Geskiedenisolimpiade nou vir hoërskole én laerskole aangebied

(Foto: Verskaf)

Stel jy belang in geskiedenis of het jy dit as vak op skool? Dan het die FAK die ideale geleentheid om jou kennis te toets en uit te brei.

Die FAK se Nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade – ’n aanlyn toets vir leerders van gr. 8 tot 12 – word in 2021 vir die tweede keer aangebied. Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis met drie hoofafdelings, nl. Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis.

Vanjaar is die tema die Pionierstydperk (1652 tot 1820). Vyf e-publikasies oor hierdie tema is opgestel om as bronne te dien vir vanjaar se toets.

Die geskiedenisolimpiade sal uit twee rondtes bestaan. Die eerste rondte behels ’n aanlyn vraestel wat bestaan uit veelkeusige vrae met drie verskillende afdelings.

Die afdelings is soos volg ingedeel:

  • Afdeling 1: Afrikaanse taalgeskiedenis sal vrae hê oor die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans tydens die Pionierstydperk (1652 tot 1820).
  • Afdeling 2: Afrikanergeskiedenis sal vrae insluit oor die Pionierstydperk (1652 tot 1820). Drie e-publikasies is beskikbaar: Algemene inligting, monumente en erfenisterreine, asook belangrike persone.
  • Afdeling 3: Westerse geskiedenis sal die kennis toets oor gebeurtenisse wat tussen 1652 en 1820 plaasgevind het, soos die Bataafse oorlog; Napoleontiese oorloë; herroeping van die Edik van Nantes; Franse Hugenote; Britse Setlaars; Martin Luther; Franse rewolusie.

Diegene wat deurdring tot rondte 2 kry spesifieke onderwerpe oor hierdie Pionierstydperk en moet dan ’n opstel skryf waar standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets word. Om deur te dring tot rondte twee moet ’n kandidaat minstens 80% in rondte 1 behaal het.

Alle deelnemers ontvang ’n deelnamesertifikaat. Almal wat deurdring tot die tweede rondte ontvang ’n medalje sowel as ’n erkenningsertifikaat.

Pryse sal soos volg wees: Die algehele wenner ontvang R5 000; tweede prys R2 500 en derde prys R1 000. Die wenskool ontvang R10 000 en ’n FAK-Wisseltrofee vir geskiedenis.

Die wenskool sal bepaal word na aanleiding van die aantal leerders per skool wat deelneem en ’n sekere persentasie ontvang.

Laerskole

(Foto: Verskaf)

Die FAK se Nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade word ook vanjaar vir laerskoolleerlinge aangebied in die vorm van ’n aanlyn toets vir leerders van gr. 4 tot 7. Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die bronne vir die laerskole se Geskiedenisolimpiade is die Patriot Troefkaarte, ’n plakkaat oor die patriotte en die boekie Klopdisselboom: idiome oor waens en trekdiere. Skole wat deelneem, sal een stel kaarte, ’n plakkaat en ’n idiomeboekie gratis ontvang. Verdere stelle kaarte kan teen R100 met koeriergeld en die Idiome-boekie teen R50 met koeriergeld by die FAK aangekoop word.

Die leerlinge moet die Patriot Troefkaarte-speletjie speel – hetsy in die klas of by die huis – om hulle te help om die inligting oor die patriotte te leer vir die aanlyn toets. Die idiomeboekie moet deurgewerk word sodat die leerlinge veelkeusige vrae daaroor sal kan antwoord.

Alle deelnemers ontvang ook ’n deelnamesertifikaat.

Pryse sal soos volg wees: Die algehele wenner ontvang R1 000; tweede prys R500 en derde prys ’n gratis toer deur die Voortrekkermonument. Die toptienleerders sal ook elk ’n pakkie Patriot Troefkaarte en ’n Tydtoer-speletjie ontvang. Die wenskool ontvang R5 000 en ’n FAK-Wisseltrofee vir geskiedenis.

Die wenskool sal bepaal word na aanleiding van die aantal leerders per skool wat deelneem en ’n sekere persentasie ontvang.

Leerders kan nou reeds vir hierdie geskiedenisolimpiade by Olimpiade.co.za inskryf. Alle navrae kan gerig word aan [email protected].

(Grafika: Verskaf)

Belangrike datums vir hoërskooldeelnemers:

Eerste rondte – aanlyn toets word geskryf op Dinsdag 24 Augustus 2021

Tweede rondte – opstel moet aanlyn ingedien wees teen 17 September 2021

Belangrike datums vir deelnemers van laerskole:

Eerste rondte – aanlyn toets word geskryf op Dinsdag 17 Augustus 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Misky ·

Blink plan en mal oor sulke kompetisies!!!! Kan ons nie maar ‘n veteraan span (skool) begin nie – ha ha ha ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.