Gerrit Pitout – die man agter skilderye van die Vrijheidsreis-uitstalling

Gerrit Pitout het ook ‘n oorkonde van die FAK ontvang vir die skilderwerk wat hy gelewer het. (Foto verskaf)

Gerrit Pitout, ʼn bekende landskapskilder van Pretoria, se reuse-olieverfpanele van die berge waarby die Voortrekkers tydens die Groot Trek verbygetrek het, pryk nou by die Vrijheidsreis-uitstalling in die Voortrekkermonument.

Soos die besoekers deur die uitstalling stap en die trek saam met die Voortrekkers meemaak, sien hulle Pitout se uitbeeldings van 1,8 m by 2,2 m van Winterberg, Blesberg, Kerkenberg (waar Debora Retief haar familienaam op die krans uitgekerf het), die Soutpansberg en ook die Magliesberg.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Pitout verlede week met ʼn oorkonde vereer vir sy kunswerke wat nou deel van die uitstalling uitmaak wat die Voortrekkers se strewe na vryheid uitbeeld.

Pitout se lewe en agtergrond

Pitout is op 2 Januarie 1953 in Klerksdorp gebore en is tans in die Jakarandastad woonagtig.

Pitout se pa, Tienie Pitout, was ’n kunsdosent en kuns het dus altyd sentraal in sy lewe gestaan. Pitout het reeds sy eerste uitstalling op 17-jarige ouderdom by Plaston in die Laeveld gehou. Hy het kuns by die Universiteit van Pretoria gestudeer en het sy honneursgraad in kunsgeskiedenis aan Unisa verwerf.

As ʼn mens Pitout se kunswerke bestudeer, is dit duidelik dat Pierneef ʼn groot invloed op sy kunsstyl het. Sy werk is internasionaal in lande soos Israel en die VSA uitgestal.

Die proses

Gerrit Pitout besig om een van die reuse-olieverfpanele te skilder vir die Vrijheidsreis-uitstalling in die Voortrekkermonument. (Foto verskaf)

Pitout pak sy werk met groot presisie aan, amper “soos ’n skaakspel”.

Hy verduidelik dat hy vier skuiwe vooruit beplan en presies weet watter effek sy kwashale later in die prent gaan hê.

Pitout skep graag atmosfeer met sy kuns en fokus daarop om diepte in sy natuurtonele te skep. Met die aardse kleurpalet kry elke toneel lewe.

Hy stel dit so: “Die belangrikste van enige kunswerk lê in diepteperspektief, kleurbalans en atmosfeer. Ek maak nie net ʼn prentjie nie; my landskappe dra ʼn boodskap wat die waarnemer sal raaksien en ervaar. En dit is dán wanneer ek tevrede is met die eindproduk.”

Pitout hou ook daarvan om deeglike navorsing te doen voor hy ’n skildery aanpak. Deur na talle foto’s en perspektiewe te kyk, vorm hy die finale produk. Hy sal dikwels ook self die toneel besoek om ’n ware ervaring en gevoel aan die skildery te kan gee.

Die skilderye

Daar is in totaal ses skilderye van Pitout wat teen die mure van die Vrijheidsreis-uitstalling pryk. (Foto verskaf)

Daar is in totaal ses skilderye van Pitout wat teen die mure van die Vrijheidsreis-uitstalling pryk. Vyf van hierdie is die pragtige natuurtonele van die berge waarby die Voortrekkers verbygetrek het. Dit is hierdie vyf skilderye wat Pitout spesiaal vir hierdie uitstalling geverf het.

Pitout het as medium growwe doeke aangevra vir hierdie projek en die rame is spesiaal laat maak. Elkeen van die skilderye het vyf weke geneem om te voltooi.

Die sesde skildery het Pitout in 2021 aan die Voortrekkermonument geskenk. Dié skildery het in dr. Danie Langner, die besturende direkteur van die Voortrekkermonument, se kantoor gehang, maar is na die uitstalling geskuif en is nou in die Moerdijk-kamer te sien omdat dit ’n pragtige voorstelling van die monument self is.

Volgens Langner dra Pitout se ongelooflike talent soveel by tot die atmosfeer van die uitstalling. Die tonele herinner aan die “verlate vlaktes”. Die ongetemde land waardeur getrek is en die eensaamheid van die omgewing is puik raakgevat in hierdie tonele.

Vir hierdie projek wou Pitout fokus op die atmosfeer wat sy werke skep; met diepte en perspektief.

Pitout vertel hoeveel hierdie projek vir hom beteken. Hy het dit nie net gedoen vir die Afrikaner nie, maar ook vir die Suid-Afrikaner wat graag meer wil leer van die geskiedenis en die pragtige landskappe van die land wil verken.

“Dit is vir my ’n geweldige eer. Ek kan nie beskryf wat dit vir my beteken om my skilderye tussen mense soos WH Coetzer en Pierneef sʼn te sien nie,” sê Pitout.

Besoek die Voortrekkermonument en die nuwe Vrijheidsreis-uitstalling om hierdie skilderye self eerstehands te beleef. Besoek gerus www.artpitout.co.za vir meer oor Pitout se werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.