Gesonde baba ná ginekoloog unieke operasie uitvoer

Nathi en Eunice Mahlangu met hul baba Thembelihle. Foto: Daleen Naudé/Middelburg Observer

Nathi en Eunice Mahlangu met hul baba, Thembelihle. Foto: Daleen Naudé/Middelburg Observer.

ʼn Ginekoloog en verloskundige van Middelburg, dr. Deon van der Merwe, het onlangs ʼn unieke operasie uitgevoer in die Life Midmed-hospitaal op dié dorp.

Van der Merwe het waarskynlik die lewe van ʼn vrou en haar baba gered ná hy twee keer in 17 weke ʼn keisersnee op Eunice Mahlangu uitgevoer het. Mahlangu het erge komplikasies ervaar tydens die 17de week van haar swangerskap.

“Sy het deur middel van in vitro-bevrugting swanger geraak en ʼn tweeling verwag. Op 17 weke het die een fetusbeen deur die serviks gedring ná sy vliese geskeur het. In so ’n geval aborteer die baba soms self, maar die swangerskap moet meestal beëindig word, veral wanneer dit ʼn tweeling is,” het dr. Louw Pistorius, ʼn spesialis in probleemswangerskappe, aan Maroela Media vertel.

Mahlangu se een baba is op 17 weke geaborteer deur middel van ʼn keisersnee. Sy het egter geweier dat die hele swangerskap beëindig moet word. “Dr. Van der Merwe het besluit om saam met die ma die pad te stap. Dit is ʼn uiters gevaarlike proses omdat infeksie in die baarmoeder kan ontwikkel. Die ma kan septiese skok opdoen, en haar en die ander baba se lewe word dan albei bedreig,” het Pistorius vertel.

Dr. Deon van der Merwe en sy vrou. Foto: Facebook via Deon van der Merwe

Dr. Deon van der Merwe en sy vrou. Foto: Facebook via Deon van der Merwe

Die ander baba is met die ma se vrugsak in die baarmoeder teruggeplaas en toegewerk. “Daar was ʼn ongelooflike groot kans dat die ander baba ook kon sterf. Dit word slegs in uiters spesiale omstandighede uitgevoer, juis omdat die ander baba se vliese beskadig kan word en daar ʼn groot kans op bloeding is. Daar was egter geen komplikasies nie, en sy het net ná 35 weke gekraam. Dit is maar die tweede keer in 15 jaar dat hy so ’n operasie uitvoer, ons is ongelooflik dankbaar.”

Mahlangu se tweede baba is ook deur middel van ʼn keisersnee gebore. “As dr. Van der Merwe nie bereid was om die pad saam met haar te stap nie, sou die ander baba ook gesterf het,” het Pistorius gesê.

Mahlangu en haar man, Nathi, se dogtertjie is heeltemal gesond en twee weke oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martha ·

Ek wil net my respek vir Dr van der Merwe bewys dat hy sy kennis en vernuf gebruik om ‘n pasiënt so by te staan. Hy het die ekstra myl gestap en ek glo dat sy pasiënt hom ewig dankbaar sal wees.

Melissa ·

Dankie aan Dr van der Merwe wat hierdie vrou & haar man gehelp het om hulle baba te red. Hulle sal jou ewig dankbaar wees.

Arrie ·

Ek was self ‘n pasiënt by Dr van der Merwe. hy het my dogter ook gered met ‘n nood keisersnit. Hy is ‘n fantastiese dokter en die dames wat by hom is kan gerus wees dat alles perfek sal verloop.

Amanda ·

Well done! Duidelik het die paartjie gesukkel om swanger te word, dus die in vitro, en om dan die babas te moes verloor, sou baie traumaties gewees het. Wat ‘n wonder van Bo wat ‘n dokter die nodige kennis bied om so iets te doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.