiatiewe wat van stapel gestuur gaan word, sluit vragverskuiwing van pad- na spoorvervoer in die vervoerbedryf in, asook die bekendstelling van remme vir die herskepping van alternatiewe elektrisiteit by lokomotiewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eliza-beth ·

‘n Goeie voorbeeld, hopelik volg ander jul voorbeeld!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.