Geskiedkundige kakebeenwa kry nuwe tuiste

Die Laas-wa kan besigtig word in die senotaafsaal van die Voortrekkermonument. (Foto: Christiaan de Beer/Bear Corp Productions)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydag ʼn gerestoureerde ossewa wat deel was van die Groot Trek by die Voortrekkermonument in Pretoria onthul.

Dié kakebeenwa, wat as die Laas-wa bekend staan, is een van net ʼn handjievol ossewaens uit die Groot Trek wat behoue gebly het. Dit dateer van ongeveer 1826 en het boonop die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 oorleef.

“Ek het al nagedink of ʼn wa of wawiel as simbool nie te verouderd en uitgedien is nie,” het Barend Uys, sekretaris van die Laas-Voortrekkerfamiliebond, by die onthulling gesê.

“Wanneer ʼn mens egter daaroor gaan nalees is dit duidelik dat die simboliese betekenis van ʼn ossewa op die wapenskild ‘draer van kultuur’ is. Dus, ʼn voertuig wat kultuur neem van waar dit is tot waar dit kan wees.”

Uys meen die Laas-familie se bond is juis dít:  ʼn Voertuig wat wil bydra om dié familie en Afrikaners se erfenis die toekoms in te dra.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, beskou die Laas-wa-onthulling as die totstandkoming van ʼn nuwe model vir kulturele en historiese bewaring.

Die Laas-wa kan besigtig word in die senotaafsaal van die Voortrekkermonument. (Foto: Christiaan de Beer/Bear Corp Productions)

“ʼn Nuwe model is besig om te ontwikkel waar Afrikaner-erfenis en kultuurskatte bewaar word deur ʼn vennootskap tussen instellings soos die Voortrekkermonument, die Erfenisstigting en die FAK, families en die gemeenskap.”

Die Laas-Voortrekkerfamiliebond is vroeg in 2021 tot stand gebring om Francois Lotz, ʼn agter-agterkleinkind van die Voortrekker AMJ Laas, se strewe na erfenisbewaring voort te sit. Lotz het hom jare lank beywer om vir die Laas-wa ʼn veilige tuiste te vind wat meer mense in staat sou stel om dit te besigtig.

Francois en Bettie Lotz. (Foto: Verskaf)

Lotz en sy vrou, Bettie, is albei in Januarie weens Covid-19 dood. Hennie Laas, direkte afstammeling van Hendrik Beltsazar Laas, nou voorsitter van die Laas-Voortrekkerfamiliebond, en die res van die familie het toe die familiebond gestig en in samewerking met die FAK gewerk om dié wa te restoureer en eindelik by die Voortrekkermonument vir bewaring en besigtiging te plaas.

Die vervaardiger van die Laas-wa was moontlik Gert Maritz (1797-1838), ʼn bekende wamaker van Graaff-Reinet en latere Voortrekkerleier.

Johannes Andries Marthinus Laas (1812-1884) en sy vrou, Sara Johanna (née Odendaal, gebore 1811), het teen die einde van Oktober 1837 as lede van Karel Landman se geselskap by die Groot Trek aangesluit met dié wa as vervoermiddel. Volgens familie-oorlewering was die wa tydens die Slag van Bloedrivier een van die Voortrekkerwaens in die Wenkommando-laer.

JAM Laas en sy vrou het drie kinders gehad. Hulle oudste seun, Andries Marthinus Johannes Laas (gebore 1836), het die hele Groot Trek meegemaak. Hul tweede seun, Johannes Casparus, is op 17 Mei 1838 tydens die Trek gebore en hul dogter, Susanna Engela, is in 1849 gebore en in Pietermaritzburg gedoop.

