Gert-Johan Coetzee skenk R180 000 mode-ontwerp studiebeurs

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Gert-Johan Coetzee is op soek na ʼn talentvolle, hardwerkende student wat in sy voetspore kan volg en daarom stel hy ʼn mode-ontwerp studiebeurs beskikbaar om sy opvolger op te lei.

Aansoeke vir die GJC-beurs 2016 ter waarde van R180 000 is nou oop. Die gelukkige kandidaat se studiekoste sal gedek word tydens ʼn internasionaal-aanvaarde kursus oor drie jaar by die Northwest School of Design in Klerksdorp. Die kandidaat sal ook persoonlik deur die ontwerper gementor word. Die wenner sal ook in aanmerking kom vir die splinternuwe internskap-program wat deur Brutal Fruit geborg word. Die beurs sluit ook ʼn Bernina SA naaimasjien en ʼn omkapmasjien in, ter waarde van R35 000.

“Daar is baie rou talent in Suid-Afrika en die modebedryf groei so vinnig dat daar regtig werksgeleenthede is vir goed opgeleide en talentvolle professionele mense,” sê Coetzee, wat bekend is vir sy rooitapytrokke vir plaaslike en internasionale  sterre. “Ek besef hoe gelukkig ek is dat ek kan doen waarvoor ek lief is en ook ʼn sakesukses daarvan kon maak. Daarom is dit vir my belangrik om te help om die volgende generasie se talent te ontwikkel, om ook vir hulle ʼn voet in die deur te gee in hierdie baie mededingende bedryf.”

Dit is die sesde jaar dat die ontwerper ʼn beurs beskikbaar stel vir ʼn belowende student wat nie andersins sy of haar mode-droom kan laat waar word nie. Verlede jaar se wenner, Christopher Gill van Lephalale (27) was vasgevang in ʼn valerige werk as verkoopsman, terwyl hy maar in sy vrye tyd vir mense rokke gemaak het om sy passie uit te leef. “Ek was, nes Gert, van kleinsaf lief vir mode en kleremaak, maar daar was geen manier dat ek myself daarmee kon onderhou, of verder kon gaan leer het om my te bekwaam nie,” vertel Gill. Nou is hy amper klaar met sy eerste jaar aan die Northwest School of Design en kan nie glo hoe sy toekomsmoontlikhede verander het nie.

Vanjaar is daar ook ʼn opwindende nuwe aspek aan die beursprogram: Brutal Fruit borg ʼn vierde-jaar internskap vir die beursstudent wat vanjaar afstudeer. As die eerste ontvanger van die Brutal Fruit Fellowship sal Prudence Kau, wat in November haar internasionale kwalifikasie van NWSD ontvang, in 2016 by Gert-Johan Coetzee se ateljee verdere indiensopleiding ontvang om haar te bekwaam vir ʼn internasionale professionele lisensie in mode-ontwerp. “Ons is so opgewonde dat Brutal Fruit by ons aansluit en dit moontlik maak dat ons nou ekstra opleiding op ʼn professionele lisensievlak kan voorsien,” sê Coetzee.

Vanjaar se beursaansoeke is nou oop en aspirantontwerpers met ʼn senior-sertifikaat matriek of ʼn internasionale ekwivalent het tot 12 Oktober 2015 om aansoek te doen. Hulle moet twee modesketse en ʼn inspirasiebord instuur met die tema “Uptown Cool”.

“Ek soek iemand wat passievol is en vasberade is dat niks in sy pad sal staan nie,” verduidelik Coetzee. “Ja, daar moet ook talent wees, maar ons kan iemand tegniek aanleer – dis die gesindheid wat die wenners laat uitstaan bo die res.”

Christopher Gill se raad aan jongmense wat wil inskryf, is om reg te maak vir harde werk. “ʼn Mens leer ongelooflik baie, maar dit vra toewyding want dis veeleisend. Dis regtig bedoel vir mense wat ʼn groot passie het om te leer oor mode en ontwerp. As jy louwarm is, gaan dit nie werk nie!”

Belangstellendes moet die aanlyn-aansoekvorm wat by www.nwsd.co.za beskikbaar is, invul en instuur saam met die dokumentasie wat op die webwerf gespesifiseer word. Die sluitingsdatum is 12 Oktober.

“Ek kan nie wag vir die inskrywings nie… dit inspireer my om te sien hoe baie jong talent ons het,” sê Coetzee. “My droom is om eendag op Instagram te sien dat ʼn Oscarwenner een van my voormalige beursstudente bedank vir haar rooitapytrok. Dit sal die toppunt van sukses wees! En wie weet, dalk is vanjaar die jaar wat ons daardie jong talent vind en op hulle paadjie boontoe begin stuur!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nicolette ·

So bly Gert-Johan het Christopher Gill se talent laas jaar raak gesien en hom n kans gegee, hy het in Lephalale soveel matrieks laat skitter op hul afskeid, hy het onder andere my seun se klere ook gemaak.Bou op jou talent en gebruik dit dit is n gawe van Bo en moenie skaam wees om dit te gebruik nie.Mag al die studente wat raakgesien en n kans gegee word deur Gert-Johan n sukses wees.BAIE DANKIE GERT-JOHAN JY IS ABSOLUUT AWESOME MAG JOU LOOPBAAN NET GROTER HOOGTES BEREIK.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.