Gesoek: ’n Tuiste vir 20 halfwilde leeus

CJ Carrington en Paul Oxton, bestuurspan van die Wild Heart-natuurlewestigting. (Foto: Verskaf)

Die Wild Heart-natuurlewestigting in Johannesburg het onlangs ʼn projek van stapel gestuur om ʼn veilige hawe vir 20 leeus te vind wat in aanhouding gebore is.

Volgens Paul Oxton, stigter en direkteur van dié stigting, kan die leeus van die #Life4Lions-projek wat in aanhouding geteel is nooit in ʼn natuurlike habitat vrygelaat word nie, maar slegs in veilige en kleiner reservate gehuisves word.

“Die geriewe waar die leeus tans aangehou word, is oorvol en die roofdiere sal binnekort uitgeplaas moet word om hulle oorlewing te verseker.”

Verskeie van die leeus het reeds inentings, veeartsenykundige sorg en mikroskyfies in die eerste fase van dié projek ontvang. Twee leeumannetjies, Rafiki en Hatari, is ook gesteriliseer om te verseker dat daar nooit met hulle geteel kan word nie. Dit help om die leeus te beskerm teen enige uitbuitende praktyke soos blikjag- en onetiese teelbedrywe, wat gewoonlik uitloop op die onwettige handel van leeubeendere.

Wild Heart het ʼn skarefinansieringsveldtog van stapel gestuur op die BackaBuddy-platform om die verskuiwing en vervoer van die halfwilde majestueuse wesens te finansier.

Die geld wat deur dié projek ingesamel word, sal ook gebruik word om vir veeartsenykundige prosedures, sorg en ondersoeke te betaal. Dit sal verder aangewend word om die vervoerkoste te dek vir besoeke aan potensiële reservate en veilige hawens vir lede van dié groep leeus.

Rafiki, die leeumannetjie. (Foto: CJ Carrington)

Met die tweede fase van die #Life4Lions-projek wil die stigting R27 500 insamel en het reeds meer as R2 600 van skenkers hiervoor ontvang.

“Ons glo dit is ons taak om te verseker dat hierdie groep leeus die kans kry om so gelukkig en vry moontlik te wees, sonder menslike wisselwerking of uitbuiting.

“Daar is tans net te veel leeus in aanhouding in Suid-Afrika en die verwoestende werklikheid is dat talle van dié diere uiteindelik aan geblikte jaggeriewe verkoop word, of in die handel van leeubeendere eindig,” sê CJ Carrington, nog ʼn stigterslid van die organisasie.

Die Wild Heart-natuurlewestigting is ʼn klein niewinsgewende organisasie, wat glo in etiese natuurbewaring waar die welsyn van natuurlewe eerste kom.

  • Volg die Wild Heart-natuurlewestigting se werksaamhede op Facebook of besoek sy webwerf vir meer inligting.
  • Jy kan die #Life4Lions-projek ondersteun deur ʼn skenking op die BackaBuddy-platform hier te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Helene ·

As ek nou n miljoener was, het ek al die geld gegee! Dankie vr julle goeie daad en goeie werk wat julle doen.

Vrijburger ·

‘Fals nuus’ geblikte jag is verbode in SA. Gebruik weer emosie om geld in te samel.

ONTPS ·

Geblikte jag mag dalk “verbode” wees, maar dit gebeur nog. Net soos diefstal, motorkapings, moord, verkragting, ens. “verbode” is en nogsteeds plaasvind

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ek hoop hulle kry ‘n goeie tuiste gou. As ek die spasie en die plek gehad het, het ek hulle almal geneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.