Gesin dankbaar vir reddingspogings ná tiener hartaanval kry

Stuart Groves en Gary Paul. (Foto: Verskaf)

Stuart Groves en Gary Paul. (Foto: Verskaf)

ʼn Johannesburgse gesin het onlangs ʼn spesiale middagete gereël om dankie te sê aan die man wat hul 16-jarige seun se lewe in April vanjaar op ʼn strand in Umhlanga gered het.

“As ʼn familie is ons so dankbaar dat ons kosbare seun ʼn tweede kans gekry het,” het Jacqui Groves, Stuart Groves se ma, luidens ʼn mediaverklaring deur Netcare 911 vertel.

Toe Stuart tydens ʼn gesinsvakansie skielik inmekaar sak, het Groves vir die ergste gevrees.

“Ek sou nooit kon dink dat my klaarblyklik gesonde seun ʼn hartaanval sou kry tydens ʼn ligte speletjie langs die see nie,” het sy gesê.

“Ons het na hom toe gehardloop en toe ek hom omdraai, kon ek sien sy lippe, gesig en ore was besig om potblou te raak. Dit was ongelooflik angswekkend.”

Groves het bykans 40 jaar gelede opleiding in kardiopulmonêre resussitasie of mond-tot-mond-asemhaling ontvang, en sy en haar man het dit dadelik op hul seun begin toepas terwyl lewensredders van eThekwini mediese hulp ontbied het.

Gary Paul, operasionele bestuurder by Netcare 911 in KwaZulu-Natal, was nie aan diens nie toe hy en ʼn kollega na ʼn nabygeleë strand op pad was. Hulle het die noodoproep oor Stuart vanaf Netcare 911 se beheersentrum hoor inkom.

Paul en sy kollega was naby aan die noodtoneel en het dadelik soontoe gery, waar hulle binne vier minute op die toneel aangekom het. Lewensredders was toe reeds besig om mond-tot-mond-asemhaling op Stuart toe te pas.

“Stuart se hart het ophou klop en hy het geen teken van lewe getoon nie. Ons het hom dadelik aan ʼn lewensondersteuningstoestel gekoppel en ʼn dokter, wat toevallig ten tyde van die voorval op die strand was, het ook haar hulp aangebied,” het Paul vertel.

Sowat 40 minute later, nadat die Netcare 911-span Stuart ʼn reeks elektriese skokke toegedien het, het hy weer op sy eie begin asemhaal. Nadat hy stabiel verklaar is, het paramedici hom na die noodafdeling van die Umhlanga-hospitaal gehaas, waar ʼn span ervare mediese personeel hulle ingewag het.

Stuart het reeds die volgende oggend sy oë oopgemaak en binne enkele dae was hy by sy volle bewussyn. Hy was altesaam 19 dae in die hospitaal en Paul het hom en sy gesin gereeld daar besoek. “Al het ons vir Stuart suksesvol bygebring, was ons steeds bekommerd dat daar langtermyn skade sou wees omdat hy so lank bewusteloos was.”

Stuart is gediagnoseer met ʼn genetiese hartdefek bekend as hipertrofiese kardiomiopatie, wat beteken die wand van die linkeraar van die hart verdik. ʼn Interne defibrilator sal nou help verhoed dat hy weer dieselfde hartverwante noodtoestand ontwikkel in die toekoms.

Groves beskryf haar seun se herstel as niks minder nie as ʼn wonderwerk en sê dat Stuart vandag gesond is en presteer op skool. “As ʼn ma sidder ek om te dink hoe anders dinge kon wees en hoe bevoorreg ons is dat alles so goed uitgewerk het vir Stuart.”

Volgens Paul is dit ʼn roeping om by die nooddienste aan te sluit. “Selfs wanneer ons nie tegnies aan diens is nie, is ons paraat vir noodgevalle waar ons mense se lewens moet red. Ek het altyd my toerusting by my in die motor sodat ek voorbereid is vir situasies, soos dié van Stuart op die strand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tania ·

Maroela jul feite is inkorrek. Dit moet lees ‘wand van die ventrikel van die hart verdik’… Selfs dit is ń baie wye beskrywing maar linkeraar is nie reg nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.