Voor: Johannes Andries Marthinus Laas (1812-1884) en sy vrou Sara Johanna (née Odendaal, gebore 1811)
Agter: Hulle seuns, Andries Marthinus Johannes Laas (links, gebore 1836), het die hele Groot Trek meegemaak en hul tweede seun, Johannes Casparus, is op 17 Mei 1838 tydens die Trek gebore (regs). (Foto: Verskaf)

JAM Laas en sy vrou het hulle later in die Wakkerstroom-distrik van die ZAR gevestig waar hy die plaas Welgevonden en ook gedeeltes van die plase Strydkraal en Holfontein besit het.

Susanna Engela Laas, wat in 1867 met Hermanus Johannes Pieterse getroud is, het uiteindelik die Laas-wa by haar ouers geërf. Hul dogter Hermina Johanna (gebore 1886) het die wa weer by haar ouers geërf. Sy het dit later aan ʼn familielid, Hendrik Beltsazar Laas, geskenk, wat besef het dat die wa ʼn kulturele skat was.

Hendrik Beltsazar Laas het toe die wa vir bewaring aan Laerskool Amersfoort oorgedra.

“Die laerskool het die ossewa vir baie jare baie mooi opgepas,” sê Uys. “Ek dink ʼn mens moet hier spesifiek die skoolhoof, mej. Annemarie Labuschagne, bedank vir haar rol in die bewaring van hierdie geskiedkundige wa.”

Uys sê dit is wonderlik dat hulle as familiebond sy oom Francois se droom kan verwesenlik, sy nalatenskap kan vereer en dat ander Afrikaners nou meer oor dié ossewa en dié familie sal kan leer.

Die Laas-familiebond het toegesien dat die wa deur prof. Erik Holm, afgetrede entomoloog en restoureerder van ossewaens, gerestoureer is en met die hulp en ondersteuning van die FAK bemiddel dat die wa nou ʼn waardige uitspanplek by die Voortrekkermonument kon vind.

Holm het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê dat die restourasieproses sowat ʼn maand geduur het. Hy het onverpoosd saam met sy span gewerk om hierdie proses te voltooi.

“Dit is ʼn taak wat met oorleg aangepak en voltooi moet word. Jy wil niks van die oorspronklike ontwerp en vakmanskap van dié ongeveer 200 jaar oue wa laat verlore raak nie anders vernietig jy historiese waarde.”

Een van die kakebeenwa se wiele voor dit gerestoureer is. (Foto: Verskaf)

Holm meen dié restourasie was een van die grootste voorregte wat hom te beurt geval het. Hy restoureer al van 1983 af ossewaens en het sedertdien al sowat 100 waens opgeknap.

Volgens Holm het die ossewa ʼn deurslaggewende rol in die ontwikkeling van Suider-Afrika gespeel: Van die migrasie van verskillende groepe setlaars tydens die 18de tot laat 20ste eeu, vervoer van swaar toerusting deur transportryers van kushawens na die nuwe mynbougebiede in die Noord-Kaap en die ou Transvaal, tot ʼn mobiele tenk en blokhuis gedurende die Anglo-Boereoorlog en, voor die algemene gebruik van motorvoertuie, as algemene vervoermiddel van mense en hul bagasie.

Uys het die hoop uitgespreek dat Afrikaners opnuut deur die storie van die Laas-wa geïnspireer word om met skeppende vernuwing, maar gegrond op beproefde waardes en ervaring, in geloof, ʼn toekoms te bou.

Die Laas-wa-onthulling was ʼn geskiedkundige geleentheid wat deur verskeie families bygewoon is. Theuns Laas, Hennie Laas (voorsitter van die Laas-Voortrekkerfamiliebond), Jannie Laas, Kotie Laas, Marina Adam en Petro Jooste, direkte afstammelinge van Hendrik Beltsazar Laas wat die wa oorspronklik aan Laerskool Amersfoort geskenk het, het die onthulling bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Groen Ghoen

Wat ‘n ware waardige waardevolle wa! Hoe sal ons moderne “waens” oor 200 jare lyk?

jzjz05

Laat n Afriekaner hart swel van trots op ons voorgeslag ,

Johannes

Baie interessant berig moes dit deel.Wow dankie vir die berig en fotos