Geroep om te help

Skenkings aan Helpende Hand word verwerk en herverpak vir behoeftiges. (Foto: Verskaf deur Helpende Hand.)

Deur Rene Roux

Daar is niks anders wat my so trots maak om by Helpende Hand te werk, soos wanneer ek op sosiale media sien hoe besig en toegewyd en met ywer Helpende Hand se takke werskaf soos die mier waarvan die Woord praat. Elkeen wat as vrywilliger binne ons 160 takke landwyd werk, is werklik geroep om te help.

By die gemeenskapsentrum, Ons Plek, van Helpende Hand in die Strand het hulle die groot taak gehad om vir 70 gesinne kos te voorsien. Ons Plek verskaf voorskool- en nasorghulp vir behoeftige kinders in die Strand, maar met die algehele staat van afsondering moes die sentrum sluit. Die etes wat sommige van hierdie kinders daagliks by Ons Plek gekry het, was soms die enigste ordentlike ete van sy of haar dag.

Dus moes ons plan maak om ons gesinne te ondersteun in hierdie tyd. ’n Groot persentasie van ons ouers het ook hul werk reeds verloor, met ander woorde kontrakwerkers in ’n geen-werk-geen-betalingsituasie.

Ons kon dus deur skenkings van die Helpmekaar Noodfonds asook skenkings uit ons gemeenskap vir 70 gesinne help met vars produkte soos vleis, aartappels, uie en pampoen. Verder het ons ook ’n groot skenking appels gekry asook wors ter waarde van meer as R20 000. Nadat ons dus die 70 gesinne gehelp het, kon ons nóg 42 gesinne binne Kays-karavaanpark help met die wors en aartappels wat nog oor was.

“Vir my as bestuurder van die sentrum is dit ook wonderlik gewees om die Paasnaweek te kon ingaan met die wete my kinders gaan oukei wees – hul magies sou ten minste vol wees. Volgende week pak ons weer die taak aan met moed. Vir nou is ons net dankbaar vir elke dag se voorregte. En veral vir elke individu en maatskappy wat weekliks skenkings maak ten opsigte van hierdie doel,” sê Joey Lotter.

By Ons Plek in Derdepoort het die span aan ’n gemeenskapsprojek deelgeneem met die naam WeCook en die hutsmerk #WeCan. Helpende Hand het die publiek gevra om te skenk en ná slegs 24 uur was daar soveel mense wat hul harte oopgemaak het vir die sentrum se gesinne wat gevoed moet word.

Daar was 250 kg sop en 1,25 ton groente ingesamel en afgelewer om uit te deel, dus kon ons met behulp van die inisiatief van Helpende Hand 255 gesinne vir die hele Paasnaweek van kos voorsien.

Elkeen wat as vrywilliger binne ons 160 takke landwyd werk, is werklik geroep om te help. (Foto: Verskaf deur Helpende Hand.)

Saam met die Krisisfonds wat al op R4,7 miljoen sterk staan, het die Josef Silo’s al oor die R700 000 in kontantskenkings ontvang asook 420 Houers VOL Hoop vanuit die publiek – wat dus 420 gesinne vir twee tot drie weke kan voed.

Hierdie bydraes maak ’n enorme verskil in iemand se lewe wat regtig niks vir haar kinders kan voorsit om te eet nie.

Nou maak ons ’n draai in Mpumalanga: Jo-Ann van die Diamanttak, het al 476 maskers gemaak, steriel verpak en opgehang aan haar hek – vir mense om gratis te neem. Sy, haar ma en haar dogter (dus 3 geslagte vroue) is steeds hard aan die werk om nog maskers te maak.

Gemeenskapskrag is dié woord in die Vrystaat, waar Lettie Watt vir ons ’n groot skenking pampoen by ’n boer gekry het. Sommer vinnig was die bakkie vol gelaai en kon ons by ’n paar sentrums in Bloemfontein aflaai. Daar is belofte van nog baie pampoene wat volg!

Ons ontvang ook 90 pakkies sop vanaf Crown National Bloemfontein, waarvan ons die meerderheid by sentrums oor die hele stad afgelaai het, maar ook in individuele kospakkies ingesit het. In Bloemfontein verskaf die Gardenia Kwik Spar die gemeenskap ook met talle brode daagliks wat deur Helpende Hand se uitgedeel word.

