Ons het die afgelope jaar geleer om die mense vir wie ons lief is, te waardeer. Ons het geleer om spesiale oomblikke te koester en kosbare tyd saam te geniet.
Met Gesinsdag wat in April gevier word, het Maroela Media dit goedgedink om ʼn gesin te bederf met ʼn spesiale geskenkpak ter waarde van R2 300! Want wat is dan nou lekkerder as om tyd saam te spandeer as gesin?!
Ons het talle inskrywings gekry en mense wat ons beoordelaarspaneel se harte aangeraak het, maar Jan-Viljoen en Colette Coetzee van Pretoria is uiteindelik Woensdag aangewys as die wenners van die gesinsdagkompetisie.
Colette sê hulle gesin is “die ongelooflike vyf Coetzees”. “Ons hou van lekker lag en lekker eet! Braaivleis en melktert is ons gunsteling en ons braai elke Sondag,” het sy in haar inskrywing gesê. Ons kyk graag fliek elke Vrydag of Saterdagaand, in die gerief van ons eie huis, met hoender- of ribburgers op die spyskaart. Ons is mal oor kamp en vakansie hou. Ons bid graag saam en onthou waar ons Krag vandaan kom. Ons gesin is nie perfek nie, maar ons is perfek vir mekaar!”
Colette sê hulle is ‘n fantastiese gesin: bymekaar gesit deur die Meester wat nooit ‘n fout maak nie. “Ons: bid vir mekaar, ondersteun mekaar, vergewe mekaar, glo in mekaar, lief mekaar, dra mekaar en bly bymekaar, vir ewig saamgebind deur Sy liefde! Op die ou einde is alles net genade!”
Die gesin, Jan-Viljoen, Colette en hul kinders Janeco (17), Ivander (13) en Anje-Lika (8) word bederf met ʼn geskenkpak uit Maroela se aanlyn winkel, Die Koöperasie.
Hulle wen:
- Een paar Maroela-velskoene vir pa – 12
- Een paar Maroela-velskoene vir ma – 8
- Een Boereplaas-bordspeletjie met ʼn uitbreidingstel
- Vier egte boereporselein Maroela-blikbekers
- Vier egte boereporselein Maroela-blikborde
- Een sakkie koffie (Oom Boet se boeretroos)
- En ʼn melktertmeesterstel
Nog ʼn gesin wat ons harte aangeraak het, is Warren en Weroneca Hendricks van Atlantis in die Wes-Kaap. Dié gesin van vyf (pa Warren, ma Weroneca, Zoe Hesselman (15), Carter (8) en Cade (1) wen ʼn troosprys in ons gesinsdagkompetisie. Weroneca sê hulle spandeer graag tyd saam om ʼn lekker vuurtjie en om ʼn vleisie op die kole te gooi. “Ons hou ook graag fliekaande in ons voorkamer en kyk ʼn fliek of twee terwyl ons springmielies en ander versnaperinge geniet.”
Sy sê die afsonderingstyd het ons kom leer hoe lekker gesinstyd is. “In die middae teken ek prentjies en my kinders verf dit dan – hulle sien altyd uit daarna! Dan word dit gelamineer en teen hul kamermuur opgeplek. Dan is daar weer dae waar ek en my man kaarte speel, musiek luister en oor enigiets sal gesels. Ons het nog nooit ʼn kompetisie gewen nie, so dit sal baie vir ons beteken.”
Maroela bederf ook graag die Hendrickse met ʼn spesiale geskenkpak as troosprys.