Geskiedkundige vlag nou deel van VTM-versameling

Nico Moolman (regs), oorhandig ‘n Republiek van Natalia-vlag aan dr. Danie Langner (links). (Foto: Verskaf)

Nico Moolman, skrywer, amateurhistorikus en versamelaar van outentieke Afrikaner-kultuurerfenis, het ʼn Republiek van Natalia-vlag aan dr. Danie Langner, besturende direkteur van die VTM, oorhandig.

Moolman het dié oorhandiging beskryf as “ʼn stukkie uitruilkultuur van die Buskruit en Laventel-museum na die Voortrekkermonument se museum.” Die Buskruit en Laventel-museum word deur Moolman op sy plaas buite Utrecht in KwaZulu-Natal, bedryf.

Die Republiek van Natalia was ʼn Boererepubliek met ʼn kortstondige bestaan. Dit is in 1839 deur Natalse Voortrekkers gestig kort ná die alombekende Slag van Bloedrivier. Die republiek was aan die kus van die Indiese Oseaan, ten noorde van die Oos-Kaap geleë en is tevore Natalia genoem deur Portugese seevaarders. Die republiek is in 1843 deur Brittanje beset en geannekseer.

Op 31 Mei 1844 is Natal as ʼn aparte distrik onder beheer van die Kaapkolonie geplaas, en in Desember van die volgende jaar is ʼn luitenant-goewerneur met verskeie departementshoofde na Natal gestuur. Britse heerskappy sou 66 jaar duur totdat Natal op 31 Mei 1910 deel van die Unie van Suid-Afrika sou word.

In meer as een opsig het die bloed wat die Voortrekkers in Natal gestort het, die weg vir Britse immigrasie en die verdere ontwikkeling van Natal gebaan.

“Dit is werklik ʼn eer en ʼn voorreg om so ʼn skenking te ontvang. Hierdie is nie net ʼn stuk van ons geskiedenis nie, maar die vlag self, is ʼn stuk geskiedenis,” sê Langner.

Die vlag sal binnekort by die VTM uitgestal word waar die publiek dit kan besigtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Dis ‘n pragtige unieke vlag. As ons eendag ons eie land het kan ons dit asb gebruik: Ons Afrikaners?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.