Toe bel ek die mense in die Kaap en daar skep almal hoop vir mekaar! Behoeftige gesinne in Mosselbaai ontvang kospakkies deur die gemeenskap wat hande vat met die plaaslike tak.

Danksy ’n boer in die Paarl-omgewing kon ons heerlike nartjies skenk aan die La Belle ACVV Dienstak in Bellville en Huis Andrew Murray kinderhuis in Wellington.

In Limpopo se wêreld word die Krisisfonds wyd en syd bemark en hoop word gesaai en die publiek word aangemoedig om Helpende Hand te ondersteun en sodoende hul medemens te help.

Baie dankie aan AfriForum Margate en die voorsitter Barry Smit wat ’n groot kospakkieskenking moontlik gemaak het. Die Helpende Hand Suidkus-tak kon vir talle gesinne in nood verligting bring. Ons het groot waardering vir die ongelooflike skenking en ondersteuning!

Dankie ook aan ‘n plaaslike boer, Scott Kvalsvig, vir die skenking van piesangs wat saam met die pakkies kon uitgaan.

Dit is die gemeenskap wat saamstaan wat Helpende Hand se arms sterk maak sodat ons letterlik ‘n helpende hand kan wees in die behoeftige gemeenskappe.

Terug in Gauteng werk AfriForum en Helpende Hand hard saam, met die aflewering van handreinigers en maskers by die Nazareth-ouetehuis Waterkloof-aftreeoord en Kungwini-welsynsorganisasie.

Te danke aan nog ’n wonderlike skenking, kon twee pleeghuise wildswors ontvang om die kinders se honger magies te voed.

Jo-Ann van die Diamanttak, het al 476 maskers gemaak, steriel verpak en opgehang aan haar hek – vir mense om gratis te neem. Sy, haar ma en haar dogter (dus 3 geslagte vroue) is steeds hard aan die werk om nog maskers te maak. (Foto: Verskaf deur Helpende Hand.)

Danksy weldoeners uit die publiek en ook die deel van ’n skenking tussen twee streke, kon ons aan 86 bejaardes voedsel voorsien. Dankie aan Solidariteit Helpende Hand – Mpumalanga Streek wat bereid was om ’n skenking sampioene te deel. So ook aan die Emmanuel-aftreeoord wat hul kombuis oopgestel het sodat ons voedsel kon verwerk en voorberei.

As mens ’n skenking ontvang en dit is dalk oorryp (soos piesangs), dan maak mens ’n plan – ons gooi nie net weg nie. Dankie, Anika Boshoff van ons Krugersdorp-tak wat vir ons mense piesangbrode gebak het. Ons kon 135 mense voorsien van ’n vars gebakte piesangbrood.

Tot Ons winkels – wat nie mag oop wees gedurende die afsonderingstydperk nie – neem inisiatief met aanlyn veilings. Volg gerus die skakel om meer uit te vind by www.onswinkel.co.za

Vanaf die Kaap tot in die hartjie van Gauteng word ’n Helpende Hand geleen en inisiatiewe geskep uit die gemeenskap vir die gemeenskap! Skenkings word landwyd ontvang, verwerk en uitgedeel – als loop deur ’n volhoubare struktuur wat strategies aanmekaar gesit is deur kundiges in die welsynbedryf by Helpende Hand. Ons waardeer elke pampoen, elke masker, elke sent. En die behoeftige gesinne waardeer dit meer as wat mens ooit sal besef.

Ek glo van harte dat wanneer die staat van afsondering verby is, gaan ons ’n groter en sterker gemeenskap wees. Een wat saamstaan, opstaan, vorentoe staan en hardop sê “Ek is die Helpende Hand”.

  • Rene Roux is adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Estelle ·

Prys die Lewende God dat ons mense is wat kan en wat wil. Ons sit nie en wag, met ons wit brode onder elke arm, vir die regering om iets te doen nie. Nee, in krisis oomblikke vat ons mekaar se hande , rol die moue op en raak innoverend en besig.

Ek is in Namibia maar my kinders in SA. Ek salueer elkeen wat by Helpende Hand betrokke is, al kon jy net n pakkie sop gee. God sien jou hart en die hemele juig.
Welgedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.