Gesondheidsreis word geslaagde aanlyn onderneming

Denise Robertson (Foto: verskaf)

In 2019 het Denise Robertson as derdejaarstudent in BA Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom, ’n Instagram-blad gestig om bietjie verveeldheid te sus en haar passie met die wêreld te deel. Vandag is sy aan die stuur van haar eie sakeonderneming.

Robertson het Sublime with Lime gestig as deel van haar gesondheidsreis. Na ʼn vakansie in Bali, waar gesonde eetgewoontes aan die orde van die dag is, het sy besef dat sy graag haar leefstyl en eetgewoontes wil verander.

“As mens gewoonlik met vakansie gaan, eet jy roomys en lekkergoed – almal tel gewig op. Maar toe ons in Bali was, het dinge vir my anders gelyk. Ek het nie doelbewus ander eetgewoontes daar aangeleer nie – dit het net gebeur, dis hoe die kultuur daar is.”

Met hierdie nuwe blik op kos het Robertson teruggekeer Suid-Afrika toe. Sy het van daar af begin eksperimenteer met verskillende kossoorte. Sublime with Lime het begin as uitlaatklep vir haar. Sy het haar reis met gesonde kos, oefening en nuwe resepte op dié blad gedeel.

In 2020 het Robertson ʼn honneursgraad in joernalistiek aan die NWU verwerf. Hierna is sy terug na haar tuisdorp George. Dit is hier waar Sublime with Lime behoorlik op die been gekom het.

Sy het begin deur bestellings te neem en dit sommer in haar ma se kombuis aanmekaar te slaan en te verpak. Daar is plaaslike koffiewinkels wat haar talente in die kombuis ingespan het om gesonder alternatiewe vir hul klante beskikbaar te stel.

Robertson het egter besef dat sy nie die pas waarteen sy gewerk het op die lang duur sou kon volhou nie. “Ek het daagliks 14 ure gewerk, ek het die besluit geneem om die onderneming uit te brei.”

Sy het hierna na ʼn groter, meer praktiese werkspasie begin soek – wat sy in George gekry het.

v.l.n.r. Anelia Fleetwood (vennoot), Enrique Calitz (bakker), Leanna Roman (Bakker), Candis Prins (verpakker/skoonmaker), Denise Robertson (eienaar/direkteur/stigter) (Foto: verskaf)

Robertson en Fleetwood

In Julie 2020 kyk Robertson die een aand MasterChef Australia.

“Die wenner word toe aangekondig en haar naam is Emelia. Soos wat ʼn liedjie in jou kop sal vassit, so het die naam in my kop gebly.”

Die volgende oggend het sy wakker geword met ʼn persoonlike boodskap van Anelia Fleetwood af. Nou dié is gebore en getoë in Lichtenburg, Noordwes, en sy was dringend op soek na gesonder alternatiewe vir sekere produkte wat sy nie kon eet nie.

“In Lichtenburg kry jy nie regtig sulke goed nie. Ek het toe die kans gewaag om vir Denise ʼn boodskap te stuur en haar raad te vra.”

Robertson het hierna skertsend opgemerk dat sy nie regtig vir Fleetwood raad wou gee nie. “Ek het gewonder of ek vir haar moet raad gee – want iets het vir my gesê dat ek haar eerder by die Sublime with Limespan moet betrek.”

In daardie stadium het Robertson lank gebid vir ʼn goeie vennoot en sy het gevoel dat sy die geleentheid moet aangryp.

“Ons het 13 tot 15 minute lange stemboodskappe vir mekaar begin stuur. Ek het haar naderhand betrek deur middel van Zoom, aangesien sy nog in Lichtenburg en ek in George was.”

Die aanlyn vennootskap het egter tot ʼn einde gekom toe Fleetwood aan die einde van verlede jaar George toe getrek het.

Intussen het Sublime with Lime vir albei geestelike groei teweeggebring. “Ons het besef dat die Here ons grondslag is – ons vertrou volkome op Hom.”

ʼn Nuwe begin vir Sublime with Lime

Die twee het toe in Desember verlede jaar die splinternuwe gesig van Sublime with Lime van stapel gestuur. Sedertdien het hulle al 17 winkels betrek waar hul produkte verkoop word.

“Ons het besef mense het daardie aangesig‑tot‑aangesig‑ontmoetings nodig. E-posse en selfs oproepe raak verlore langs die pad.”

Dus het hierdie twee lewenslustige jong vuurvreters besluit om hul produkte te bemark deur mense te gaan besoek. “Ons doelwit vir Januarie was om aan 10 winkels te kon verskaf – ons trek al by 17.”

Die droom was aanvanklik om 10 produkte vry te stel, maar na ʼn paar vergaderings met ʼn soortgelyke sakeonderneming in George, het hulle besef dat dit finansieel nie moontlik gaan wees nie. Die produkte het ook ʼn nuwe baadjie aangetrek, aangesien dit eers tuisgebakte produkte was wat Robertson sommer self aanmekaar geslaan het. Nou moet die produkte langer hou, anders verpak word en op ʼn ander manier verkoop en versprei word.

“Ons het een aand aan tien produkte gedink wat ons gaan vrystel. Ons was passievol opgewonde daaroor. Maar ons het besef dat jy nie die droom kan uitleef as jy nie finansieel daarvoor verantwoordelik kan wees nie.”

Tans is daar dus net drie produkte beskikbaar – wat soos soetkoek verkoop.

Een van die heerlike gesondheisprodukte wat Sublime with Lime verkoop (Foto: verskaf)

Nuwe geleenthede

Robertson keer volgende maand weer terug na die studentedorp waar Sublime with Lime begin het.

“Dis eintlik ʼn vakansie, maar ek gaan dit sommer gebruik om ʼn paar vergaderings in Noordwes en die Vrystaat te reël.”

Een van die doelwitte van die twee vrouens, is dat Sublime with Lime beskikbaar gestel word in dorpies waar gesondheidsprodukte nie aan die orde van die dag is nie.

“Almal vra vir ons wanneer ons aan Kaapstad gaan begin voorsien. Kaapstad is nie my prioriteit nie; ek wil die produkte na dorpe en stede neem wat dit regtig nodig het.”

Indien lesers meer inligting oor Sublime with Lime en hul produkte wil hê, kan hulle gerus die webwerf besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chantel ·

Sjoe, julle 2 girls. Ek wens julle net sterkte en baie seën toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.